ABB betaal R1,56 miljard terug aan Eskom

André de Ruyter. (Foto: ANA)

ABB, die internasionale ingenieursmaatskappy, sal ingevolge ’n skikkingsooreenkoms R1,56 miljard aan Eskom terugbetaal nadat ’n kontrak vir werk by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga jare gelede op ’n korrupte wyse toegeken is.

Dié geld sal nou gebruik word om Eskom se skuld te vereffen, sê die kragvoorsiener.

Die skikkingsooreenkoms volg nadat ’n ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) onthul het dat amptenare van Eskom in 2015 ’n kontrak van R2,2 miljard met ABB gesluit het om ’n beheer-en-instrumentasiestelsel by Kusile te installeer.

Eskom het eindelik egter meer as R3 miljard betaal nadat amptenare die kragvoorsiener op ’n bedrieglike wyse aangespoor het om nog R800 miljoen aan ABB te betaal in onreëlmatige verhogings.

ABB het tydens die SOE se ondersoek vrywillig inligting rakende die sameswering verskaf en het nou ingestem om die R800 miljoen in onreëlmatige verhogings met onder meer rente terug te betaal.

“Ten einde langdurige gedingvoering te voorkom, het Eskom en die SOE daarmee saamgestem dat die skikkingsbedrag ʼn billike en redelike weerspieëling is van die skade wat Eskom, en by implikasie die inwoners van Suid-Afrika, gely het as gevolg van hierdie onwettige kontrak,” sê André de Ruyter, hoof van Eskom.

Twee voormalige bestuurders van Eskom het reeds in die hof verskyn en word vervolg in verband met hierdie en ander onreëlmatighede.

De Ruyter sê verder Eskom ondersoek die afgelope paar jaar ook ander verdagte kontrakte met die oog daarop om die verliese te verhaal wat hy gely het as gevolg van kriminele aktiwiteite deur sy eie werknemers wat moontlik onwettig met sommige kontrakteurs saamgespan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

En om dankie te sê implimenteer Eskom beurtkrag.

Pietertjie

Een druppel is al terug aan die emmer…

Stefan

As al die korrupsie op hierdie manier aangepak en terugbetaal word gaan ons ‘n baie welvarende land hè.

Die Wolf

Ja! Sou die vorige Bestuur die bul by die horings gepak het soos nou. Ek twyfel. Betaaldag was eerste prioriteit.

Strandloper

Wonder in wie se rekening die slag? Dit is mos op n roteerende basis om duursigtig te wees?