Aardklop finaal verby, maar…

aardklopDie Aardklop-kunstefees, wat vir die afgelope 17 jaar op Potchefstroom gehou is, het wel finaal tot ʼn einde gekom.

Verteenwoordigers van die direksies van die Aardklop Stigting en Aardklop Kunstefees, sowel as die groep Aardklop-belanghebbendes, het Dinsdagaand vergader. Die groep Aardklop-belanghebbendes bestaan uit verteenwoordigers van Potchefstroom, asook die Afrikaanse kunstewêreld en skenkers.

Die belanghebbendes het die vergadering versoek om die redes vir die besluit om die fees te staak toe te lig en meer inligting daaroor te verskaf. “Die Aardklop-direksies het volledige inligting gegee oor die geskiedenis en ontwikkeling van die fees sedert sy ontstaan in 1998, asook die redes vir die besluit om die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom te staak en die Aardklop Kunstefeesmaatskappy te sluit.”

Volgens ʼn verklaring wat deur die groepe uitgereik is, het die Aardklop-belanghebbendes die redes vir die sluiting van die fees verstaan en aanvaar. Die Aardklop-direksie het daarna bevestig hulle gaan voort met die sluiting van die Aardklop Kunstefeesmaatskappy.

Die Aardklop-belanghebbendes meen egter ʼn moontlikheid bestaan om met ʼn Afrikaanse kunstefees in Potchefstroom voort te gaan. “Hulle sal onmiddellik met alle belangegroepe in Potchefstroom, ander belanghebbendes soos moontlike borge en mense in die kunstewêreld, asook die direksie van Aardklop Stigting, oorleg pleeg om die haalbaarheid en volhoubaarheid van so ʼn fees te ondersoek.”

Japie Gouws, woordvoerder van die Aardklop-belanghebbendes, het aan Maroela Media gesê hulle is reeds besig om inligting in te samel om te kyk na die volhoubaarheid van ʼn Afrikaanse fees op Potchefstroom. “Ons sal weer met die direksies praat om vas te stel of ons die naam Aardklop kan gebruik, aangesien die handelsmerk steeds bestaan al sluit hulle, maar in beginsel gaan dit vir ons oor ʼn Afrikaanse fees op Potchefstroom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Youlanda Oosthuizen ·

Verander die Aardklop fees se naam na HARTKLOP FEES, hopelik kan die Afrikaanse fees bly voortbestaan!!

m ·

Moes dit nou gestop word om sekere groepe gelukkig te hou. So pateties!!!!!!!!!!!!!!!!!

Mij ·

Ek wonder wat is daardie redes wat hulle oortuig het dat sluiting verstaanbaar is.

CF ·

Gebruik asb net ‘n naam sonder die woord “Afrikaans” naby, anders word die dorp weer afgebreek!

Eliza-beth ·

‘n GROOT slag vir die Afrikaanse toneel. Baie baie sleg. Baie kunstenaars is grootliks afhanklik van die tipe feeste vir ‘n groot deel van hul inkomste en dan gebeur die tipe ding.

Elizabeth ·

Aardklop was vir baie Potchefstromers die laaste jare ‘n groot frustrasie met die biertente wat doe oorweldigende steun gekry het, die belaglik hoë toegang na die stalletjies en ook die feit dat gewonde mense hoogstens (dalk) 2 shows kon bekostig. Die lawaaivlakke was onuithoudbaar. Kan die publiek nie maar ingelig word oor die redes waarom met die fees weggedoen word nie? Of is dit ook een van SA se goedbewaarde geheime?

EMK ·

Ek stem – die suiptente was ‘n onding. Hoekom moet mens so tekere gaan om pret te hê? Dis een ding om ‘n glasie te drink maar meestal het die spul studente NET (en ander ook, verseker) daar vasgehaak en die geskree en gejil… Ja en dan verseker het Aardklop baie van hul gees verloor toe hul skielik die stalletjies geskuif het en mens duur moes betaal net om te kon ingaan – belaglikste besluit ooit. Ek kan egter NIE verstaan hoe hul nie geld kon maak met borgskap en alles. Waar is al die geld heen sou ek wou weet. Het party weer hengse salarisse ten koste van die voortbestaan van die fees gekry en sal ons ooit die waarheid hoor.

Michiel ·

Hoe werk sulke goed? Stalletjies bring sekerlik inkomste in vir hul plek se huur. Konserte vra teogangsgeld wat sekerlik gedeeltelik betaal vir die huur van die saal en die res gaan na die kusnetnaars self. Hoekom meot dit so duur storie wees met borge en goed wat voorskryf? Het daar nie mense net geld gemaak en die kunste waaroor dit eintlik gaan nie eitnlik nie? Dis mos nie nodig om allerhande kostes aan te gaan en komitees en direksies en goed aan te stel – alles onnodige uitgawes waarby sommiges verryk is. Dit behoort heel eenvoudig te wees en ek is seker dis hoe dit aan die begin was. Ek sou graag volledige uiteensetting wou hê waarvoor bv elke gedeelte van ‘n kaartjie se prys gaan – laat ons die waarheid hoor. Potch sal armer wees sonder hierdie finansiële inspuiting elke jaar!

NB ·

Is die redes vir die sluiting ‘n geheim? Die grootste fout wat Aardklop na my mening gemaak het was om die verrigtinge te skuif na ‘n nuwe terrein wat nie meer die lekker kuier atmosfeer gehad het nie en met lawaaierige kunstenaars. Ek dink hule wou te groot gaan en toe word dit te duur. Jammer vir ons Afrikaanses in die Noorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.