Aardklop: Diskoers – Die vakbondwese in onstuimige vaarwater

vaviDie moontlikheid van ‘n arbeidersparty was een van die kwessies wat Woensdag tydens die tweede Diskoers-gesprek by Aardklop Nasionale Kunstefees bespreek is.

Freek Robinson het met Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu, Flip Buys, voorsitter van Solidariteit en Pieter le Roux, arbeidsregkenner, gesels oor die vakbondwese en of die vooruitsig redding of rampspoed vir die land beteken.

Daar is ‘n definitiewe verandering in die vakbondwese, maar vakbonde moenie in partypolitiek betrokke raak nie, het Buys gesê. “Die doel van ‘n vakbond is eerder om die omstandighede van die werker te verander as om ‘n politieke rol in die land te speel.” Dit is egter belangrik om te weet dat ons nie alles in die hande van die staat kan los en kan aanneem dat hulle vir almal gaan sorg nie. Daarom is selfstandige instellings so belangrik,” het hy gesê.

Vavi het gesê die grootste probleme in die land vir die werkersklas bly steeds armoede, werkloosheid, ongelykheid en korrupsie. “Dit is waarom ek ongelukkig is. Werkloosheid is ‘n reusagtige probleem en ons land is ekonomies een van die ongelykste lande in die wêreld. Die rykes word al hoe ryker, en die armes word al hoe armer,” het hy gesê. “Die vlakke van armoede is erger as ooit. Ongeveer 14 miljoen mense in Suid-Afrika gaan slaap sonder iets in hul maag. Dit is ‘n groot krisis en ons moet dit nou stop. Ons land het ‘n donker toekoms, en elkeen moet inspring om te help. Ons moet groot druk op die regering plaas om verandering teweeg te bring.” Vavi het gesê werkloosheid word al hoe erger in die land en enigiemand wat dit nie wil erken nie, leef in ontkenning.

Samewerking tussen verskillende vakbonde

Vavi het erken hy is ‘n geharde sosialis. “Ek glo in onderwys vir almal. Ek glo in openbare vervoer vir almal. Daar is baie ooreenkomste tussen die verskillende vakbonde. Baie organisasies, soos Solidariteit, het reageer op ons versoek om saam te staan teen korrupsie.” Volgens hom is korrupsie die grootste bedreiging vir die toekoms van die land. “Daar gaan altyd ideologiese verskille wees, maar ons kan saam die werkers beskerm en seker maak dat daar regverdigheid in die werkplek is, dat lone regverdig is, dat werkers maklik die suksesleer kan klim. Ons het baie ooreenkomste en ons moet nie weghardloop van mekaar af nie.”

Volgens Buys is die grootste verskil tussen vakbonde, die ideologie oor ekonomie. Hy sê die privaat sektor is die lokomotief van die ekonomie. “Die vryemarkstelsel is die enigste stelsel wat kan werk.”

Hy het ook gesê daar is talle beleidsverskille tussen die verskillende vakbonde, maar die ooreenkomste is net so belangrik. Hy voeg by die krisis van korrupsie moet aangespreek word. “Internasionale studies en wêreldhandelsverslae toon daar is ‘n geweldige afname in sakevertroue weens die hoë vlakke van korrupsie in die land.”

Buys het ook gesê Solidariteit het al in die verlede hulp aangebied om ‘n tegniese kollege op te rig om ongeskoolde persone op te lei. “Ons is baie besorg oor maatskappye wat so min spandeer aan opleiding. Vakbonde sal ‘n rol moet speel om seker te maak dat mense beter opgelei word. Daar is geen kans op bevordering in jou loopbaan sonder opleiding nie,” het hy verduidelik.

Gewelddadige stakings

Vavi het gesê toe hy nog destyds deel was van Cosatu, was hy baie geskok oor die uitslag van ‘n ondersoek dat meer as 50% van werkers glo dat hulle nie enige resultate sal kry sonder geweld nie. “’n Studie deur die Universiteit van die Witwatersrand het gewys dat gewone Suid-Afrikaners glo dat niemand sal luister as jy nie minstens ‘n band aan die brand sal steek nie,” het hy verduidelik. “Dit is uiters gevaarlik en moet ontmoedig word.” Hy het gesê dit is tragies dat werkers dink dat hulle slegs oplossings sal kry deur geweld. “Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om ‘n kultuur van geweld uit te wortel en tak uit te roei. Ons het geweldige hoë vlakke van misdaad, soos verkragting, brutale marteling en gewelddadige stakings, in plaas van vreedsame betogings. Ons moet ‘n samelewing kweek wat nie glo dat jy nie antwoorde sal kry sonder geweld nie.”

Buys het bevestig gewelddadige stakings is ‘n groot krisis. “Daarom is gemeenskapsveiligheidsprojekte van stapel gestuur om mense te beskerm. Daar moet ‘n spesifieke waardestelsel wees wat aan mense oorgedra word. Instellings soos die media, kerke en selfs gesinne met spesifieke waardes moet daardie waardes kan oordra.” Hy het bygevoeg daar gaan altyd konflik en verskille wees, maar die vraag is hoe om dit op ‘n vreedsame manier op te los.

