‘Aarto-regulasies meer oor geldmaak as padveiligheid’

(Argieffoto: GCIS)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê die konsepregulasies oor die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, oftewel Aarto, maak ʼn bespotting van die bewering dat die wet veronderstel is om verkeersveiligheid te verbeter.

Die AA sê dit is eerder die skepping van ʼn manier om geld in te vorder.

Die konsepregulasies is aan die begin van die maand aangekondig en die AA sê een van sy eerste besware is ʼn kwessie wat hy al ʼn jaar gelede aangeroer het. Dit behels die R100-heffing wat ʼn motoris moet betaal vir elke oortredingskennisgewing wat uitgereik word. Indien dié heffing goedgekeur word, sal die staat R1 miljard invorder vir elke 10 miljoen boetes wat hy uitreik – en dit vir werk wat die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) alreeds doen.

Die AA sê dit is ʼn buitensporige en onbillike bepaling en soortgelyk daaraan om van iemand te verwag om ʼn heffing te betaal om hul belastingopgawe in te dien. “Dit is ʼn uiters onregverdige bykomende belasting vir werk waarvoor reeds deur verkeersboete-inkomste betaal word,” sê die AA.

Die organisasie sê die gedeelte van die wet wat dié heffing moontlik maak is in die wysigingswet vervat sonder ʼn verduideliking van waarvoor dit is, maar die konsepregulasies maak die bedoeling nou glashelder. Daar is egter geen duidelikheid oor of die bedrag terugbetaalbaar is as ʼn motoris die boete suksesvol laat opskort nie.

Die AA vra mense nou om kapsie te maak teen die konsepregulasies en waarsku indien dit nie gedoen word nie, daar op hul regte inbreuk gemaak kan word as die wetgewing deurgevoer word. Hy doen ook ʼn beroep op die departement van vervoer om dit uit die regulasies te verwyder.

Nog een van die voorstelle in die konsepwetgewing is die gebruik van gewone pos – nie meer geregistreerde pos nie – om boetes uit te stuur. Ingevolge die voorstelle sal die owerhede ook voortaan 60 dae hê om ʼn boete uit te stuur, terwyl dit vantevore 40 dae was.

Die AA sê die regulasies maak dit so moeilik as moontlik om die wetgewing te verstaan en daaraan te voldoen en probeer mense sover kry om die boete eerder so gou moontlik te betaal – selfs al het hulle ʼn regmatige verweer.

“Dit steun ons interpretasie dat die regulasies daarop gemik is om geld te maak en nie werklik toestande op ons paaie wil verbeter nie,” sê die AA.

Die AA sê ingevolge die wetgewing is die straf vir ʼn baba wat nie behoorlik vervoer word nie, ʼn enkele strafpunt en ʼn boete van R1 500. Sou jy versuim om die owerhede op die hoogte van jou persoonlike besonderhede te hou, beloop die boete voortaan ʼn allemintige R3 000, pleks van die vorige R500.

Versuim om agter die wit streep by ʼn verkeerslig of stopstraat stil te hou, gaan jou voortaan drie strafpunte kos en ʼn boete van R2 000. Vantevore is só ʼn oortreding as ʼn tegniese oortreding gesien, eerder as een wat werklike gevaar skep.

“Sitplekgordels kan dood of ernstige besering in ongelukke met tot 75% verminder. As veiligheid deurslaggewend vir Aarto was, sou werkende sitplekgordels ʼn groter prioriteit gewees het as die kloof van hare oor waar presies ʼn motoris gestop het.”

Die AA sê sommige van die regulasies het meriete. Dit sluit in dié wat verband hou met motoriste wat in noodbane ry asook die misbruik van lisensies.

Lede van die publiek het 60 dae om kommentaar op die voorgestelde regulasies te lewer. Die AA het ook ʼn voorlegging daaroor wat motoriste hier kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Julle ANC sirkus sal nooit ooit regkom nie nie eers oor n honderd jaar van nou af nie. Julle hele lot narre moet terug gaan skool toe en graad een gaan klaar maak.

Phillip

Eks daar voor . Volg die padreels en ons sal nie boetes kry nie . Het my linsensie al 25 jaar en 4 boetes teen my gehaad waar van 2 die werk se bakkie was en geskrap was Meterleeser

Derek

Ek stem heeltemal saam met die skrywer. Die regering is geensins in voeling met die mense in Suid Afrika en het bloot n geld wolf geword. Alles draai net om geld, selfs hul modelle en planne het geen stukrag omdat hul visie en missie geld is, die melkkoei het opgedroog. Daar is nie meer melk en heuning nie, want hulle het dit vernietig met eie belang, selfsug en gierigheid. Kyk maar na die politici en sien in watter weelde hul leef, dit het tyd geword dat juis hulle rykmans belasting moet betaal, dit is die resultaat van gewetenloosheid, n algemene… Lees meer »

Blikke

Lekker lag ek nou…..ons almal weet wie die gewoonte oortreders is en gaan in elk geval hulle agterente afvee en voortgaan met die oortredings…..die is SA vir die owerheid wat dit nog nie weet nie. Piesang Republiek!!!

SomeOne

“Versuim om agter die wit streep by ʼn verkeerslig of stopstraat stil te hou” , en binne ‘n week is al die taxi operateurs sonder lisensies !!!!!! skuus tog, dit is nie op hulle van toepassing