‘Aborsiedokter’ verskyn in hof

Abubakari Kaweesa. Foto: Verskaf

ʼn 46-jarige man wat hom as ʼn dokter voorgedoen en in hegtenis geneem is nadat hy op heter daad betrap is terwyl hy glo ʼn onwettige aborsie uitgevoer het, het Woensdag in die hof verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die beskuldigde, Abubakari Kaweesa, het in die Malelane-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe, die Wet op Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap en die Medisynewet.

Die saak is tot 18 Oktober uitgestel vir nadere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Kaweesa is Dinsdag in Mbombela (Nelspruit) in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrog en die uitvoer van onwettige aborsies.

ʼn Ondersoek het begin nadat daar klagtes ontvang is oor ’n man wat hom as ʼn dokter voordoen en ʼn onwettige chirurgiefasiliteit in Malelane bedryf het.

“Dit het tydens die ondersoek aan die lig gekom dat die man nie geregistreer is nie en dus onwettig praktiseer. Hy het tradisionele medisyne en aborsietablette gebruik,” het Sekgotodi ná die man se inhegtenisneming gesê.

Die beskuldigde is volgens Sekgotodi in hegtenis geneem terwyl hy glo nóg ʼn onwettige aborsie uitgevoer het. Die kliënt het glo R700 vir dié diens betaal.

Een van die ‘dokter’ se advertensies. Foto: Verskaf

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna ·

Hoe kan mense in vandag se dae nog vir sulke slenters val. Wat van n bietjie common sense? Hierdie aborsie-pille word natuurlik uit ons staatshospitale gesteel. Liewe genugtig!

Swannie ·

Die Staat het ook `n aandeel aan sulke vergrype. Hul laat ooglopend toe dat mense wat geen kwalifikasies het, oop en bloot adverteer dat hulle “Dokters”is.

In my dorp is daar al tot “Professore” wat ook so adverteer.

Openlik bedrog, maar niemand gee om nie.

G ·

Gebruik voorbehoeding, dan is so baie aborsies nie nodig nie. Dis oor almal dink ‘dit kan nie met my gebeur nie’, en daar geen respek meer vir ‘n menselewe is nie, dat dit so gaan. Sluit die verkragters toe en gooi die sleutels weg. Maar nee, parool word mos gegee aan kriminele want daar is nog nie genoeg skade nie. Dit gaan my verstand te bowe hoe mens so klein lyfie op ‘n ashoop kan gooi, of vir ‘n aborsie kan gaan. Vat verantwoordelikheid vir jou aksies as dit deur jou eie toedoen was. My magtig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.