ABO-uitsprake: FAK nooi Britse LP om konsentrasiekampe te besoek

Jacob Rees-Mogg. Foto: AP Photo/Alastair Grant

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Jacob Rees-Mogg, die Britse LP wat onlangs in die spervuur beland het oor sy uitlatings oor konsentrasiekampe in Suid-Afrika, skriftelik genooi om Suid-Afrika te besoek om hom van die regte feite te vergewis.

Danie Langner, besturender direkteur van die FAK, nooi Rees-Mogg uit om spesifiek die Irene-konsentrasiekamp en Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein te besoek.

Maroela Media het vroeër berig Rees-Mogg het op die BBC se program Question Time tydens ’n besprekingspunt oor die nalatenskap van Winston Churchill onder andere gesê mense is tydens die oorlog in konsentrasiekampe gesit vir hul beskerming. “So dit was nie ʼn goeie ding nie, maar waar anders sou mense leef?” wou Rees-Mogg weet. Hy het volgehou mense is na konsentrasiekampe geneem vir hul veiligheid.

Langner het in sy brief daarna verwys dat die FAK in 1929 op die been gebring is as ʼn koördinerende kulturele organisasie. “Een van ons stigterslede en die eerste voorsitter, dr. NJ van der Merwe, is by Norvalspont-kamp in die Noord-Kaap aangehou toe hy slegs 11 jaar oud was. Hulle is met mag van hul plaas verwyder en daar is beslag gelê op al hul vee. Dr. van der Merwe, wat die beproewing oorleef het, het ʼn dominee in die NG Kerk geword en ʼn gedetailleerde beskrywing gegee van hul swaarkry. Met wintertemperature wat gereeld tot laer as vriespunt gedaal het en slegs tente as skuiling, het hy talle van sy kindermaats begrawe.

“Ons verstaan die Anglo-Boereoorlog was nie die voorwerp van bespreking tydens die gespreksprogram op BBC One nie. Jy het die historiese feite en nalatenskap van Sir Winston Churchill verdedig teen die verdraaiing van die geskiedenis en geskiedkundige feite. In die afgelope paar jaar moes Afrikaners dieselfde tipe laster, kriminalisering en minagting van ons geskiedenis weerstaan,” het Langner bygevoeg.

“Die waarheid is, talle Suid-Afrikaners het ʼn baie hoë agting vir Sir Winston Churchill en respekteer sy leierskap en nalatenskap. Daar was ʼn spesiale verhouding tussen Sir Winston Churchill en Afrikaners vir meer as ʼn halfeeu lank. Churchill het self, in sy skrywes tydens en ná die Anglo-Boereoorloog die Britte se haat jeens die Boere veroordeel en ʼn beroep gedoen dat hulle met “vrygewigheid en verdraagsaamheid” hanteer moet word.”

Langner het gesê ʼn gesprek oor die verhouding tussen Churchill en die Afrikaners sal onmoontlik wees as mens nie na sy verhouding met die Boere-generaal Jan Smuts verwys nie. “Hul vriendskap het vyftig jaar lank geduur, insluitend twee wêreldoorloë. Hulle het vir die eerste keer ontmoet toe Churchill deur die Boere in aanhouding geneem is. Churchill het in 1941 ʼn voorstel aan hul gemeenskaplike vriend, koning George VI gemaak dat genl. Smuts as ʼn ere-veldmaarskalk in die Britse Weermag aangestel moet word. Hier het hulle mekaar se vertrouelinge geword.

“Dit is dieselfde Smuts wat die koninklike familie ontvang het. Koningin Elizabeth II was ʼn 21-jarige prinses toe sy Suid-Afrika vir die eerste keer ontmoet het.”

Tydens die besoek aan Suid-Afrika in 1999, het haar hoogheid koningin Elizabeth II tydens haar toespraak gesê “niemand wat oplees oor die ontstellende toestande van die aanhoudingskampe, waar wit en swart persone aangehou is, kan onaangeraak bly nie, selfs vandag, 100 jaar later. Dit is net reg dat ons die 100-jarige herdenking van dié oorlog in ʼn gees van versoening vier”.

