Aardklop: Hoe neem ons die verlede na die toekoms?

Monumente, standbeelde, plek- en straatname. Hoe gemaak met dié olifant in die vertrek? Dié gesprek is gelei deur Kabous Meiring van Prontuit, kykNET en die paneel was prof. Anton van Vollenhoven, Lindie Koorts, Lyntjie Jaars en dr. Danie Langner. (Foto: FAK)

“As geskiedenis stagneer of stol, sal dit sterf. Kontekste verander en ʼn mens moet daarby aanpas. Ons moet die dinamika van geskiedenis koester.”

Só sê dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument, tydens ʼn gesprek wat Erfenismaand afgesluit en die Aardklop-opwipwees by die Voortrekkermonument afgeskop het. Met dié gesprek is monumente, standbeelde, plek- en straatname Woensdag onder die vergrootglas geplaas. Kabous Meiring het die gesprek gelei en haar ander gaste was prof. Anton van Vollenhoven van NWU, dr. Lindie Koorts van UVS en die televisie- en radiopersoonlikheid en trotse Nama, Lyntjie Jaars.

Vir die meeste van die gaste – soos vir baie ander mense – hou die Voortrekkermonument aangename kindertydherinneringe in. Maar dié kolos wat op ʼn koppie in Pretoria pryk veroorsaak deesdae gemengde gevoelens by talle mense. Sommiges glo dat net een groep se storie hier vertel word. “Tog vertel die Voortrekkermonument ook die verhaal van hoe die binneland oopgemaak is en hoe daar kontak met ander mense gemaak is. ʼn Mens besef dit nie noodwendig voordat jy nie die monument besoek nie,” sê Van Vollenhoven.

Die Voortrekkermonument het oor dekades heen in verskillende kontekste gestaan, voeg Langner by. “Die goue draad deur al die jare is dat dit nog altyd ʼn kulturele tuiste vir Afrikaners was. Maar dis ook ʼn plek waar almal welkom is, want ons geskiedenis is nie die enigste in die land nie. Ons koester beweging en soek balans in die geskiedenis.”

Volgens Koorts het die fokus van Afrikanergeskiedenis baie verander sedert 1994, weg van die nasionalistiese inslag wat dit vroeër gehad het. Daar is ook ʼn aanvraag vir nuwe interpretasies van die geskiedenis en nuwe vrae word gevra.

Vanjaar se Aardklop-opwipfees het Woensdag met ‘n gesprek oor erfenis afgeskop. (Foto: Aardklop Nasionale Kunstefees/Facebook)

Moet monumente en standbeelde, soos dié van Paul Kruger op Kerkplein, geskuif word? Van Vollenhoven was aanvanklik totaal gekant teen die idee, omdat hy glo dat standbeelde binne hul konteks hoort. “Wanneer jy ʼn standbeeld skuif, verander jy sy betekenis, sy storie. Maar as erfenisbewaarder besef ek nou dat monumente tot niet kan gaan as dit nie geskuif word nie. As dit gebeur, faal ons in ons bewaringstaak.”

Naamsverandering bly ook ʼn teer saak. Volgens Langner gaan die benoeming van ʼn persoon nie oor verering nie, maar oor erkenning, om dankie te sê en te onthou. “Almal wat dit verdien moet erkenning kry, maar vernoem dan nuwe geboue en strate, moenie bestaandes verander en so die erkenning van daardie persoon wegneem nie.”

Van Vollenhoven meen dat ons in ʼn tyd van kitsoplossings leef. “Dis maklik om ʼn straatnaam te verander, maar dis konteksloos. Erfenis in Suid-Afrika word as gevolg van konteks op verskeie vlakke verkeerd verstaan. As ons mekaar se konteks verstaan en inklusief is, sal my erfenis nie afstootlik wees vir ander nie.”

Langner glo ʼn mens moenie jou geskiedenis wegsteek nie, maar dit ook nie as ʼn wapen gebruik nie. Om Afrikaner in 2021 te wees moet ons die veelheid van identiteite rondom ons – en selfs binne onsself – erken en respekteer, en bereid wees om sonder vooropgestelde idees oor die verlede te debatteer, al is dit omstrede.

Vir Jaars is verdraagsaamheid die sleutelfaktor. Sy glo dat die verskillende geskiedenisse wat in Suid-Afrika te vinde is by mekaar kan aansluit. “As jy kulturele erfenis probeer uitwis, wil jy iemand se bestaansreg uitwis. Wanneer ons gesprekke voer, sien ons dat ons harte eintlik vir dieselfde ding klop. Ons moet mekaar kans gee en na mekaar luister. Ons kán saam bestaan.”

As Afrikaner erken Koorts elke stukkie van die geskiedenis en dra sy al die bagasie saam sonder om dit weg te wens. Tog wonder sy nog hoe om Afrikaner in ʼn gedeelde ruimte te wees, binne die konteks waarin ons onsself tans bevind. Hoe vind ons die balans tussen konteks en gedeelde ruimte?

“Laat ruimte vir herbesinning en vloeibaarheid binne bepaalde kontekste. Só kan daar vooruitgang wees binne die erfenisruimte van Suid-Afrika,” sê sy.

  • Die Aardklop-opwipfees vind tot 3 Oktober in Pretoria plaas. Besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se gesprekke en produksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Wat dan nou van die SAUK se Hertzog Toring wat Brixton Toring geword het toe dr Hertzog weg is uit die destydse regerende Nasionale Party? En wat van die woonbuurt Bothasig in Kaapstad? Die naam sou Bosmansdam gewees het, vernoem na die plaas waarop dit gebou is. Maar toe skielik word dit Bothasig, vernoem na daardie jare se minister van gemeenskapsontwikkeling, PW Botha. Die naam Bosmansdam was ongewens, want dié plaas het eers behoort aan Sir De Villiers Graaff, leier van daardie jare se opposisie Verenigde Party. So naamsveranderings gekoppel aan hoe die politieke winde waai, kom toe sowaar uit… Lees meer »