Aarto-strafpuntstelsel eers heelwat later van krag  

(Argieffoto: Departement van vervoer/Twitter)

Die omstrede wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) het vandag in werking getree. Dit sal egter in fases ingestel word en die strafpuntstelsel sal eers oor ʼn jaar in werking tree.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Aarto-wetsontwerp op 13 Augustus 2019 onderteken en dit sou in Junie verlede jaar landwyd in werking getree het, maar dit is egter weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Donderdag aangekondig dat Aarto in vier fases ingestel sal word. “Ons is bewus van die opmerkings en vrae wat lede van die publiek het met betrekking tot die inwerkingstelling van Aarto en die strafpuntstelsel.”

Aarto is al sedert 2008 in die Tshwane-metro en Johannesburg in werking, maar sonder die strafpuntstelsel. Mbalula meen die stelsel is met welslae in die Tshwane-metro en Johannesburg toegepas ondanks sekere groeipyne. Ander partye het dit egter as ʼn reusemislukking beskryf en gesê dit moet ʼn aanduiding wees dat die regering nie oor die vermoë beskik om dit nasionaal in te stel nie.

Die fase-inwerkingstelling van Aarto is volgens Mbalula om te verseker dat alle metro’s en plaaslike munisipaliteite die wetgewing ten volle nakom danksy lesse wat geleer is met die toepassing daarvan in Johannesburg en Tshwane.

Die eerste fase, wat vandag in werking getree het en tot 30 September voortduur, behels die totstandkoming van sewe dienspunte en om die NaTIS-stelsel in staat te stel om Aarto-betalings in te vorder. ʼn Bewustheidsveldtog sal terselfdertyd gehou word.

Minister Fikile Mbalula. Foto: @MbalulaFikile/Twitter

Fase twee, wat van 1 Oktober tot 31 Desember sal plaasvind, is geoormerk om 67 metro’s en plaaslike munisipaliteite aanlyn te kry rakende die Aarto-proses, asook die totstandkoming van ʼn verdere 18 dienspunte. In dié tydperk sal die appèltribunaal, wat motoriste se besware gaan aanhoor, in volle werking tree.

Van 1 Januarie tot 30 Junie 2022 sal fase drie plaasvind en die 144 oorblywende plaaslike munisipaliteit ook ingesluit word.

Die strafpuntstelsel sal op 1 Julie 2022 in werking tree wanneer fase vier begin. Dié fase sal tot 30 Junie 2023 duur en daartydens sal rehabilitasieprogramme vir reeksoortreders bekend gestel word en 20 Aarto-selfdienswinkels tot stand kom.

Mbalula het gesê wanneer die vierde fase, naamlik die strafpuntstelsel, begin, sal motoriste nie meer kan aanvoor dat hulle nie die aard en gevolge van die Aarto-proses verstaan nie. Volgens die strafpuntstelsel sal motoriste strafpunte kry vir elke verkeersoortreding. ʼn Maksimum van 15 punte kan opgehoop word waarna ʼn bestuurder se rybewys vir drie maande opgeskort word vir elke punt waarmee die drempel oorskry is. Strafpunte word met een punt elke drie maande minder indien daar geen verdere oortredings is nie.

Mbalula het daarop gewys dat Aarto ingestel word “om lewens te red” en dat diegene wat padverkeerswette gehoorsaam niks sal hê om oor bekommerd te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pietertjie ·

Ek voorsien groot moeilikheid as die strafpunte-ding reg gaan werk: kort voor lank gaan geen taxi-bestuurder dan meer oor ‘n geldige rybewys beskik nie.

Die Boerepompie ·

Daar sal meer mense sonder rybewyse ry die kan nie werk nie

Samuel ·

Sal hierdie ding ooit in SA kan werk? Taxi’s sal geheel en al verdwyn. Dit is ‘n droom wat nie sal waar word nie.

JohanR ·

Die oe en die mond was bietjie groot! Wat kon die ANC al reg kry in 27 jaar…….en nouR2D2 – Aarto

koos10 ·

Dus ‘n goed uitgedinkte “plan” wat eintlik net moes lees “Ons, die ANC, is clueless. Ons kan nie besluite uitvoer nie, en het geen plan nie.”

KB ·

Hy het naam weggegooi as minister van Sport, nou begeef hy hom op die terrein waar hy nog minder van weet. Dis ‘n klugspul.

DIABLO ·

Wat n pot bollie! Nog n plannetjie wat sy alie gaan sien sonder n spieel. Trek sommer nou al taxis en die bloulig brigades se punte alles af.

Adriana ·

Dit gaan in elk geval net op ons wetgehoorsame landburgers van toepassing wees, taxi’s gaan in elk geval hul nie daaraan steur en nog steeds maak en doen wat hul wil, geen reëls is van toepassing op hul, hul is bo die wet verhewe

Nico ·

Die punte stelsel werk in Saarbrucken, Duitsland, hoekom, omdat die stelsel reg gebruik word, hier in SA kan dit nie werk nie, daar is te veel onderduimse gebruike. Sal die taxi’s dit aanvaar, nee, daar sal ook te veel bedrog en omkoop geld wees. Pad veiligheid kom hier ter sprake, daar is nog steeds geen dissipline en dronk bestuurders op die pad, bestuurders wat nie die padreëls na kom nie, stop die sogenaamde punte stelsel, net sekere bestuurders gaan oor gesien word.

Dirk Mostert ·

Word strafpunte toegeken vir oortredings nadat jy in die hof skuldig bevind is, of sonder ‘n aanmaning om in die hof te verskyn, sonder dat jy eers weet van die beweerde oortreding? Ek beskou Aarto as nog selektiewe verdr…ing deur die r-woord (sinoniem met regering, maar minder vleiend).

Anoniem ·

Belaglik. Hul kannou nie eens die onwettige /onverskillige bestuurders in toom hou nie, hoe dink hul gaandit gaan as die punte stelsel inwerking tree. Hul sal moet begin tronke bou om almal toe te sluit, want om lisensie op te skort gaan beslis nie ‘n straf wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.