[Video] Aardklop: Diskoers – Jou monument en my museum

V.l.n.r. Freek Robinson, Vusithemba Ndima, adjunk- direkteur-generaal van die departement van kuns en kultuur, prof. Louis Changuion, historikus en skrywer en Alana Bailey adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum

V.l.n.r. Freek Robinson, Vusithemba Ndima, adjunk- direkteur-generaal van die departement van kuns en kultuur, prof. Louis Changuion, historikus en skrywer en Alana Bailey adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum

Ons behoort mekaar se erfenis te respekteer en ruimte te gee om ons erfenis te vier en te bewaar. Dít is een van die min punte waaroor deelnemers aan ʼn Diskoers-gesprek tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees saamgestem het.

Freek Robinson het gesels met Alana Bailey adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, prof. Louis Changuion, historikus en skrywer, en Vusithemba Ndima, adjunk- direkteur-generaal van die departement van kuns en kultuur wat erfenisbemarking en bewaring betref.

Robinson het ter agtergrond gesê Suid-Afrika het sedert die begin van hierdie jaar verskeie aanvalle gesien op sogenaamde kolonialistiese simbole en standbeelde. Die Rhodes Must Fall-beweging het by die Universiteit van Kaapstad aanvanklik Cecil John Rhodes se standbeeld geskend en die beeld is uiteindelik van die kampus verwyder. Soortgelyke protesaksies het vinnig landswyd voorgekom en selfs Mahatma Gandhi se beeld in Johannesburg het deurgeloop.

Robinson wou weet of ons verdeelde verlede só inwerk op ons hede dat ons sukkel om gesamentlik ʼn toekoms te bou.

Ndima het gesê ná 1994 was die sentrale doel dat transformasie van erfenis moet ooreenstem met ʼn nuwe bedeling. “Die idee was om seker te maak dat alle burgers versoen moet word en dat ons diegene wat voorheen onderdruk was, gevier word,” het hy verduidelik.

Ndima het dit baie duidelik gestel dat die regering teen enige vorm van skending of vernietiging van standbeelde is. “Die regering is bereid om te luister na dit wat die gemeenskap wil sê, en om te verstaan watter verandering hulle wil sien. Die regering tree gereeld in gesprek met belanghebbendes en politieke partye om te bepaal watter verandering moet plaasvind.”

Hy het ook gesê die departement van kuns en kultuur het met owerhede en inwoners van al die provinsies in gesprek getree, en daar sal binnekort terugvoer aan die minister gegee word.

Op ʼn vraag van Changuion het Ndima gesê die regering is gekant teen die skending en vernietiging van standbeelde en monumente, maar dat die verskuiwing van standbeelde oorweeg sal word. Hy het dit weereens benadruk dat enige verskuiwing eers ná ʼn konsultasieproses sal plaasvind.

Changuion het gesê hy glo ons moet ʼn goue middeweg vind. “Sommige dinge moet verander word indien dit werklik aanstootlik is. Selfs geografiese name kan verander word as dit iemand aanstoot gee,” verduidelik hy. “Dit is goed as ʼn pleknaam na sy oorspronklike naam verander word. ʼn Goeie voorbeeld is Mesina in Limpopo wat terugverander is na Musina. Maar Louis Trichardt was nog nooit voorheen Makhado genoem nie. Dit is dus nie reg om hierdie dorp se naam te verander nie.”

Changuion het ook daarop gewys dat daar ʼn baie duidelike uiteensetting moet wees van wanneer die proses tot ʼn einde sal kom. “Gaan die regering bloot net aanhou om alles te verander?”

Bailey het gesê dit is baie moeilik om te bepaal watter weergawe van die geskiedenis ons gaan wys vir Suid-Afrikaners en die wêreld daar buite. “Mens kan nie politiek uit erfenis haal nie – erfenis is gelykstaande aan politiek. Ons moet by ʼn wen/wen-oplossing uitkom. Ons moet by ʼn situasie uitkom waar ons mekaar se geskiedenis en menings kan respekteer,” het sy gesê.
Bailey het verduidelik die burgerregteorganisasie AfriForum is gekant teen die idee van sogenaamde temaparke, of soos sy dit noem, ‘konsentrasieparke’. “Indien standbeelde uit ʼn spesifieke groep se geskiedenis só in ʼn park gedruk word, skep dit die idee dat daardie gemeenskap ook uitgestoot moet word.”

Wat moet dan met standbeelde gebeur?

Robinson het daarop gewys dat ons almal se idee van helde verskil. Shaka Zulu sal byvoorbeeld vir ʼn Zoeloe-persoon ʼn groot held wees, maar vir ander stamme teen wie daar tydens sy heerskappy oorlog gevoer is, is hy nie noodwendig ʼn held nie.

Ndima het gesê monumente moet in jukstaposisie geplaas word. “Daar kan dus langs ʼn spesifieke monument of standbeeld ʼn ander monument of standbeeld opgerig word, sodat almal se erfenis verteenwoordig word.”

Bailey het op haar beurt aangevoer dat ons in ʼn era van tegnologie leef. “Mens kan byvoorbeeld by ʼn standbeeld van Shaka via ʼn slimfoontoepassing of QR-kode ʼn volledige verduideliking van die beeld bied. Mens kan byvoorbeeld ʼn klankgreep van ʼn Zoeloe-persoon kry waarin dié persoon verduidelik waarom Shaka vir hom so belangrik is. Dan kan mens ook ʼn Matebele-persoon vra wat sy mening oor Shaka sou wees. Mens kon selfs ʼn klankgreep van iemand uit die leër beskikbaar maak wat Shaka as militêre strateeg kon bespreek.”

Sy het gesê dieselfde kan byvoorbeeld met Paul Kruger of Hendrik Verwoerd se standbeelde gedoen word.

“Ons kan op só manier verseker dat elke persoon sy eie mening vorm oor die geskiedenis,” verduidelik Bailey.

Die volkslied

Op ʼn vraag van Robinson of die nasionale volkslied verander moet word soos die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) voorstel, het Ndima baie duidelik ‘nee’ geantwoord. “Nee, ek ondersteun glad nie dié idee nie. Ons het ʼn nasionale volkslied wat die idee van transformasie en erkenning van verskillende kulture verteenwoordig. Dit is ʼn samesmelting van verskillende volksliedere en verteenwoordig voormalige vyandskappe,” het hy gesê. “Dit is ons volkslied. Ons moet dit almal saamsing en dit bevorder en veral vir kinders aanleer.”

Ter afsluiting het Bailey gesê ons moet seker maak dat verskille oor ons erfenis nie soos ʼn Trojaanse perd word wat die aandag aftrek van groter kwessies in die land nie.

ʼn Lid van die gehoor het bygevoeg dat ons daarop moet let dat erfenis ook uit argitektuur, literatuur en musiek bestaan, en dat ons almal moet seker maak dat die fokus op standbeelde en monumente nie beskou word as die begin en die einde van ʼn groep se erfenis nie.

Volg die volledige Diskoers-reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rambo ·

Ag nee? Gaan ons nou ophou om mekaar se standbeelde af te breek? En ek wou nog so graag dooie-rus vat op daai hasie-in-die-oor outjie? Hoekom? Want hy gee my aanstoot…..en as hy my aanstoot gee, kan ek hom verwyder…volgens Louis Changuion.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.