“As ʼn leier en politikus wat tradisie, familiewaardes, godsdienstige etiek en ʼn liefde vir sy land aanhang, is ons seker dat jy maklik sal verstaan waarom Afrikaners seergemaak is toe ʼn geskiedkundige gebeurtenis, wat die kern van ons nasie gevorm het, verkeerd geïnterpreteer word. Terselfdertyd verstaan ons dat jou kommentaar oor konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog waarskynlik nie bedoel was om iemand seer te maak nie.

“In plaas daarvan dat ons net bylas tot die talle negatiewe reaksies wat jy waarskynlik tot dusver ontvang het, nooi ons jou en jou familie graag na Suid-Afrika as ons eregaste om die onthulling op 12 Oktober 2019 van die ‘Versorgingsmonument’ by die Irene-konsentrasiekampgedenkterrein by te woon. Altesaam 1 300 kinders jonger as 15 jaar oud het in die Irene-konsentrasiekamp gesterf, ʼn klipgooi van Pretoria af, die hoofstad van Suid-Afrika. Die meer as ʼn duisend klein grafsteentjies is die beste bewaar en die grootste versameling grafstene van ʼn konsentrasiekamp in Suid-Afrika.

“Ná die Anglo-Boereoorlog het mev. Issie Smuts, genl. Smuts se vrou, minstens 40 weeskinders versorg wat die Irene-konsentrasiekamp oorleef het. Die nuwe monument simboliseer ʼn verpleegster in die konsentrasiekampte wat na siek en sterwende kinders omgesien het. Die monument se naam, ‘Versorging’, verwys nie net daarna dat ons vir ons geskiedenis moet sorg nie, maar dat ons ook vir ons toekoms moet sorg,” het Langner gesê.

Langner nooi Rees-Mogg ook na Bloemfontein om die Nasionale Vrouemonument te besoek. “Die monument is in 1913 opgerig om die lyding van die meer as 26 000 Boerevroue en -kinders te gedenk wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Britse konsentrasiekampte omgekom het.

“Ons hoop regtig dat jy ons uitnodiging ernstig sal oorweeg en ons die geleentheid sal bied om jou die Irene-konsentrasiekamp en die Nasionale Vrouemonument te wys. Hopelik sal só ʼn besoek nie net lei tot ʼn beter begrip van die konsentrasiekamp en ons gedeelde verlede nie, maar ook ʼn suksesvolle dialoog oor die talle kulturele, politieke en ekonomiese uitdagings wat ons gemeenskap vandag in die gesig staar,” het Langner afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Werner ·

Dankie FAK, wonderlike gebaar. My Boere-instink sal eerder ‘n verskoning en restitusie vir die ABO eis, maar dis hoekom daar diplomate moet wees wat hierdie sake hanteer, soos die FAK.

Vra net ·

Het enige Britse adelike of minister of enige iemand in enige gesagsposisie ooit om verskoning gevra vir die oorlogsmisdade wat hier in Suid Afrika gepleeg was?

Nettie ·

@Vra net – nee, ek dink nie daar is ooit om verskoning gevra deur enige Britse persoon in ‘n gesagsposisie nie, behalwe dat mej. Emily Hobhouse en die Fawcett Kommissie hul sentimente baie duidelik gemaak het en daar na die konsentrasiekampe verwys is as “Methods of Barbarism” en ook deur Mej. Hobhouse in haar memoires later verwys is na vrouens en kinders wat in die kampe dood is as “Who took the brunt where it fell”.

Henri ·

Uitstekende repliek met goeie balans tussen standpunt inneem en, met sensitiwiteit optree. Trots Afrikaans en goeie voorbeeld vir Suid Afrikaners van alle afkomste.

