Aarto uitgestel weens Covid-19

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

Die ministerie van vervoer het Dinsdag gesê die landswye inwerkingtreding van die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe-wet (Aarto) is uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

Die Aarto-wetsontwerp, wat ʼn strafpuntestelsel insluit, is in Augustus 2019 bekragtig. Dit sou na verwagting teen die middel van 2020 in werking getree het.

Ayanda Allie Paine, woordvoerder van die ministerie, het in ʼn verklaring gesê die impak van die Covid-19-uitbreking het druk geplaas op die kapasiteit van die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA). Die RTIA is verantwoordelik om Aarto in werking te laat tree en om te bepaal wanneer die wetgewing van krag sal wees. Die organisasie het egter weens die pandemie ʼn verlies aan inkomste gely wat die voorbereiding vir Aarto sou ondersteun.

“RTIA is dus in hierdie stadium glad nie in ʼn posisie om suksesvol die Aarto-wet in werking te laat tree nie. Die situasie sal binnekort hersien word.”

Dié wet, wat al baie kritiek ontlok het, is die regering se antwoord op die hoë getalle ongelukke en sterftes wat jaarliks op Suid-Afrika se paaie voorkom

Die burgerregtegroep Outa het vroeër gesê hy glo die Aarto-wet is ʼn stuk wetgewing wat nie goed deurdink is nie en onmoontlik gaan wees om in werking te stel. Die organisasie meen dit is irrasioneel, onprakties, wetlik gebrekkig en nie die ideale oplossing nie. Boonop het die Aarto-loodsprojekte geen duidelike uitwerking op padveiligheid gehad nie.

Outa skryf padsterftes grootliks toe aan die gebrekkige toepassing van verkeerswette, ʼn gebrek aan die bestuur van oortredings wat begaan is en ʼn verskeidenheid probleme wat betref voertuig- en bestuurderlisensiëring. Volgens die organisasie is Aarto nie ontwerp om dié probleme te pak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
MrMagic

Sou hulle die Aarto-wet in werking stel en toepas gaan daar seker nie veel taxi’s meer op die pad wees nie.

Daleen

Dis die beste grap die jaar. Asseblief ek het 20 jaar terug by ‘n bank gewerk wat “leasing” van voertuie aan maatskappye gedoen het. Ek onthou goed – dit was die jaar 2000 en ons moes al die maatskappye besoek en elke drywer se volle name, ID, huis adres, posadres en talle ander dinge in plek kry want AARTO is reg om geloods te word. Soos malgoed daardie tyd oor die 300 000 mense se inligting gekry en dit het op ‘n daaglikse basis verander. En dadels het daarvan gekom. Ek is al afgetree en NOU skielik gaan dit weer… Lees meer »

Nico

Waarom stop hulle nie die alkohol verkope nie, alkohol gebruik is die oorsaak van pad sterfes, die taxi’s en die groot vragmotors is die eintlike skuldiges en die drink en bestuur en die verkeers owerhede doen niks daaraan nie, dit is mos makelik om die skuldiges te laat gaan, vra net ‘n bripe.

Kobus2

Geldmaakspul!! (So, wat is nuut?) Maklike manier om geld te maak uit die reeds sukkelende belastingbetaler! Hierdie “pandemie” het duidelik gewys: gee ‘n “persoon” mag en outoriteit, en hy gaan totaal oorboord met die simptome van “Kleinmannetjie-sindroom” bloot omdat hy/sy verstandelik agtergeblewende is. Dink iemand ook dadelik E-tol sisteem? Nóg ‘n lagwekkende ramp!!!! Puntesisteem??? Maar, moet jy nie eintlik geletterd wees en ten minste kan somme maak nie? Wonder maar net…

Scalla

Covit word as rede aangevoer vir mislukking?