Aarto: ‘Regering uit voeling met werklikheid’

Argieffoto van verkeersbeamptes. (Foto: Dept. van vervoer/Twitter)

Die regering is “uit voeling met die werklikheid”, aangesien die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) en die Wysigingswetsontwerp op Aarto nié padveiligheid sou verbeter of padsterftes in Suid-Afrika sou verminder nie.

Só sê die burgerregtegroep Outa nadat die Pretoriase hooggeregshof Donderdag in sy guns beslis en Aarto as geheel ongrondwetlik en ongeldig verklaar het.

Regter Annali Basson het saam met Outa se standpunt gestem dat die wetgewing onder meer onwettiglik inbreuk maak op die eksklusiewe uitvoerende en wetgewende bevoegdheid van die plaaslike en provinsiale regerings. Dit is omdat dit die regerings daarvan weerhou om hul eie sake te reguleer.

“Dit volg dus na my mening dat die Aarto-wet en die wysigingswet as strydig met die Grondwet in sy geheel verklaar moet word. Dit word dus verklaar dat die Aarto-wet en die wysigingswette ongrondwetlik en ongeldig is,” lui die uitspraak.

Outa is ingenome met dié beslissing en bestempel dit as ʼn belangrike oorwinning vir die burgerlike samelewing.

Die wet sou voorsiening maak vir ʼn strafpuntestelsel, waarvolgens motoriste punte sou verbeur vir verkeerswette wat oortree word. Indien ʼn sekere aantal punte verbeur is, sou motoriste se lisensies tydelik opgeskort word. Motoriste sou ook heffings moes betaal vir elke oortredingskennisgewing wat hulle ontvang.

Adv. Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van die verantwoordbaarheid- en bestuursafdeling by Outa, sê die stryd om motoriste teen die ondeurdagte wet te beskerm is nog nie verby nie. Die organisasie is wel tevrede dat die uitspraak die regering terug “na die tekenbord sal stuur”.

“Dit is jammer dat die regering weereens gekies het om geldige bekommernisse en goed nagevorste insette te ignoreer en voortgegaan het met die wysiging. Hulle het nie net baie tyd gemors nie, maar ook hulpbronne, aangesien die inwerkingstelling van Aarto gestaak sal moet word terwyl die wet weereens gewysig en deur die wetgewende proses geneem moet word.”

Outa het vroeër ʼn hofaansoek ingedien om dié omstrede wetgewing te betwis. Die groep het nie net bedenkinge oor die grondwetlikheid daarvan gehad nie, maar ook ʼn ernstige probleem met die praktiese inwerkingstelling van die beoogde strafpuntstelsel vir motoriste.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het intussen gesê hy verwelkom ook die hof se besluit “aangesien dit ons standpunt bevestig dat Aarto nie padveiligheid bevorder nie, maar eerder op inkomste-invordering gerig is”.

Die VF Plus het ook die hof se uitspraak verwelkom en sê die stelsel sou beslis misluk. “Die stelsel is kompleks en sou nie sy doelwit behaal om die land se paaie veiliger te maak nie. Die toetsfase van Aarto, wat in drie Gauteng-metro’s van stapel gestuur is, het duidelik getoon dat beserings en sterftes weens padongelukke geensins gedaal het nie, maar eerder toegeneem het sedert die inwerkingstelling van die stelsel.”

Die VF Plus sê ook die stelsel is gesofistikeerd en vereis ʼn omgewing van integriteit en hoë standaarde om te werk. “Daar is geen sodanige omgewing geskep nie. Inteendeel, die nuwe stelsel het eerder die omgewing geskep vir talryke misbruike tot nadeel van lede van die publiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ons almal weet die regering het geen idee wat die werkliheid is nie, veral as dit by geld, besigheid, werk en mense kom nie.

Aai ·

ANC weet julle wat veroorsaak ongelukke en sterftes onpadwaardige voertuie en al die M@erse gate in die pad dit is skrikwekkend.

Casper ·

Hierdie wetgewing het nooit te doel gehad om motoriese te dwing om hulle te gedra nie maar eerder ‘n manier om geld te maak.Ek wonder vir wie se laaaaang vingers,Mbambula.Dink aan al die “bribes”.Vir baie beamptes sou dit lonend gewees het.

Anoniem ·

Dit dui weer op die waarde van burgerlike verset teen rowers wat hulsef ‘n regering noem. Burgers 10-Regering 0.

Renier johannes ·

Ons moet ons voertuie padvaardig hou . Maar hoekom hou hulle nie hulle paaie in stand nie dis pateties verby

Dup ·

Dit gebeur as hulle 1ste wêreld standaarde in 3de wêreld omgewings wil implimenteer.Dit sal NOOIT werk nie.Veral as jy sit met mense wie wag dat iets misluk of breek voordat hulle dit vervang.
Zero beplanning en zero navorsing.

Deon ·

Wat maak hulle met n persoon wat nie n bestuurs lisensie het nie? Gee hom n boete? Wat gebeur as boetes nie betaal word nie?

SwartBees ·

Hy ry maar verder sonder lisensie want ons het geen betroubare publieke vervoer sisteem in plek nie.

Salome ·

Kyk wie is die mense wat die meeste ongelukke veroorsaak. Taxis, groot vragmotors en mense sonder lisensies en ook onpadvaardige voertuie.

Dr Pieter ·

Dit is wonderlike nuus. Die wet ontneem ons ook die reg om die geldigheid van ‘n boete in die hof te betwis en maak administratiewe personeel regter en jurie .

Harley Davidson ·

Die regering is uit voeling met elke aspek van die gewone man op straat se lewens behoeftes.

Johann ·

Oops!!!!!?? Wat nou gedoen om die bankrot ANC se voer krippe vol te maak?

Frank ·

Hierdie terroriste regering en anc sal tot niet gaan. Nog `n kort tydjie.

Marina ·

Nou hoe op dees daarde sou Aarto padsterftes verminder ….

Benita ·

nee anc die meeste sterftes op die paaie is die taxi’s en gekoopte lisensies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.