Aartappels eindelik goedkoper; bevrore hoender nou duurder

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jonathan Cooper/Unsplash)

Nadat aartappels die afgelope jaar maand op maand duurder geword het, was daar eindelik in November effe verligting toe die prys van dié produk met 11% gedaal het.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat aartappels in November gemiddeld R15,29 goedkoper was in vergelyking met Oktober.

Dié daling beteken dat ʼn 10 kg‑sak aartappels nou R130,02 kos. Dit is wel meer as dubbel die prys wat dit in November verlede jaar gekos het.

Maroela Media het vroeër berig dat aartappels soveel gestyg het, dat dit verlede maand alleenlik verantwoordelik was vir byna die helfte van die Johannesburgse varsproduktemark se totale inkomste uit groente vir die maand.

Hoewel die daling in die prys van aartappels ʼn welkome verligting is, wys die PMBEJD daarop dat bevrore hoenderporsies nou duurder raak.

“Ons begin ʼn opwaartse neiging in bevrore hoenderporsies in Durban, Kaapstad en Pietermaritzburg sien,” lui die indeks se bevindinge.

ʼn Sak bevrore hoenderporsies van 10 kg was in November gemiddeld R15,95 duurder vergeleke met die vorige maand, wat die prys hiervan op R400,60 te staan bring.

In Durban het die prys selfs nog meer gestyg, hoewel dit goedkoper is as die nasionale gemiddeld. Dit is hier R30,53 duurder om bevrore hoenderporsies te koop as wat dit in Oktober was. In November het dit R388,21 vir ʼn 10 kg‑sak gekos.

Pietermaritzburg het egter die grootste styging met R56,05 ervaar. Dit het in November R441,48 vir dieselfde 10 kg‑sak gekos.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Inkopies nog duurder

Die broodnodige voedselitems waarsonder die meeste Suid-Afrikaners nie kan klaarkom nie, was in November effe duurder as tevore.

Dit was gemiddeld R17,05 duurder om inkopies in November te doen as in Oktober.

Die prys van eiers het met ʼn uitermatige 18%, oftewel R29,73, gestyg. Dit beteken dat 60 eiers, of twee houers van 30 eiers elk, nou R191,83 kos.

Verskeie vrugtesoorte het veral duur geword en in November was lemoene 31% duurder, tamaties 20% en appels 10% duurder.

Die prys van uie het wel getuimel en is gemiddeld R32,82 (24%) goedkoper vergeleke met verlede maand. ʼn Sak uie van 10 kg kos ná die daling R106,53.

Die prys van rys het in November slegs 1% gestyg vergeleke met Oktober. Nadat die prys hiervan maande lank uiters wisselvallig was, blyk dit eindelik of dit “op ʼn hoë basis stabiliseer”.

Vorige navorsing deur PMBEJD het daarop gewys dat rys, naas mieliemeel, een van die stapelvoedselitems is wat die meeste in Suid-Afrikaanse huishoudings opgedis word.

Een van die wêreld se grootste uitvoerders van rys in Indië het egter die prys op tuisbodem erg beïnvloed toe hy in Augustus besluit het om met onmiddellike inwerkingtreding die uitvoer van sy rys te staak. Indië se besluit is geneem om “voldoende beskikbaarheid” in sy land te verseker en “die styging in pryse in die binnelandse mark [te] verlig”.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Inflasie op kosmandjiepryse per gebied

In November was dit in sommige dele van die land effe goedkoper om ʼn mandjie kos te koop in vergelyking met ander dele van die land, waar dit weer duurder geword het.

In November het die prys van ʼn mandjie kos in Johannesburg en Kaapstad gedaal, terwyl dit weer duurder was in Durban, Springbok en Pietermaritzburg.

In Johannesburg was dit R98,60 (-1,8%) goedkoper om kos te koop as verlede maand, en in Kaapstad was dit R14,27 (-0,3%) goedkoper.

Inkopies in Durban was dit R92,08 (1,8%) duurder in vergelyking met die vorige maand. Diegene in Springbok en Pietermaritzburg moes onderskeidelik R115,93 (2,1%) en R115,53 (2,3%) meer opdok vir hul inkopies.

Oor dieselfde tydperk verlede jaar (November) het die prys van ʼn kosmandjie in al hierdie gebiede ook gestyg.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte het in November net-net afgeneem met R6,17 (-0,6%).

Op ʼn jaarlikse grondslag het dit egter met 10,9% gestyg, oftewel met R97,22. Dit bring die gemiddelde koste van dié items op R999,88 te staan.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar dié produkte ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Oe aartappel laat my staan, oe aartappel laat my staan, oe aartappel veral op ‘n Sondag middag soe 4nm, Oe aartappel!

Danie ·

Ja die pryse daal maar net so die kwaliteit ook. Ek het gister gekoop en jy sny die helfte weg wat vrot is.

Alta Alleman ·

Dis goedkoper maar dit word nie vir Jan Publiek deurgegee nie.

Cherokee ·

Die ou-ou gesegde wat lui dat ‘n bord kos is nie ‘n bord kos, tensy daar vleis in is, is heel verkeerd. ‘n Bord kos is niè ‘n bord kos, as daar nie ertappels in is nie! Wat aarteppels aanbetref, dit kan maar bly, maar ertappels moèt moèt moèt daar wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.