[Video] Aardklop: Diskoers – Word moedertaal in skole vermoor of is net Afrikaans onder skoot?

V.l.n.r. Jaco Deacon (Fedsas), dr. Michael le Cordeur (akademikus) en dr. Sello Galane (departement van basiese onderwys) Foto: Maroela Media

V.l.n.r. Jaco Deacon (Fedsas), dr. Michael le Cordeur (akademikus) en dr. Sello Galane (departement van basiese onderwys) Foto: Maroela Media

Beleid op nasionale vlak ter bevordering van moedertaalonderrig op skole word nie noodwendig deurgevoer op voetsoolvlak nie, het Donderdag aan die lig gekom tydens ʼn Diskoers-gesprek by die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Freek Robinson het in gesprek getree oor moedertaalonderrig en die bedreiging vir Afrikaans met dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), dr. Michael le Cordeur, akademikus van Stellenbosch Universiteit en lid van die direksies van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die ATKV, en dr. Sello Galane van die departement van basiese onderwys.

Robinson het ter agtergrond daarop gewys dat pres. Jacob Zuma Dinsdag by ’n mediakonferensie by die Uniegebou gesê het Afrikaans ís ʼn Afrikataal. Dít nadat hy met universiteitsleiers oor onder meer transformasie vergader het. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê hy wil self besluit oor taalbeleid in skole. Die departement van hoër onderwys bepaal egter dat Afrikaans en ander tale uitgebou en in verskillende vakrigtings bevorder moet word tot op tersiêre vlak.

Deacon het daarop gewys ons wil almal hê daar moet moedertaalonderrig wees, omdat ons bloot almal gemakliker kommunikeer in ons eie taal. Alle meetinstrumente wys daarop dat skole swak presteer sodra moedertaalonderrig uitgehaal word. “Daar word gesê Afrikaans en moedertaal is belangrik, maar die realiteit is dat Afrikaans bedreig en hoofde van Afrikaanse skole gedreig word,” het hy verduidelik. “Die kostemodel word eenvoudig só ontwerp dat Engels bevorder word.”

Volgens Le Cordeur bewys navorsing daar is geen plaasvervanger vir moedertaalonderrig nie. “Die mees doeltreffende manier om basiese begrippe tuis te bring, is deur moedertaalonderrig.” Hy het ook daarop gewys dat dit nie in praktyk die geval is nie. “Mens moenie moedertaalonderrig en Afrikaans aan mekaar gelykstel nie. Moedertaalonderrig is ook al die ander tale. Ons hoef nie om verskoning te vra vir Afrikaans nie.”

Volgens Le Cordeur sal sistemiese uitslae dadelik sigbaar wees sodra moedertaalonderrig ingestel word. “Kinders word jaar na jaar getoets deur nasionale assessering (ANA), maar ons sien nie die impak nie. Die probleem lê by moedertaalonderrig.”

Le Cordeur het verduidik dat veral wiskunde en wetenskap moeilik is wanneer ʼn kind die begrippe nie in sy moedertaal aanleer nie. “Slegs 50% van kinders kon tydens die ANA die vraag, ‘verdubbel die getal 5’, of iets soos ‘halveer die getal 20’, beantwoord. Kinders word byvoorbeeld eerder geleer: ‘2 x 5’ en dan ken hulle die rympie.”

Hy het bygevoeg wanneer ʼn kind in sy huistaal skoolgaan, kan ʼn tweede taal later bygebring word. “Wanneer jy goed onderlê is in jou huistaal, kan dit jou help om ʼn tweede taal maklik te aanvaar. Ons het almal volgens daardie beginsel op skool geslaag, en nou is ons almal funksioneel tweetalig. Ons kan net so maklik in Engels kommunikeer as in ons huistaal. Ons het geleer om begrippe uit ons moedertaal te vertaal: ‘Die kat sit op die mat’. Die woorde word een vir een vertaal.”

Volgens Le Cordeur kan goeie kennis van jou moedertaal jou help om ʼn wêreldtaal soos Engels aan te leer. “Ek is nie anti-Engels nie, ek is pro-moedertaalonderrig. Ek wil my land kan dien en nog steeds internasionaal kan meeding.”

Volgens Galane plaas die Grondwet ʼn verpligting op die departement van onderwys om seker te maak dat die regering en die departement die linguistieke regte van Suid-Afrikaners moet respekteer, beskerm, bevorder, uitbrei en vervul.

Galane het gesê volgens die Skolewet moet die onderskeie beheerliggame deur middel van konsultasie met die gemeenskap die besluit neem watter taal die skool gaan aanbied. Wetgewing van die departement bepaal die norme en standaarde wat die beheerliggaam as riglyn kan gebruik.

Sukses in Afrikaanse skole

Deacon het daarop gewys dat slegs 7% van alle skole voormalige model C-skole was. “Daar word gepraat asof dit baie skole was, maar uit meer as 24 000 skole in Suid-Afrika is slegs ʼn handvol skole voormalige model C-skole.”

By dié skole is die matriekslaagsyfer egter meer as 97%. “Dit word onder meer toegeskryf aan wêreldklasonderrig, dissipline, goeie onderwysers en betrokke skoolgemeenskappe,” het hy bygevoeg.

Dit is baie onregverdig om van dié 10% van skole te verwag om nou die hele land se kinders te help. “Ons moet eerder daarop fokus om die ander 90% van skole op te hef.”

