Aarto ‘sal bestuursgedrag korrigeer’

(Foto: Pixabay)

Die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) meen Aarto sal die gedrag van motoriste in Suid-Afrika verander.

Japh Chuwe, registrateur van RTIA, het gesê die implementering van die Wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) sal ʼn nuwe en radikale benadering inlei tot die bestuur van alle verkeersaangeleenthede en veiligheid op paaie.

Nagenoeg 14 000 mense sterf jaarliks op die land se paaie en volgens Chuwe is die ekonomiese impak daarvan sowat R147 miljard.

“Met die implementering van Aarto wil ons in wese die gedrag van motoriste verander. Die kritieke oorhoofse doel is verkeersveiligheid.

“Deur Aarto te implementeer sal ons mense se gedrag kan verander van totale verontagsaming van padverkeerswette na ʼn beleid van geen verdraagsaamheid jeens verkeersoortredings en die inwerkingstelling van ʼn nuwe gewoonte van vrywillige nakoming van padverkeerswette.”

Aarto is reeds uit verskillende oorde gekritiseer, onder meer deur Outa en Justice Project SA, maar volgens Chuwe is die minister van vervoer, Fikile Mbalula, reeds besig met “nasionale bekendstellingsplanne”.

Hy het gesê die minister het deur middel van Aarto hom daartoe verbind om die bloedbad op die land se paaie te bekamp en die benadering tot verkeersveiligheid te heroorweeg.

“Die doeltreffendheid van die stelsel is tydens die loodsfase in die munisipaliteite van Tshwane en Johannesburg getoets. Daar is lesse geleer uit sekere uitdagings en dit het gehelp om die strategie te bepaal vir die nasionale bekendstelling daarvan.”

Chuwe het benadruk dat die ware bedoeling van Aarto nie bloot is om voorsiening vir strafmaatreëls te maak nie.

“Dit is bedoel om voldoende aandag te gee aan gedrag wat nie voldoen aan die wetgewing nie, en om by te dra tot ʼn verandering in die gedrag en gesindhede van motoriste tot die nakoming van padverkeerswette.”

Aarto is verlede maand deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig. Dit is egter nog nie duidelik wanneer dit van toepassing sal word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Die probleem is nie die reels nie, dit is die toepassing daarvan. As die huidige reels streng polisieer word sal daar groot verandering wees maar dit klink na werk

Marius

Al wat gaan gebeur is dat daar meer omkoopgeld afgepers gaan word van motoriste…

Hendrik

Wys ons eers hoe korrigeer julle die taxis se gedrag. Dit is niks om langs die paaie te sit en motors af te trek. Beweeg saam met ons in die verkeer in en haal die skuldiges uit. Dit is lekker om net agter wette te skuil en die algemene publiek te intimideer. Ons maak almal foute maar die wetteloses koop hulle self los en gaan voort met die moordaanslag op ons paaie.

Poot

Ag asseblief Aarto. Probeer ñ taxi bestuurder se gedrag verander. Ek wil dit graag sien.

nieBAFUnie

…….. sal bestuursgedrag korrigeer. Nie in ‘n piesang republiek nie !! Moet in elk geval bestuurDERSgedrag lees.