Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê voorgestelde regulasies vir die Aarto-wet is niks anders as heffing van indirekte belasting nie.
Die Administratiewe Beregtiging van Verkeersmisdrywe (Aarto) het onlangs voorgestelde regulasies in die staatskoerant geplaas. Dit behels onder meer dat motoriste strafpunte kry en uiteindelik hul bestuurslisensies kan verloor weens verkeersoortredings. Dié regulasies kan dalk reeds in April in werking tree.
“Volgens hierdie regulasies moet motoriste ʼn fooi betaal vir elke oortreding-kennisgewing wat aan hulle uitgereik word. Volgens ons interpretasie van die voorgestelde regulasies sal ʼn bykomende R100 gehef word op elke boete wat uitgereik word, ongeag hoeveel die boete is of hoeveel strafpunte dit behels,” lui die AA se verklaring. “Dit beteken motoriste betaal belasting op elke boete wat hulle ontvang.”
Die AA wys uit dat hierdie bepaling die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) jaarliks miljarde in die sak kan bring. “Dit is soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat verbruikers ʼn fooi vra elke keer dat hulle hul belastingopgawes indien.”
Afgesien van hierdie fooi sal motoriste tot R240 moet opdok om navraag te doen oor hoeveel strafpunte hulle het. Maatskappye moet oor die R1 000 hiervoor betaal.
“Motoriste moet eerder toegang hê tot ʼn eenvoudige aanlyn stelsel om hul strafpunte te sien,” sê die AA. “Dit blyk egter dat die beplande regulasies ten doel het om ʼn inkomste te skep, eerder as om motoriste te straf vir hul oortredings.”
Die AA twyfel ook of die beplande appèltribunaal die kapasiteit sal hê om al die dispute te hanteer, aangesien 26% (1,1 miljoen) van alle kennisgewings van oortredings verlede jaar bevraagteken is.
Die AA sal formeel kommentaar lewer op die beplande regulasies. Lede van die publiek het tot 10 November om kommentaar te lewer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
35 Kommentare
Vandag is die ekstra groot uitveër weer aan die werk
Ons wil in ‘n eerste wêreld land bly maar wanneer eerste wêreld land regulasies in plek gesit word word toys uit die kot gegooi. Nou verstaan ek nie…
Mooi hoop net ALMAL moet dit betaal.
As jy by die reëls hou hoef jy niks te betaal. So maklik soos dit.
Die melkkoei is baie naby aan droog gemelk. Die ANC gaan hard aarde toe kom as die inkomste opdroog soos die riviere en damme. Groter probleem om mee rekening te hou né