Absa kap na OB in aanloop tot hofsaak

absa 01

Argieffoto.

Absa het Dinsdag gesê adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het versuim om ʼn regverdige en onbevooroordeelde ondersoek te doen na die finansiële reddingsboeie wat gedurende die apartheidsjare aan Bankorp verskaf is.

Dit kom nadat Absa sy beëdigde verklaring in antwoord op Mkhwebane se verklaring laat Maandag ingedien het. Absa versoek die hof ook om Mkhwebane te beveel om as strafmaatreël die bank se regskoste te betaal.

Mkhwebane het haar verklaring ingedien in reaksie op die hersieningsaansoek wat deur Absa voor die hof gebring is om te versoek dat haar verslag ter syde gestel word oor die finansiële hulp deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank tussen 1985 en 1995 aan Bankorp, wat in 1992 deur Absa bekom is.

Die hooggeregshof in Pretoria sal die saak van 5 tot 7 Desember aanhoor. Mkhwebane het in haar verslag oor skenkings wat die Reserwebank in dié tyd aan Absa, toe nog Bankorp, gemaak het, die parlement aangeraai om ʼn proses te begin om die Grondwet rakende die Reserwebank se mandaat te wysig.

Sy het in die verslag bevind die R1,125 miljard was ʼn onwettige skenking en sy het aanbeveel dat die bedrag van Absa verhaal moet word.

In haar beëdigde verklaring beweer sy nou sy het bloot vir pres. Jacob Zuma versoek om dit te oorweeg om die spesiale ondersoekeenheid te vra om nadere ondersoek te doen oor wie, indien enigiemand, hierdie finansiële hulp moet terugbetaal. Mkhwebane het gesê haar kantoor se ondersoek het bevind die destydse wit minderheidsregering het die Grondwet oortree deur die lenings toe te staan.

Absa, ʼn filiaal van die Barclays Africa Group, ontken dat hy enigsins oortree het. Absa voer aan Mkhwebane se verklaring probeer om nuwe regverdigings en redenasies in te bring om haar “onwettige regstellende stappe” te ondersteun.

“Hierdie nuwe redes wat nie in die OB se verslag ingesluit is nie, is nooit aan Absa gegee om op te reageer voor die verslag uitgereik is nie. Afgesien daarvan dat dit wettig ontoelaatbaar is, kom hierdie pogings na Absa se mening neer op ʼn erkenning dat die verslag nie alleen kan staan nie,” het die bank gesê.

“Die OB het versuim om te voldoen aan die standaarde wat van ʼn staatsinstansie in litigasie verwag word. Sy het nooit openlik of ondubbelsinnig met die bewyse omgegaan nie en ook nie voldoen aan haar verpligting om die volle Reël 53-rekord aan die partye te voorsien nie.”

Intussen het die Reserwebank ook Mkhwebane daarvan beskuldig dat sy haar mag misbruik in die regsgeding oor haar Bankorp-verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

Leer Mkwebane nie uit haar foute nie. Onlangs het sy haar rieme styf geloop teen die Reserwebank, en nou wil sy weereens dieselfde strategie met ABSA doen. Sy is nie by magte om die banke se mandaat te verander nie. Ek hoop sy word vervang met iemand wat met meer integriteit. Sy kos die land baie.

SjN ·

Dit gebeur as n onbevoegde persoon die pos kry, hoop sy boet vir haar dade , Absa moet optree, sy krap waar dit nie jeuk nie.

Cornelius du Rand ·

En die balieraad sidder weereens in hulle afwesigheid. As sy ‘n wit man was, was sy lankal aangekla gewees van onprofessionele gedrag. Maar nee sy is ‘n swart vrou so daar sal niks met haar gebeur nie, maak nie saak hoeveel skade sy berokken as ADVOKAAT nie.

snoefie ·

was dit anc geld? pleks van ondersoek sy die dubbel standaarde van die sapd en die nvg! daar is groot werk nodig.

Alida ·

Ek hoop sy kry n kostebevel teen haar en sy moet persoonlik betaal.

Eish ·

Die regerende meerderheid se kapasiteitsgestremdheid is voorwaar soos onweerswolke in n maanlose nag.

m.d.r. ·

Sy beweer dat die Grondwet destyds oortree was–van watter Grondwet praat sy ..?
Die enigste een wat naastenby in daardie periode kon gegeld het, was die sg .”oorgangsgrondwet (wet 200 van 1993)” wat as die ooreenkoms tussen die NP en die ANC gesluit is.
Volgens die berig het die hulp reeds voor wet 200/1993 begin, dus wil sy nou die reg terugwerkend aanwend…..!
watter Grondwet wil sy gebruik—die Oorgangsgrondwet of die huidige Grondwet….?

bgj van der westhuizen ·

sy lag vir almal wand dit is nie haar geld wat gemos word nie dit is ons belasting geld net nog n swak anc regering aan stelling

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.