Abrahams en Kie. moet vandag sê

zuma-gordhan-abrahamsAdv. Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag en twee van sy direkteure, moet vandag redes gee oor hoekom hulle nie geskors moet word nie.

Pres. Jacob Zuma het Abrahams, Sibongile Mzinyathi, direkteur van openbare vervolging, en dr. Torie Pretorius, waarnemende spesiale direkteur van openbare vervolging, versoek om teen vandag redes te verskaf oor hoekom hulle nie geskors moet word nie, hangende ʼn ondersoek na hul geskiktheid om die amp te beklee.

Dit is gedoen in reaksie op die organisasies Freedom Under Law en die Helen Suzman-stigting se versoek. Die twee organisasies het vroeër ʼn hofaansoek ingedien om Zuma te verplig om Abrahams, Mzinyathi en Pretorius te skors. ʼn Volbank regters het in die hooggeregshof in Pretoria bevind dat daar nie genoegsame redes aangevoer is hoekom die aansoek dringend aangehoor moes word nie en dit is van die hand gewys.

Die aansoek het verband gehou met die bedrogaanklagte wat teen Pravin Gordhan, minister van finansies, ingebring is.

Die Helen Suzman-stigting en FUL het vroeër gesê die NVG het die strafregstelsel ondermyn en “ʼn gat in die ekonomie geslaan” deur sy besluit om strafregtelike aanklagte “sonder enige geldige gronde” teen Gordhan in te bring.

Die organisasies het gesê die president is by magte om hierdie beamptes te skors en meen dit sal “irrasioneel” vir hom wees om dit nie te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Terwyl Zuma “rasioneel”moet optree, kan hy nie met homself ook “rasioneel” wees en homself ook sommer verwyder uit sy amp en homself ook skors nie? Daai sal nou voorwaar ‘n blye dag wees vir SA. :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.