Aardklop loop uiteindelik weer deur Potch-strate

Aardklop is terug in Potchefstroom. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hoewel dit op die oomblik in die strate van Linden en Pretoria óók klop, is daar by stalletjies, met dawerende musiek en uitstekende teatervertonings behoorlik baljaar tydens die Momentum Beleggings Aardklop se Potchefstroomse opwipfees.

Dié been van Aardklop het van Vrydag 30 September tot en met Sondag 2 Oktober op dié studentedorp gekuier. Daar was tente propvol interessante stalletjies en feesgangers wat hulself trommeldik aan pizza, biltong, spookasem en mini-oliebolle geëet het.

“Dis vreeslik lekker om weer ʼn feesterrein te kan hê. Om saam te kan kuier sonder enige beperkings,” het Alexa Strachan, die feesbestuurder, aan Maroela Media vertel.

“Hier is so ʼn lekker atmosfeer en samesyn!”

Sangers soos Janie Bay, Jakkie Louw en die musiekgroep Ouderdoos het feesgangers vir die duur van die fees vermaak.

Hoewel stalletjiehouers erken het dat die fees nie so groot soos vorige jare was nie, is dit vir hulle steeds lekker om na die dorp terug te keer vir die fees wat so na aan Suid-Afrikaners se harte lê.

Aardklop se stalletjies is vanjaar op die Noordwes-Universiteit se joolterrein aangebied, en nie soos gewoonlik op die Bult nie. Dit het egter gesorg dat daar meer as genoeg plek was vir feesgangers, stalletjies en ander aktiwiteite wat die fees gebied het.

Die kosstalletjies het onder die prentjiemooi wilgerbome, so eie aan Potchefstroom, gestaan en het gesorg vir ’n heerlike, rustige feesatmosfeer.

Hoewel talle inwoners van Potchefstroom op Facebook hul misnoeë uitgespreek het oor die veranderde formaat van die fees, het Strachan die versekering gegee dat die fees nié uit die dorp sal trek nie.

“Aardklop is ’n Potchefstroomse fees. Hoe kan die naam buite Potchefstroom gebruik word? Môre moet ons hoor dat die fees permanent uit die dorp uitskuif,” het ’n ongelukkige Potchefstroom-inwoner geskryf.

Strachan het aangedui dat die fees nie beoog om sy Potchefstroomse wortels uit te trek nie.

“Potchefstroom is die begin van alles. Aardklop en Potchefstroom is soos ʼn ham-en-kaas-toebroodjie, hulle hoort saam.”

Aardklop word vandeesweek voortgesit in Pretoria en Linden en beloof om feesgangers behoorlik op hul tone te hou met indrukwekkende vertonings en interessante aktuele gesprekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Goeie opvoering gaan kyk by universiteits teater die Vrydag oggend, Lees nou eers van die fees en stalletjies wat daar was, geen aanduiding, inligting, reklame of kommunikasie rakende die verskuiwing vanaf die Bult na ander terrein nie. Aardklop klop nie meer soos vroeer nie.

Elma ·

Ek is van die opinie dat die min reklame juis met n doel gedoen is, of eerder NIE gedoen is nie. Volgnde jr sal Alexa sê, sorry julle, daar was in 2022 te min voete in Potch.

Elma ·

Die artikel en spesifiek Alexa poog baie hard om Aardklop Potchefstroom na iets besonders te laat klink.
Ek was Vrydag daar, dit was om die minste te sê, UITERS SWAK, AFGEWATER EN ONINTERESSANT. Bitter min stalletjies en meestal ook dieselfde tipe stalletjies. Daar was niks unieks nie.
As hierdie formaat die kwaliteit is wat in Potchefstroom jaar na jaar aangebied word, sal die fees sommer vansself doodloop, niemand sal dit hoef weg te neem nie. Wat ek in my hart glo die organiseerders se plan is in elk geval!

SwartBees ·

Ons ondersteun nie meer kunste feeste en marke nie agv die items wat verkoop word jou letterlik n arm, n been en n enkel kos… R15 n klein pakkie gewone simba chips. 2 water ice lollys vir R80. Ek verstaan tuis gemaakte goedere is spesiaal en uniek met bittermin oorhoofse kostes wat gedek moet word dan word 200% wins gejaag op alle goedere.

Elma ·

Heeltemal reg. Ek het self agtergekom, selfs die enkele produkte wat ek DALK sou wil koop, en daar was min, is baie baie duurder as in die winkels.
Verder het ek ook gewonder hoeveel fudge KAN n mens koop. Tafels en tafels vol van daai!

Peter Pan ·

“Dis vreeslik lekker om weer ʼn feesterrein te kan hê. Om saam te kan kuier sonder enige beperkings,” het Alexa Strachan, die feesbestuurder, aan Maroela Media vertel.
Niks is waar wat sy se nie. Hulle het Aardklop van Potch af weggevat. Ek bly naby die Joolplaas en dit was soos ‘n vlooimark! Geen atmosfeer gewees soos vroeer jare nie!
Dankie dat julle Aardklop weggevat het van Potch! RIP

Nellene ·

Groot spelfout daar. Korreksie, nie “sweets”, nie maar “swiets”

Bertie ·

Vandat hulle Aardklop van die Bult weggeneem het, en duur toegangsgeld begin vra het, het die organiseerders Aardklop sommer self nekomgedraai. Dis besig om ‘n stadige, maar sekere dood te sterf.

Vonny ·

Aardklop in potchefstroom was uiters swak!
En sooooo kort.
Sal dit nooit weer bywoon.
Gaan eetder KKNK toe@

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.