AB bedank as toetskaptein

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers het besluit om met onmiddellike inwerkingtreding as kaptein van die Suid-Afrikaanse toetsspan te bedank.

De Villiers is in Januarie vanjaar aangestel ná Hashim Anla se bedanking en het die span in twee toetswedstryde teen Engeland gelei voordat hy weens ʼn besering die reeks teen Nieu-Seeland en Australië aan die begin van die 2016-’17-seisoen moes misloop.

De Villiers het oor sy besluit om te bedank gesê die belange van die span moet altyd meer weeg as die belange van enige individu, onder wie hyself. “Dit was ʼn fantastiese eer vir my om gevra te word om die kaptein vir die toetskant te wees, maar ek het twee reekse misgeloop en is steeds in die weegskaal vir die opkomende reeks teen Sri Lanka. Na afloop van die span se uitstekende prestasie in Australië is dit duidelik in die beste belang van die span dat Faf du Plessis as voltydse toetskaptein aangestel word,” het hy gesê.

“Ek ken vir Faf al byna 20 jaar, vandat ons op skool by Afrikaans Hoër Seunskool saam gespeel het, en hy sal my volle ondersteuning hê as hy besluit om die leiding van hierdie opwindende Proteas-toetsspan oor te neem.”

Faf du Plessis.

Faf du Plessis.

De Villiers is by die drie-wedstryd-Sunfoil-toetsreeks teen Sri Lanka uitgeskakel nadat hy nie genoegsaam van ʼn elmboogbesering herstel het nie.

Dr. Mohammed Moosajee, die Proteas se spanbestuurder, het gesê hoewel De Villiers se elmboog baie verbeter het, moet hy nog die volle omvang van die elmboog se beweging terugkry wat nog drie tot vier weke kan neem. “Hy sal nie beskikbaar wees vir die toetsreeks teen Sri Lanka nie en ons beplan sy terugkeer vir die Momentum ODI-reeks wat einde Januarie begin,” het hy gesê.

Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het De Villiers geloof vir sy besluit. “AB was nog altyd ʼn ware spanspeler en sy besluit om uit te tree bevestig net sy oortuiging om altyd die span eerste te stel,” het Lorgat gesê. “Dit is geen verrassing dat die raad van Krieket SA bevestig het dat Faf du Plessis by AB sal oorneem as toetskaptein nie.”

Die Proteas se toetsspan vir die Sri Lanka-reeks sal later vandeesweek aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waghond ·

Dit was die regte ding om te doen. Die kapteinskap het ongelukkig AB se kolfwerk nadelig beinvloed. Daarenteen het Faf van voor gelei en die span in ‘n hegte en gedugte eenheid saamgesnoer.

judith ·

Waghond, ek stem 100% saam met jou. Was die regte ding om te doen! Geluk Faf jy verdien die een!

Kobus ·

Snoefie…ek stem ten volle saam….hoop van harte dat Loslip wat my n rukkie gelede oor n stelling wat ek oor Faf gemaak het….hierdie antwoord lees….ek nou nie n krieketafrigter maar geniet my krieket en hoop dat Loslip skaam kry deur te beweer ek niks van krieket weet.

Loslip ·

Ai Kobus,
Ek het nêrens gesê dat jy niks van krieket af weet nie.
Sien wel dat Franna dit vir jou gesê het onder ‘n berig wat oor die derde toets teen die Aussies gehandel het. Of dit korrek of foutief is, moet jy met ou Franna uitklaar.

Draaibal ·

As ek min of meer, plus-minus, ongeveer R200 miljoen in die bank gehad het, sou ek ook nie verder wou speel nie. Wat’s die punt? Ek sou tyd saam my gesin en familie en vriende wou spandeer….en maak soos ek wil wanneer ek wil met wie ek wil.

Kiepie ·

Wat vir ‘n ding is ‘n “toetskant” (paragraaf 3). Direkte vertaling van “test side” miskien? Nog nooit die uitdrukking gehoor nie.

knor bal ·

‘Draaibal” is jy die man se bank bestuurder dat jy sovvel weet wat in sy bankrekening aangaan. Jou stelling oor sy geldsake het niks met ons te doen nie. Buitendien sou jy na AB verwys het, hy het gewaag om om sy toekoms in die sport wereld te beoefen en hy het hard gewerk om te kom waar hy vandag is.

Uvonka ·

HY is nog altyd ‘n gentleman. Sterke AB en ek hoop jou besering hertsel vining.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.