AB pak kolf vir oulaas weg

AB de Villiers in aksie vir die Proteas. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Ná ’n merkwaardige loopbaan van 18 jaar en meer as 30 000 lopies (altesaam) het AB de Villiers besluit om sy krieketkolf weg te bêre.

“Dit was ’n ongelooflike reis, maar ek het besluit om my uittrede aan te kondig,” het hy in ’n verklaring op sosiale media gesê.

“Sedert die wedstryde in die agterplaas saam met my ouer broers het ek die spel geniet en met entoesiasme gespeel. Maar nou, op die ouderdom van 37, brand die vlam nie meer so helder nie.”

Tog was hy in sy loopbaan gereeld die vuur wat sy span aan die gang gehou het; maak nie saak of hy in die kleure van die Proteas, die Royal Challengers Bangalore of enige ander span gespeel het nie.

Onthou julle sy blitsige honderdtal teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers, of die onoorwonne 217 teen Indië in Ahmedabad, of die 169 teen die Aussies in Perth, of toe hy die enigste kolwer was wat ’n blitsige Mitchell Johnson kon tem, of sy laaste toetshonderdtal teen die einste Australiërs op ’n moeilike blad?

Soveel herinneringe van ’n flitsende kolf wat ’n mens nie sommer sal vergeet nie.

Hy was veral gevaarlik in witbalkrieket waar sy ongelooflike vermoë om enige aflewering na die grens te jaag hom die bynaam van Mnr. 360 ° besorg het.

Hy mag dalk in sy laaste paar IPL-wedstryde gesukkel het, maar daar is min kolwers wat dieselfde houe as AB de Villiers kan speel. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

Vroeër vanjaar het André Russell ’n baie vol aflewering buite De Villiers se wegpen van om die paaltjies in ’n Indiese Premierliga-wedstryd afgevuur, waarna die sterkolwer op een of ander manier die bal in die gaping tussen die paaltjiewagter en die wye gangetjie na die grens gejaag het.

’n 25-jarige kolwer sou sukkel om daardie hou te speel, om nie eens van ’n 37-jarige speler te praat nie.

“AB de Villiers speel baie kere houe wat net hy in wêreldkrieket kan speel. Ek dink nie ’n mens hoef na verdere beskrywende name of selfs gedigte te soek om hom te beskryf nie. Mnr. 360 ° pas perfek by hom,” het die Virender Sehwag, die voormalige Indiese openingskolwer, ná daardie beurt gesê.

Maar waar die meeste van De Villiers se beurte met die adrenalien en spoed van ’n F1-wedren vergelyk kon word, kon hy ook briek aandraai as die situasie dit van hom verlang.

In 2012 het hy 33 van 220 balle geslaan om die tweede toets teen Australië saam met Faf du Plessis in Adelaide te beredder.

Om vir 246 minute net te verdedig is ’n kuns op sy eie.

AB en Danielle de Villiers saam met Yente. Foto: Instagram.

“Krieket was uitsonderlik goed vir my. Maak nie saak of ek vir die Titans, die Proteas, RCB of enige ander span gespeel het nie; dit het vir my soveel geleenthede gegee en ek sal altyd dankbaar wees.”

De Villiers se derde kind (Yente) is verlede jaar gebore en hy is opgewonde om meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

“Niks sou moontlik sonder die opofferings van my ouers, broers, vrou (Danielle) en kinders gewees het nie. Ek sien na die volgende hoofstuk uit waar ek hulle werklik eerste kan stel.”

AB de Villiers was – soos wat die plakker op sy MRF-kolf tereg sê – ’n genie op die krieketveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marlien ·

Dit is n hartseer dag vir krieket, maar dankie is die genot wat jy ons gebied het. Gaan en geniet jou gesin.

Willem ·

Ek het jou uitstaande kolfwerk bewonder…TOTDAT jy besluit het om te begin knie buig..ter wille van geld .Ek het al my respek vir jou en jou maatjies verloor .Gaan geniet jou xtra moolas wat jy bygekry het ..OMDAT jy knie gebuig het..TOTSIENS.

DIABLO ·

Ja nee swaer. Mens se kiee kan nie hou met al die gebuigery vir BLM

MrMagic ·

Alle voorspoed AB. Ek dink jy het die regte besluit geneem, krekiet is SA se dae is getel. Mense sal veel eerder weer na die Lion King kyk as na krieket.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.