Aarde bewe in die Noord-Kaap

Karoo_windpomp_skape_dam_ABrits.jpeg

(Argieffoto.)

Inwoners van die Springbok-omgewing in die Noord-Kaap het Dinsdag kort na middernag wakker geskrik van die gedreun van ’n aardskudding. Hoewel aardskuddings in dié myndorp nie ’n nuwe verskynsel is nie, word hierdie spesifieke skudding as ’n “groot een” beskou.

Selfs inwoners van Leliefontein en Garies, wat onderskeidelik 97 km en 118 km van Springbok geleë is, sê hulle het die skuddings gevoel.

Die raad vir geowetenskappe (CGS) het op sy webwerf bevestig die raad se seismologiese departement het ’n aardskudding om 01:39 sowat 40 km suidoos van Springbok waargeneem.

Volgens die CGS het die aardskudding 4,2 gemeet. Volcano Discovery het ook die aardskudding op sy webwerf bevestig en gesê die diepte van die skudding blyk 10 km te wees.

“Dit het soos ’n ontploffing geklink. Ons dakplate het gerammel,” vertel Ben Stone, ’n inwoner van Springbok.

“Ek het opgespring en deur die venster gekyk om te sien of daar iets in die dorp ontplof het. Ek het toe besef dit is nié ’n ontploffing nie.”

Volgens Stone het hulle al in die verlede aardskuddings beleef, maar nog nie só hewig nie.

Nikita Willemse het op Facebook gesê dit het gevoel asof haar hele huis gebewe het. Tamzen Engelbrecht het gesê dit het geklink asof ’n vragmotor voor haar huis omgeval het.

Inwoners van Nababeep en Concordia het op Volcano Discovery se webwerf geskryf dat hulle benoud en verward was.

Tony Long, ’n geoloog van Tzaneen, het aan Maroela Media gesê dié aardskudding kan as uitsonderlik beskou word, in vergelyking met die aardskudding wat Tzaneen Saterdagaand getref het. Dié aardskudding het 2,1 gemeet.

Die aardbewing wat tot op hede die grootste skade in Suid-Afrika veroorsaak het, het Tulbagh in die Wes-Kaap in 1969 getref. Dié skudding het 6,3 gemeet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

Nogal gereeld aardtrillings in die nuus. Gaan ons afstig van Afrika?