Nuwe arbeidersparty

Vavi het gesê dit is baie belangrik dat daar ‘n onafhanklike stem vir die werkersklas moet wees, maar dat hy nie wil verklaar dat hy ‘n nuwe arbeidersparty wil lei nie. “Ek is nog steeds in my hart ‘n demokraat, maar ek is nie ‘n lafaard nie. Hierdie is kwessies wat die gewone Suid-Afrikaanse burgers moet maak.” Hy het gesê gewone Suid-Afrikaanse burgers sal besluit wanneer daar ‘n nuwe arbeidersparty op die been gebring moet word.

Buys meen dit sal baie goed wees as ‘n werkersparty tot stand kan kom, maar is besorg dat die rol en vermoë van die staat, om aandag te gee aan armoede, oorskat word. “Die staat kan nie alles doen nie. Mnr. Vavi is self ‘n slagoffer van die Zumafikasie van die land. Mense in openbare instellings wat nie met die leierskap saamstem nie, word eenvoudig uitgeskuif – en dit is ondemokraties.” Hy het gesê die land sit met ‘n swakker wordende staat en ‘n groeiende gaping tussen dit wat die regering wíl doen en dit wat die staat kán doen. Buys het dit benadruk dat armoede nie deur ‘n welsynstaat aangespreek kan word nie.

Vavi en Malema

Op ‘n vraag van Robinson of Vavi en Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) ‘n staatsgreep beplan, het Vavi gesê dit is ‘n baie ernstige aantyging, maar bevestig hy staan saam met enigiemand wat teen ongelykheid staan.

Vavi het gesê daar was nog nooit so groot koalisie soos die 250 organisasies wat saamgespan het om ‘n spesifieke saak soos korrupsie teen te staan nie.

“Ons sal nooit politieke partye najaag nie.”

Werkloosheid

Vavi het daarop gewys dat daar ongeveer 8.4 miljoen persone in Suid-Afrika werkloos is, en dat die gemiddelde inkomste slegs R3 000 beloop. Volgens hom is daar ʼn rassekomponent wanneer daar na die gemiddelde inkomste van verskillende rasse gekyk word. “Die gemiddelde salaris van ʼn wit werker is R10 000, R6 000 vir Indiërs en minder as R3 000 vir swart mense,” het hy verduidelik.

Vavi het ook gesê ʼn ontwikkelende staat beteken ook dat die staat in die belang van die land optree, en nie die eienaars van die staat nie. Die mandaat is om die armste mense van die samelewing op te hef – diegene wat werkloos is en gemarginaliseerd weens ʼn disfunksionele gesondheid- of opleidingstelsel en geen eiendom besit nie. “Wanneer die samelewing egter nie hierdie beginsels aanvaar nie, en nie volgens die beginsels reageer nie, werk die stelsel nie. En dit is waarom dit nog nie in ander lande gewerk het nie. “SAL is die grootste lugredery en moet miljarde rande wins maak, maar weens kaderontplooiing is die SAL nou soos ʼn meulsteen om ons nek. Dit is dieselfde met die SAUK – ʼn organisasie wat gelei word deur iemand wat nie tersiêre opleiding het nie. Mens moet nie die uitsaaier blameer nie, eerder die elite wat veronderstel is om die hele samelewing te bemagtig. En dis dieselfde storie met Eskom.”

Buys het gesê dit is uiters noodsaaklik dat armoede en werkloosheid aangespreek word, aangesien ongelykheid spanning veroorsaak en mense se lewensverwagting al hoe korter is. “Jy kan nie veilig slaap as jou buurman honger is nie,” het hy gesê.

Volgens Buys kan mens uit die afgelope 100 jaar se geskiedenis sien watter ekonomiese beleide werk en watter beleide onsuksesvol is. “Mens kan bloot na die geskiedenis kyk van Oos- en Wes-Duitsland, Noord- en Suid-Korea, en China en Taiwan. In plaas daarvan dat die armes ryker word, word die rykes armer, in lande waar ʼn onsuksesvolle ekonomiese beleid toegepas word.” Hy het gesê China se ekonomiese beleid beweeg na ʼn nuwe vrymarkstelsel, waar mense vrygemaak word. “Die sterkste krag is om mense vry te maak om hulself te verbeter. Ongeveer 500 miljoen mense in China is uit die uiterste armoede bevry. Die resultate is daar vir almal om te sien.”

Freek Robinson het Dinsdag met Mmusi Maimane gesels oor die toekoms van die Demokratiese Alliansie en sy verwagting vir die munisipale verkiesing in 2016.

Freek gesels Donderdag met kenners, onder andere dr. Michael le Cordeur, akademikus van Stellenbosch Universiteit en lid van die direksies van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die ATKV, oor moedertaalonderrig en of Afrikaans spesifiek onder skoot kom.

Volg die hele reeks Diskoers-gesprekke op Maroela Media.

Diskoers-gesprekke
Plek: ATKV Boeke-oase, Aardklop Nasionale Kunstefees
Tyd: 08:30 – 10:00 (6 – 9 Oktober 2015)
Prys: Gratis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Ek is versigtig optimisties dat n mens dalk met Vavi n lang pad kan stap na aanleiding van sy gesprek met Freek Robinson veral as hy homself nog as Demokraat beskou maar daar moet nog baie water in die see loop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.