Aartsbiskop Desmond Tutu sterf

Aartsbiskop Desmond Tutu. (Foto: Facebook/ Desmond Tutu)

Die ikoniese aartsbiskop Desmond Tutu is Sondag, ʼn dag ná Kersfees, oorlede. Hy was 90 jaar oud en die laaste oorlewende Suid-Afrikaner wat die Nobelprys vir Vrede ontvang het.

Hy het die afgelope jare ʼn stryd teen prostaatkanker gevoer.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy hartseer oor Tutu se dood en sy diepe medelye met sy vrou, Leah, en die res van die Tutu-familie uitgespreek.

“Ons land neem weereens afskeid van ʼn besonderse Suid-Afrikaner wat bygedra het om ʼn vry Suid-Afrika te verseker.

“Die afsterwe van die welbekende geestelike leier en teen-apartheidsaktivis vorm nog ʼn hoofstuk van ons land se geskiedenis. Ons groet nog ʼn buitengewone Suid-Afrikaner wat gehelp het om ʼn bevryde Suid-Afrika te verseker.

“Desmond Tutu was ʼn leier sonder gelyke, ʼn leier met sterk waardes en pragmatisme wat betekenis verleen het aan die Bybelse waarheid dat geloof sonder dade niks beteken nie,” het Ramaphosa gesê.

Tutu was die eerste swart man wat in 1985 as aartsbiskop van Johannesburg en later van Kaapstad aangewys is. Hy het deel gevorm van die waarheid-en-versoeningskommissie en was ʼn kampvegter vir menseregte.

Hy het in 1984 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy rol in die stryd teen apartheid.

Hoewel hy ʼn stoere lid van die ANC was, het hy hom in die laaste jare van sy lewe sterk uitgespreek teen korrupsie en wanpraktyke binne die geledere van die regerende party.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.