Aardklop: Word ons kwaad oor die regte goed?

Foto ter illustrasie. (Foto: Andre Hunter/Unsplash)

Daar is oorgenoeg kwessies wat Suid-Afrikaners rooi laat sien en selfs die strate laat invaar. Heindrich Wyngaard en ʼn gesprekpaneel met Rapport se besturende redakteur Liezel de Lange, Solidariteit se Flip Buys en prokureur en vroueregteaktivis Melene Rossouw, het Vrydag bespiegel hoekom sekere nuusonderwerpe soveel meer aandag en reaksie as ander genereer, asook waarop Suid-Afrikaners eintlik moet fokus.

De Lange meen mense word deesdae minder kwaad oor groot kwessies. “Mense voel so gedaan en magteloos oor die groot goed dat hulle al hoe meer oor beuselagtighede kwaad word. Ons staan magteloos teenoor dinge soos swak diens, daarom fokus ons eerder op die kleiner dinge waaroor ons beheer het.”

Rossouw glo nie dat mense magteloos is nie, maar wel onkundig. “Ons praat nie genoeg oor die onkunde onder die meerderheid van mense nie. Die mense op die Kaapse Vlakte met wie ek te doen kry, lees nie die nuus nie, maar luister eerder na die praatjies wat in die gemeenskap gepraat word en vorm só hul opinies.”

Baie mense met wie sy werk, weet nie eers wat demokrasie is nie, voeg sy by. Mense moet opgevoed word oor basiese sosiale uitdagings, sodat hulle deel van die oplossing kan wees.

Tog is dít wat mens in die nuus lees ook nie altyd die waarheid nie, omdat almal in die mediawêreld nie met integriteit optree nie en mense probeer opsweep, glo Rossouw. Sy wil hê dat die media versigtiger moet besluit hoe hulle oor politieke en sosiale kwessies rapporteer en watter stories aandag kry.

Plig van politici

Buys glo dat politici se mag oorskat word. “Hulle kan nie al die probleme oplos nie. Hulle kan bloot omstandighede skep waarin mense hul eie probleme kan oplos. Politici behoort die rol van huishoudster te speel, maar mense verwag dat die staat die broodwinner moet wees.”

Tog wil De Lange politici nie te lig daarvan laat afkom nie. Sy beklemtoon dat hulle wel ʼn verantwoordelikheid het om sekere dienste te lewer, soos om ordentlike skole en gesondheidsdienste te voorsien. Mense móét hulle hiervoor verantwoordelik hou.

Sy wys verder daarop dat ʼn groot aantal van ons land se mense baie arm is en ʼn oorlewingstryd voer. Hulle het nie die kapasiteit om hulle oor dinge soos die regbank en ander groot kwessies te bekommer nie, maar word kwaad vir die politici omdat hulle nie hul beloftes aan die armes nakom nie.

Rossouw beskou maatskaplike toelae as ʼn euwel, omdat dit nie bemagtigend is nie. “Mense raak gemaklik met toelae en soek dan nie meer werk nie.” Buys stem saam. “Wanneer jy vir mense iets gee sonder teenprestasie, is die sukseskoers baie laag. As jy vir iemand ʼn werkie gee om te doen vir die geld wat hy kry, al is dit om tuin te maak, leer hy verantwoordelikheid. Dis deel van ʼn opvoedingsproses waarin jy moet leer dat niks verniet is nie.”

Fokus hierop

Volgens Buys help dit nie om net kwaad te word nie, dit lei bloot tot nasionale neerslagtigheid. Hy glo mense moet mekaar aanmoedig om hul woede opbouend te kanaliseer en prakties verantwoordelikheid te neem.

“Die goue draad wat deur suksesvolle samelewings loop, is dat hulle vra wat hulle verkeerd gedoen het, en wat hulle nou reg kan doen. Ons het ʼn oplossing-ingesteldheid nodig, eerder as ʼn probleem-ingesteldheid. Fokus op die oorsake van sukses wat in die geskiedenis te vinde is.”

Suid-Afrika se samelewing is geweldig gepolariseer vanweë die verlede, sê De Lange, en die skeiding is boonop aangeblaas deur die rassespanning wat in Zuma se era vererger is. “Dis belangrik dat mense ook ontsteld raak oor die onreg wat in ander gemeenskappe en groepe plaasvind en saam identifiseer met vergrype. Ons moet daarteen waak om laer te trek. Empatie is belangrik – kyk deur iemand anders se oë, praat met iemand anders se stem, voel met iemand anders se hart. So kan ons vorentoe beweeg.”

Wanneer mense van mekaar verskil, lei dit dikwels tot woede en tweestryd. Maar vir vooruitgang moet ʼn mens nie op die verskille tussen mense fokus nie, glo Buys, maar eerder op ons gemeenskaplike belange. Só kan ons saam aan ʼn gesamentlike toekoms in Suid-Afrika bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Prioriteite plek van die manie nie om straat, skool en dorpsname te verander. Dit gaan ook oor ras beheptheid wat meer probleme skep as oplossings.
Verder moet die regstelsel aan die ore geskud word om by te kom. Lagwekkende uitsprake deur onbevoegde ministers en amptenare moet staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.