AbaThembu-koning uit tronk vrygelaat

AbaThembu koning Buyelekhaya Dalindyebo. Foto: Siphiwe Sibeko/Pool/AP

Die AbaThembu-koning Buyelekhaya Dalindyebo is uit die tronk vrygelaat.

ʼn Woordvoerder van die AbaThembu- koninklike familie het bevestig Dalindyebo is Maandagoggend vrygelaat.

Dalindyebo het in Desember 2015 begin om sy vonnis van 12 jaar uit te dien. Dalindyebo is in 2009 skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf opgelê vir verskeie misdade wat strafbare manslag, brandstigting, aanranding met die doel om ernstig te beseer en ontvoering insluit.

Nadat die koning die appèlhof genader het, is sy skuldigbevinding aan strafbare manslag ter syde gestel en sy vonnis tot 12 jaar tronkstraf verminder.

Dalindyebo se vrylating kom nadat pres. Cyril Ramaphosa op Versoeningsdag aangekondig het dat hy die straf van sekere kategorieë gevonniste oortreders gaan verminder.

Ronald Lamola, minister van justisie, het daarna aangekondig dat Ramaphosa die kwytskeldings goedgekeur het.

Lamola het gesê dit is egter nie geldig vir gevangenes wat skuldig bevind is aan seksuele oortredings, moord, poging tot moord, gewapende roof, hoogverraad of sabotasie of terrorisme, kindermishandeling en huishoudelike geweld nie.

Dieselfde geld ook gevangenes wat lewenslange tronkstraf opgelê is, gevangenes wat as geestesversteurd gekwalifiseer is of gevangenes wat as gevaarlik deur ʼn hof geklassifiseer is.

Volgens Lamola is die gevangenes wat kwytgeskeld gaan word hoofsaaklik diegene wat reeds onder korrektiewe toesig is of op parool vrygelaat is. Hy het gesê slegs 8,99% van die meer as 160 000 mense wat tans in gevangenisse is, sal vir die kwytskelding in aanmerking kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.