Dienkie ·

Nee @Vra net, sover ek weet het die Britte nog nooit spesifiek die Afrikanervolk omverskoning gevra vir die onreg wat hulle ons aangedoen het nie. Hierdie deel van die geskiedenis sal ons nooit kan vergeet nie. Die Afrikaner het egter aanvaar dat hierdie deel van die geskiedenis gebeur het, maar het opgestaan uit al die swaarkry wat hulle moes trotseer.

Jepetto ·

Hierdie storie maak my Boos Die Britte is Lafhaarts gewees Ek sou skaam gewees het as ek a Britt was geen wonder hulle praat nie daar oor of draai die feite

Gert Maritz ·

Ek het vir n dekade tussen Britte gebly:

Hulle ken nie van “jammer” of “sorry” nie en sien dit as n groot vernedering om te erken hulle was verkeerd. Dink hulle ook bang vir siviele eise…

Dankie FAK inelkgeval, goeie brief, maar Mogg as aristokraat het sy kop so in Brexit ek twyfel of hy sal reageer met n besoek of n verskoning.

Frederik ·

Rees – Mogg… Sal bitter graag wil hê dat jy en jou Queen by my ‘n draai kan maak. Maar soos ons almal weet die dag of tyd van waarheid kom vir ons almal!

Charles ·

Baie dankie aan die FAK, sonder hulle sou ons nie ‘n stem gehad het nie!

Hoe sê ·

Gee tyd die britte sal hul rekening nog betaal hulle sal daar nie verby kom nie en die rente gaan dalk bietjie hoog wees

Waarheid1 ·

Jip n swaar tyd le vir die Britte voor.
Dit gaan NAG wees.

Annie Webb ·

Rees-Mogg is een van die Konserwatiewes wat nou die hardste baklei vir Brexit en dus vir Britse onafhanklikheid en soewereiniteit sonder die juk van die hoogbesoldigde burokrate in die Europese parlement wat deur niemand verkies is nie en dus aan geen kiesers verslag hoef te doen nie. Ek vermoed op hierdie stadium sal Rees-Mogg wel deeglik empatie kan hê met Suid-Afrikaners se stryd teen oorheersing destyds, maar ek twyfel of hy tans tyd en energie oorhet vir enigiets behalwe Brexit. Die ondersteuners van Brexit veg letterlik, soos die Trump-ondersteuners in Amerika, vir die oorlewing van ‘n suksesvolle nasionalistiese kapitalisme teen ‘n vernietigende globalistiese sosialisme; en vir die reg om self te bepaal wie toegelaat word om hulle land binne te kom deur self grensbeheer toe te pas.

Johan Pretorius ·

Bog, hy is n tipiese Britse beterwetende aristokraat met geen tyd vir “3rde” wereldse Afrikaners… Jammer! Trump voel ook n veer, daar is n groot verskil tussen hulle nasionalisme en ons sin. Wake up!

mc ·

Daar is sekere van Brittanje se eie geskiedenis waaraan hulle nie herinner wil word nie. Die eerste toe hulle hul eie burgers op die Channel/Jersey Eilande in die steek gelaat het in die tweede wereldoorlog deurdat hulle net eenvoudig die eilande met al die Britse burgers op die eiland oorgegee het aan Duitsland. Ek sit vandag nog met die oorspronklike manuskrip, geskryf deur een van die eiland bewonders onder Duitse bewind gedurende daardie tyd. Alles wat hulle deurgemaak het. Hoe hulle uitverkoop was deur Brittanje. Hulle wil nie die boek publiseer op die eilande of in Brittanje nie, want dis vir hulle ‘n verleentheid. (glo my, ek het hard probeer) Net so was Emily Hobhouse ook vir hulle ‘n verleentheid, want dis hulle eie mense wat opstaan teen hulle gemene dade. Maar hulle is vinnig om hulle uit te spreek oor Suid-Afrika. Ek is jammer, ek begin al meer en meer glo Brittanje sit agter al hierdie plaasmoorde en chaos in Suid-Afrika. Sal graag hierdie manuskrip in Rees-Mogg se hande wil druk en vir hom sê, vergewis jou eerder van hoe julle jul eie mense verraai het, voor jy twak kwytraak oor wat julle aan ons vrouens en kinders gedoen het.

