Aardklop nie meer in September aangebied

Delmari van Zyl en Alexa Strachan (Foto: Verskaf)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees se organiseerders het Dinsdag bekendgemaak dat dié fees nie meer einde September aangebied sal word soos beplan is nie.

“Vanjaar het tot dusver talle uitdagings vir almal ingehou. Aardklop het, soos elke ander fees en organisasie, groot en moeilike besluite gehad om te neem,” sê Delmari van Zyl, bestuurder van borge, media en bemarking.

Van Zyl verduidelik dat onsekerheid oor wanneer die aanbieding van massa-byeenkomste weer toegelaat en die verbod op interprovinsiale reis gelig gaan word van die aspekte is wat Aardklop se bestuur in gedagte moes hou.

Die organiseerders is reeds besig om alternatiewe platforms en aanbiedingsmoontlikhede te ondersoek. Dit sal ʼn kombinasie van tradisionele en virtuele platforms insluit.

“Dié projekte het ten doel om Aardklop as platform aktief te laat funksioneer, en om inkomste vir kunstenaars, tegnici en diensverskaffers te genereer,” het die organiseerders in ʼn verklaring gesê.

Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die fees, het die publiek egter verseker dat sy en haar span voortgaan met beplanning.

Die Nasionale Aardklop Kunstefees se direksie en personeel (Foto: Verskaf)

“Ons doen intussen alles in ons vermoë om te verseker dat ons so spoedig moontlik ‘n fees het om te vier,” het Strachan gesê. “Ons feesgangers is ons mense en ons is almal in presies dieselfde bootjie. Ons hoop is dat elke liewe een so gesond en veilig moontlik kop bo water hou.”

Weens die korona-pandemie wat wêreldwyd kluisenaars van mense maak, word feesorganiseerders genoodsaak om te herbesin oor aanbiedings en die behoud van feeste. Hoewel die toekoms duister is, is die veggees onder kunstenaars en organiseerders opmerklik.

“Ek glo werklik dat kunstenaars en ander teaterpraktisyns enigiets in hul vermoë moet doen om den brode,” sê Strachan. “Soos in enige ander bedryf het ons hier te make met ‘survival of the fittest’. Hoe meer toegerus, taaier en aanpasbaar jy is, hoe beter jou kanse op onmiddellike oorlewing.”

Strachan is dit eens dat alle kunstenaars in dié stadium genoodsaak word om ter wille van oorlewing oor die aanbieding van hul kuns te herbesin. Hoewel daar ʼn korttermynoorlewingsplan in werking gestel moet word, behoort kunstenaars ook medium- en langtermynplanne op te stel.

“Dit is jammer dat die regering nie meer doen om werkskepping in die kunstebedryf te verseker en om kwaliteit platforms in die kuns- en kultuuromgewing te skep nie. Kunstefeeste vervul tans grootliks hierdie rol,” sê Strachan.

Strachan en haar span is gereed om die uitdaging vol moed aan te pak. Sy meen dat die grootste guns wat ʼn fees soos Aardklop aan kunstenaars en al sy rolspelers kan bied, is sy voortbestaan en volhoubaarheid.

Navrae kan na [email protected] gestuur word. Hou ook die fees se Facebook-blad dop vir meer inligting.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pokkel ·

reg so, ek gaan dan maar eers terug bed toe, maak my wakker as Nkosazana uit die prentjie is

Alida ·

Dis belaglik om dit af te stel. Daar staan daagliks tot 8000 mense in ry opmekaar vir kospakkies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.