Deacon het daarop gewys dat onderwysers by skole wat swak presteer, soms slegs 3½ ure per dag werk, terwyl onderwysers by skole wat goed presteer, meer as 7½ ure lank elke dag werk. “Die infrastruktuur trek baie swaar wanneer kinders na die 10% suksesvolle skole gestuur word.”

Hy het daarop gewys dat skole jaarliks miljarde rande spandeer om goeie bykomende onderwysers aan te stel. “Goeie onderwysers is die eerste prioriteit om kwaliteit te verhoog.”

Deacon het daarop gewys dat skoolhoofde, wat nie streng teen swak onderwysers is nie, die grootste probleem is by skole wat nie presteer nie. “Daar is skole waar daar byvoorbeeld vier graad 1-klasse is met 30 leerlinge, maar dan word al vier klasse se kinders in een saal geplaas en die vier onderwysers maak beurte om vir die kinders klas te gee. Die onderwysers werk dus slegs een week elke maand.”

Hy het dit benadruk dat die leierskapdilemma aangespreek moet word.

Robinson wou by Deacon weet of mens eerlik daaroor kan wees dat dit die ‘wit skole’ is wat sukses behaal.

“Die wit skole is van die mees getransformeerde skole,” het Deacon geantwoord. “Wanneer mens kyk na foto’s van ʼn wit skool 20 jaar gelede, en mens kyk nou weer na daardie skool, het dit baie verander. Dieselfde kan nie vir ander openbare skole gesê word nie.”

Grootste tweede taal

Le Cordeur het daarop gewys dat ongeveer 4 miljoen van die 7 miljoen Afrikaanssprekendes, bruin is. “Afrikaans is ook die grootste addisionele taal in Suid-Afrika. Dit beteken, die taal wat kinders, selfs Xhosa- en Zoeloe-kinders, op skool as hul tweede taal kies. Dit is nog 13 miljoen kinders wat Afrikaans kies en dit beteken meer as 20 miljoen mense gebruik elke dag in hul lewe Afrikaans.”

Beheerliggame

Le Cordeur het gesê die rol van ʼn organisasie soos Fedsas moenie gering geskat word nie. “By skole wat gebuk gaan onder armoede sukkel die beheerliggaam van daardie skool om belangrike besluite te neem, aangesien hulle nie oor die kennis of vaardigheid beskik om ingeligte besluite, byvoorbeeld ten opsigte van finansies, te maak nie. Hulle kan ook byvoorbeeld nie ʼn ingeligte besluit neem oor die aanstelling van ʼn nuwe hoof nie.”

Hy het daarop gewys dat ouers nie die wet kan implementeer as hulle nie die wet lees nie. “Hulle kan ook nie oor ʼn taalbeleid besluit nie. Dit gaan nie net oor die bemagtiging van kinders nie, maar ook die bemagtiging van die ouers.”

Engels

Volgens Le Cordeur is dit internasionaal bewys dat ʼn kind moedertaalonderrig moet ontvang vir die eerste ses skooljare (dit wil sê, tot die huidige graad 6). In Suid-Afrika ontvang kinders egter al reeds van graad 4 opleiding in Engels. “Dit is ʼn geweldige probleem. Byvoorbeeld, ʼn Xhosa-kind ontvang nou moedertaalonderrig in graad 1, 2 en 3. Dan moet hy iewers tydens Kersfees Engels aanleer, want van graad 4 moet die kind in Engels skoolgaan.”

Hy het gesê só kind vaar dan in graad 6 baie swak in die ANA-toetse, omdat hy dit in Engels moet antwoord. “In graad 3 word die kind in sy huistaal getoets, maar in graad 6 het hy nog nie die taal van onderrig aangeleer nie.’

Taalbeleid

Galane het die gehoor gerusgestel dat die Grondwet moedertaalonderrig beskerm en dat taalbeleid nie verander sal word indien dit nie teen die Grondwet getoets is nie. “Suid-Afrikaners kan gerus wees dat geen wetgewing goedgekeur sal word indien dit nie die toets van die Grondwet deurstaan nie.”

Deacon het bygevoeg die besluite wat op nasionale vlak geneem word, is nie uitvoerbaar nie, aangesien slegs 3% van provinsies bekwaam is om dit te implementeer. “Die nasionale departement is ver verwyder van dit wat op voetsoolvlak gebeur. Provinsies soos Limpopo en die Oos-Kaap kan nie die beleid uitvoer nie,” het hy verduidelik.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou)

Deacon het daarop gewys dat die grootste onderwysersvakbond in die land, Sadou, sy hand oorspeel en deel wil wees van bestuur, en deel wil wees van die beheerproses. “Dit is die grootste vakbond binne die vakbondfederasie Cosatu en die staatsdiens. Sadou is te groot, te sterk en het te veel mag.”

Freek gesels Vrydag met prof. Louis Changuion, historikus en skrywer, en Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum oor die vrees in Afrikaner-geledere dat erfenissimbole na konsentrasie-bergplekke verwyder gaan word.

Volg die hele reeks Diskoers-gesprekke op Maroela Media.

Diskoers-gesprekke
Plek: ATKV Boeke-oase, Aardklop Nasionale Kunstefees
Tyd: 08:30 – 10:00 (6 – 9 Oktober 2015)
Prys: Gratis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae