Aarto se e-tolboetes is ‘roekeloos, ongrondwetlik’

(Foto: ANA)

Die VF Plus verdoem die voorgestelde duur e-tolboetes in die nuutste Aarto-regulasies.

“Die boetes kan dieselfde effek hê as ‘n tweede vlaag van Covid-19 in Gauteng, aangesien die hoofweë die ekonomiese lewensaar van die provinsie en Suid-Afrika is. Die boetes kan veroorsaak dat die gebruik van die hoofweë eenvoudig gestaak word,” sê Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus.

Terwyl daar bespiegelinge bestaan of ‘n tweede vlaag Covid-19 die provinsie moontlik kan tref, skep die regering ‘n selfgemaakte krisis met die boetes wat die provinsie finaal finansieel kan knak. Die VF Plus beskou daarom die voorgestelde boetes as roekeloos en eis dat dit dadelik onttrek word.

Voorts beskou die VF Plus die boetes as ongrondwetlik. “Die Aarto-wetgewing se doelwit is by uitstek om padverkeersveiligheid te bevorder, en die gebruik van Aarto om e-tolboetes te administreer, is dus onvanpas en uiters opportunisties,” het Alberts bygevoeg.

Die Aarto-regulasies stel ontstellende hoë boetes van R500 per tolbrug voor vir onbetaalde e-tolfooie plus ‘n R100 administrasiefooi per kennisgewing wat uitgestuur word.

“Die gevolg is dat selfs die aflê van klein afstande in Gauteng onbekostigbaar sal wees en tot ‘n ekonomiese ramp sal lei. Wat die regulasies so gevaarlik maak, is dat die nie-betaling van Aarto-boetes daartoe kan lei dat die uitneem en hernuwing van lisensies geblok kan word. Dit kan padgebruikers moontlik dwing om ongelisensieer te bestuur wat natuurlik ‘n negatiewe uitwerking sal hê op die versekering van voertuie.”

Alberts meen dit is skandalig dat die Gautengse ANC-regering, nieteenstaande sy sogenaamde opposisie teen die e-tolstelsel, steeds nie die nasionale regering kon beweeg om die e-tolstelsel af te skaf nie.

Die VF Plus beskou die e-tolstelsel as sonder enige legitimiteit en eis dat dit onmiddellik afgeskaf word voordat dit verdere ekonomiese skade veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bernard ·

Hansworsies kry seker “kickbacks” van Kapsch Trafficom

Jywilwat ·

Waar gaan hulle nog geld uit Suid Afrikaners probeer uitwurg. Die opsies raak min en hulle raak desperaat…

Dirk Mostert ·

Daar word bespiegel dat Tito vandag ‘n welvaartbelasting gaan afkondig om die boeke te laat klop. Verdere (rasgebaseerde?) “verdeling van rykdom”.

Annette ·

Ek het nie gedink ek sou ooit in my lewe so negatief kon voel oor ons pragtige land nie. Elke keer word daar nog iets nuuts uitgedink om groter laste op ‘n voos samelewing te lê terwyl die “fat cats” net al hoe vetter word. Voeg daarby al die moorde, geweld, misdaad, korrupsie, onregverdigheid, ek het nie woorde om alles te beskryf nie, dan kan ons net bid dat die Here uitkoms sal gee voordat hierdie land heeltemal ten gronde gaan. En nee, ek is nie een van dié wat my goedjies kan vat en padgee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.