Aardskudding het Durbaniete aan die gons

Argieffoto: Pixabay

Inwoners van Durban en Pietermaritzburg was Donderdag in rep en roer oor ’n ligte aardskudding wat douvoordag dele van die stad getref het.

Inwoners het hulle tot Facebook gewend oor dié gebeurtenis en sommige het selfs daarna as “skrikwekkend” verwys. Meeste van die inwoners sê hulle het tussen 02:00 en 04:00 die skudding gevoel.

“Dit was skrikwekkend. In die skielike doodse stilte was daar skielik ʼn dreungeluid wat soos ʼn trein in die verte geklink het. My huis het geskud en my plafon het gekraak,” skryf Allison Austin op Facebook.

“Ons hele huis het geskud. Dit was ’n vreemde gevoel,” skryf Frances Anne Stent. “Ons vensters het gebewe,” skryf Sarah Autanza Blair.

Vir Dean Matthewson het die skudding soos ’n “ontploffing” gevoel en volgens Ashleigh Blackbeard het die skudding net sowat vyf sekondes lank geduur.

Volcano Discovery sê op sy webwerf hul moniteringsdiens, AllQuakes, het omstreeks 02:03 berigte van ’n aardbewing in of rondom Durban ontvang.

“Die status van die aardbewing bly egter onbevestig totdat dit deur ten minste een nasionale of internasionale seismologiese agentskap bevestig word,” sê Volcano Discovery.

Mahlatse Mononela, woordvoerder van die Raad vir Geowetenskappe (CGS), sê egter hulle het geen rekords van ‘n aardbewing in die Durban-omgewing op hul seismiese moniteringstelsel nie.

Volgens Volcano Discovery is daar nog geen amptelike besonderhede oor die omvang of diepte van die aardbewing nie. Hulle het wel voorlopig bekendgemaak dat die sterkte van die aardbewing sowat 3,8 en die diepte 10 km blyk te gewees het.

“Dié inligting is egter net tydelik, totdat die AllQuakes-moniteringsdiens meer akkurate wetenskaplike gegewens van ʼn nasionale of internasionale seismologiese agentskap ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Was dit nie miskien daai ANC Aunty van PE, of Qgaba, Quertiba, Qtititaba, wat weer wind af geblaas het nie?

Elinette ·

Qgeberha … Port Elizabeth. Eintlik maklik om te sê: kle-ber-gha.

Misky ·

Ek dink dit was deel van die grap wat JohanR gemaak het en skerp van hom Elinette. Ek het lekker gelag

Willem ·

Moes een helse groot wind gewees het om 3.8 op die richterskaal te registreer

Baardman ·

Die CGS se moniteringstelsel werk seker nie meer nie. Of hulle weet nie om die inligting te lees nie

Samuel ·

Dit baie snaaks dat die Raad op Geowetenskappe niks weet nie? Gewoonlik is hulle waarneming baie akkuraat.

Elinette ·

Aardverwarming, gletsers wat wegsmelt, vloede, aardskuddings, uiters hoë temperature in sekere gedeeltes van die VSA … die einde is aan’t kom. Ek hoop net ek het teen daardie tyd al lepel in die dak gesteek!

Blikkies ·

Haai julle, die hele wereld is deurmekaar, Maar die feit dat die Suider Afrikaanse CGS se moniteringstelsel niks kon optel nie, is glad geen verbasing nie.

Cherokee ·

Ek was om 3:30 op en weet nie daarvan nie, maar om 8 uur het een van my werkers, wat in Inanda woon, daarvan vertel.

Piet parys ·

Nee wat hier in die vrystaat lyk al die paaie so . Dalk gee dit vir die regering n verskoning hoekom paaie so lyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.