Aardklop: Waar is die Afrikaanse leiers?

V.l.n.r. is die joernalis Jan-Jan Joubert, advokaat Lennit Max van die VF Plus en die meningstukskrywer Alida Kok saam met Waldimar Pelser. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Waar is die helderdenkende leier van die hedendaagse Afrikaner? Is die Afrikaner nog ʼn gemeenskap met werklike politieke mag?

Waldimar Pelser, aanbieder van Verslag op kykNET, het Donderdag dié vrae saam met ʼn paneel kundiges tydens die Aardklop-opwipfees in die FAK se liedjietuin by die Voortrekkermonument deurgetrap.

Pelser se gespreksgenote was Jan-Jan Joubert, gesoute politieke skrywer; Alida Kok, ʼn meningsvormer; en Lennit Max, die VF Plus se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad.

Die paneel was dit eens dat Afrikaners en Afrikaansesprekendes beslis ʼn hunkering het na ʼn leier, en hulle soek ʼn goeie leier, maak nie saak in watter soort verpakking die persoon kom nie.

Of daar egter tans so ʼn persoon is wat dié bevolkingsgroep kan inspireer om te verenig, was debatteerbaar.

“Taal gee identiteit. As jy mors met ʼn volk se taal dan kry jy weerstand want jy mors met sy identiteit,” was Max se mening.

Hy het bygevoeg hy is gereed om leierskap te bied. “Mandela was ʼn goeie voorbeeld van ʼn leier wat die hele Suid-Afrika agter een ideaal verenig het. Die ANC het egter nou ander taalgroepe en bevolkingsroepe vervreem. Ons sal ons taal en kultuur moet beskerm en bewaar vir ons nageslag.”

Joubert het gewaarsku teen leierskapposisies wat mense slegs mobiliseer op grond van ras.

“Daar is baie mense wat hulle self as leiers wil aanstel, maar jy moet ligloop want jou volgelinge kan maar moeilik wees.”

Op die vraag of Afrikaansprekendes enige politieke mag het, het Joubert gesê dat hulle as ʼn stemblok van groot waarde vir ʼn politieke party is. “Afrikaanse kiesers gaan stem nog, en hulle doen dit in groot getalle.”

Kok het opgemerk dat daar tans sterk leierskap onder Afrikaanssprekendes op die gebied van die burgerlike samelewing is.

“Ek dink op politieke gebied soek ons almal in Suid-Afrika na ʼn tegnokraat wat die knoop kan deurhak, maar dan is daar die moeilike definieerbare iets wat ʼn leier ook oor moet beskik; noem dit hoop, visie of ʼn gedagte. Ons soek ook daarna.”

Kok meen die fokus skuif toenemend na die burgerlike samelewing hoewel Afrikaners nie kan besluit om heeltemal buite die politiek te beweeg in ʼn parallelle stelsel nie.

“Ons moet steeds stem sodat ons toegang tot die politieke stelsel kan hê. ʼn Politieke stelsel kan in elke geval nie vernuwing bring nie, dit kom gewoonlik uit ʼn land se mense.”

  • Die Aardklop-opwipfees duur nog tot Sondag 3 Oktober. Besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Almal is maar net daar vir die salaris. Vuur en vlam voor die verkiesing en doodstil daarna, dan moan hulle net oor die ander partye en doen nie hulle voorverkiesing beloftes gestand nie. Almal.

Hardekwas

Hulle het almal geemigreer.

RB

Adv. Max, nie almal deel jou mening oor Mandela nie. Daar is geen manier hoe hy hierdie ‘leier’ was ‘wat die hele SA . . . verenig het’ nie.

Die Afrikaner is mislei en uitverkoop aan terroriste. Hy was hùlle leier. Hy het geweet van elke aanval op sagte teikens – vroue en kinders. Elke politieke leier het ‘n eie agenda èn kan motiveer waarom hulle sekere keuses maak. Sy agenda was hùlle vooruitgang ten koste van ander.

Jy sal mý nie oortuig dat hy ‘n held was nie.

Willem

So – Max wil nou die leier wees van die Afrikaners? Vir my beteken dit daar ‘n probleem is met sy en sy gespreksgenote se definisie van die Afrikaner. ‘n Volk is beslis nié net deur die taal wat hy praat uitkenbaar nie. Daar is ander kenmerke ook behalwe as jy besig is met die Amerikaanse “kookpot” idee en kyk maar orals ter wêreld in watse gemors dít besig is om te ontaard.

Pablo

Moet lees “Besoek fartklop” se webwerf.