Aartsbiskop Desmond Tutu dán gegroet

Roubeklaers het reeds van Maandagoggend af by die St. George-katedraal byeengekom om hulde aan Tutu te bring (Foto: Rodger Bosch, AFP)

Die ikoniese geestelike leier emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu sal Saterdag amptelik in die St. George-katedraal in Kaapstad gegroet word.

Die diens sal om 10:00 in die katedraal begin en slegs 100 mense word toegelaat om dit by te woon weens Covid-19-protokol.

Tutu sal Vrydag al in die katedraal in staatsie lê, waar honderde roubeklaers hom sal kan groet. Roubeklaers het reeds van Maandagoggend af by die St. George-katedraal byeengekom om hulde aan Tutu te bring. Hulle het ook blomme neergelê.

Die klokke van die St. George-katedraal sal van Maandag tot Vrydag elke dag vir tien minute gelui word ter nagedagtenis aan Tutu.

Die Suid-Afrikaanse krieketspan het swart armbande ter ere van Tutu gedra op dag een van die eerste toets teen Indië in Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig Tutu is Sondag, ʼn dag ná Kersfees, oorlede. Hy was 90 jaar oud en die laaste oorlewende Suid-Afrikaner wat die Nobelprys vir Vrede ontvang het.

Hy het die afgelope jare ʼn stryd teen prostaatkanker gevoer.

President Cyril Ramaphosa het Tutu Sondagaand as ’n man van “buitengewone intellek, integriteit en onoorwinlikheid teen die magte van apartheid” beskryf.

“Tutu se dood is nog ’n hoofstuk van rou in ons nasie se afskeid van ’n generasie uitnemende Suid-Afrikaners wat gehelp het om ons ’n bevryde Suid-Afrika te maak,” het Ramaphosa gesê.

Tutu se dood volg sowat ʼn maand ná die afsterwe van oudpresident FW de Klerk.

Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama sê hy het Tutu as ’n “morele kompas” beskou.

“’n Universele gees, aartsbiskop Tutu was betrokke in die stryd vir bevryding en geregtigheid in sy eie land, maar hy was ook bekommerd oor onregmatighede wêreldwyd,” het Obama in ’n verklaring gesê.

Die Keniaanse president Uhuru Kenyatta het gesê Tutu het “’n generasie Afrika-leiers geïnspireer wat sy nie-gewelddadige benaderings in die bevrydingstryd omarm het”.

Brittanje se koningin Elizabeth II het gesê dat Tutu se dood haar “diep bedroef”, terwyl die Vatikaan gesê het dat pous Franciskus “opregte meegevoel met sy familie en geliefdes” betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.