jean ·

Smuts was net ‘n ou kruiper……hulle het nog nooit geglo wat aan die vrouens en kinders gedoen is nie en dat die plase verbrand is om te verhoed dat die boere proviant en vars perde kon kry.
Die wiel begin draai vir Brittanje…die eens magtige koninkryk… met al die nuwe verwikkelinge.

Johanna Botha ·

As die Britte so mooi agter die mense wou kyk hoekom is daar dan so baie mense dood in die kampe ? ? …hoekom is my ouma se huis voor haar gebrand en hoekom was daar glas in die meel gewees …dis wat ek wil weet meneer ?

Johanna Botha ·

Die Britte het ook hulle bure (Ierland) laat doodgaan soos vliee toe hulle aartapples oes deur roes misluk het …letterlik gekyk hoe die mense doodgaan van die honger ! !

JAN ·

Die ingelse beskou Rhodes et al as…” the biggest scoundrels in history”
60000 vroue en kinders dood ,
60 000 plaasstrukture afgebrand, al die vee en wild [!] doodgemaak. Veld verbrand. Engelse gay Masons gewapende grond rowers : …’ the darkest hour in British history. ‘
Lees; The Man who Killed Kitchener ;Fritz Joubert Duquisne Susterskind van Genl Piet Joubert. Waarop James Bond storie basseer is.
Danksy die ANC is die argiewe oopgestel: absoluut ongelooflik erg – die staatsgeheime.

Fanie Kemp ·

Baie dankie FAK en Dr. Langner. Hierdie uitnodiging van julle getuig van verantwoordelike, volwasse optrede wat positiewe gevolge kan inhou en nie net kritiese vergelding nie.
Indien die betrokke Britse Parlementslid die uitnodiging aanvaar ( ons hoop werklik so ), kan dit net wees dat hy tot ander insigte kom en help om die verdraaiings oor die Afrikaner en haar verlede in die buiteland reg te stel.
Indien hy nie positief reageer nie, kan ons met reg aanvoer hulle wil nie die waarheid hoor nie, en dan moontlik die saak verder voer.

John ·

Die man weet dat hy nonsens praat. Om hom hierheen te nooi vir ‘n treat… Hy sal teruggaan en nog twak kwytraak ook oor grondhervorming… mark my words. Brittanje hou nog altyd die opsie oop om hierheen te vlug as haar eilandjie wil sink. Hoekom nou sy baasskap ontken en verder ook sy donker persoonlikheidstrekke blootlè. Kyk maar hoe is Sjina doofmiddels gevoer om sy land toeganklik te maak. So het opium die vloek van die Ooste geword. Hier het hulle die vroue en kinders glas gevoer… Siek… siek…

Jepetto ·

Hierdie aantygings van die Britte is a klap in ons suid afrikaners se gesig wit en swart het gely .Dit moet regestel word . Dankie vir die uitnodiging hoop hy kom SA toe . Ek gaan beslis toy toy as hy hier is

Christa ·

Mooi so, Danie. Leer die man tog asseblief: “Ignorance is no excuse…”

LHS ·

Daardie bleeksiel hoef nie hiernatoe te kom vir feite nie, hy weet PRESIES wat dit is maar sal dit nooit erken nie.

Catherine ·

My ouma en oupa was in daardie kampe. Dit was ERG. My ouma was jonk en mooi en…………. dink vir julself. Sy het n baie bitter vrou daarna geword. Kinders gehad, maar geen liefde betoon. Alles gehad voor hulle gearesteer is….daarna absoluut niks. Honger , koud, siek in kampe. Daardie man praat absoluut snert

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.