‘Absoluut belaglik’ dat moordverhoor wéér uitgestel is

Jurie Steenberg. Foto: Adéle Changuion

Jurie Steenberg (55) is woedend nadat die saak teen sy vrou se twee vermeende moordenaars vir die soveelste keer uitgestel is.

“Dis absoluut belaglik en ʼn sirkus,” het ʼn ontstoke Steenberg aan Maroela Media gesê nadat die saak teen Dolphy Sambok (45) en Karabo Ephraim Semake (25) Maandag weer in die hooggeregshof in Pretoria uitgestel is.

Sambok en Semake staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord, poging tot moord en gewapende roof.

Steenberg se vrou, Riekie, is in Junie 2016 op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, in die noordooste van Pretoria, in ʼn aanval doodgeskiet. Steenberg is tydens die aanval in die nek gewond en ernstig aangerand.

Dolphy Sambok (45) en Karabo Ephraim Semake (25) in die hof.

“Ek kan nie glo dat ʼn mens soveel keer hof toe gaan net dat dit uitgestel word nie. Elke keer is daar net nog vertragings. Ek kry nie geld by die staat nie, niemand help my met goed nie. My werk staan stil en ek verloor geld omdat iemand my aangeval het en my vrou vermoor is. Hoe is dit regverdig?”

Die verhoor was veronderstel om Maandag te begin, maar is weer uitgestel aangesien een van die beskuldigdes ʼn nuwe prokureur het wat nog nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie.

Regter Bert Bam het weer gesê dit is onaanvaarbaar dat die saak so lank sloer. Die verhoor sal op 26 November begin en Sambok en Semake bly in aanhouding.

Jurie en Riekie Steenberg Foto: Facebook

Die saak is verlede week ook uitgestel weens die beskuldigdes se regsverteenwoordiging. Weens ʼn moontlike botsing van belange kon die twee nie meer dieselfde regsverteenwoordiger hê nie en moes die Regshulpraad eers nog ʼn regsverteenwoordiger aangestel het voordat die saak kon voortgaan.

Steenberg se eerste vrou, Suna (42), is in 2010 op dieselfde kleinhoewe, óók tydens ʼn aanval, doodgeskiet. Die aanvallers het ook op Jurie losgebrand, maar hy is nie gewond nie. Niemand is nog in verband met dié aanval aangekeer nie.

Ná Suna se dood het Steenberg die kleinhoewe sonder sukses probeer verkoop en moes dus noodgedwonge daar aanbly.

Hy is in 2014 met Riekie getroud, maar kort voordat die egpaar die kleinhoewe vir ʼn ander blyplek sou verruil, is Riekie in die aanval doodgeskiet. Steenberg sê hy lewe sedertdien met ʼn swaard oor sy kop.

Hy sê hy hoop geregtigheid geskied binnekort sodat hy elders met sy lewe kan probeer aangaan.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

tom ·

Hierdie suid afrika maak van my n mens wat ek nie wil wees nie

tamboti ·

Die Pad onegeluk fonds vergoed mense vir beserings en dood, Life Esidumeni slagoffers is gehelp, SAPD slagoffers word vergoed, verdagtes (misdadigers) kry regshulp en mediese hulp en gewapende begeleiding! Armes en werkloses en kinders kry toelaes by staat, als met belasting geld.
Nou waarom word slagoffers van misdaad nie vergoed deur die staat met geld wat die slagoffers self as belasting betaal, en dit is goed genoeg om al die ander te vergoed, maar as die wetsgehoorsame belastingbetaler of ander onskuldige deur misdaad verpletter word, dan kyk die staat weg —– en lag in die mou ——– en geen hulp word verleen nie, nee dan is jy net ‘n las vir die staat wat net vir hul moeite veroorsaak.
Vergeet van demokrasie, vergeet van stemreg en mense regte, vergeet van diskriminasie en rassisme, daar is net een edel doelwit: REG EN GEREGTIGHEID!
En dit sluit ons huidige “reg”stelsel totaal uit!

marous ·

Regter se dis onaanvaarbaar maar stel uit. Dit is niks anders as verguisingstaktiek nie. As die getuie net een dag nie by die hof is nie gaan die prokureur opspring en gil dat die saak teruggetrek word. Dagvaar die rook uit hulle vir genoegdoening. as hulle ‘n prokureur kan bekostig kan hulle betaal ook. Maak hulle lewens vir hulle ook nag.

Danie ·

Hulle voer die vertragingstaktiek in die hoop dat jy moedeloos en moeg sal raak en die saak terugtrek. Dan kom hulle vry en kan weer voortgaan met hulle misdadigheid.

joy ·

Wees net bly dat daar ten minste ‘n hofsaak kan wees. Na 8 jaar is daar steeds geen verdagtes selfs in my ouers se moord.

Michelle ·

Wees sterk Jurie, moenie moedeloos raak. Mag jy ook genade ontvang.

Johan ·

Danie, Jurie Steenberg kan nie die saak terugtrek nie – dit is ‘n kriminele saak waar die staat aankla. Nie ‘n siviele saak nie.

Maar ek stem saam die vertragingstaktiek van die regslui van die aangeklaagdes, is voorspelbaar. Desondanks dit, het die hof nog al die jare nie ‘n manier gekry om dit te hanteer nie. Regter Bam reken self “dit is onaanvaarbaar dat die saak so lank sloer”. Maar wat doen hy. Praat, praat, praat, praat. Dit is tyd dat hy iets daaromtrent doen. Dit is hoekom ek al soveel kere die opinie uiter dat ons regstelsel ‘n grap is. Vinnig en effektief as die aangeklaagde Vicky Momberg is (so vinnig dat daar skynbaar ‘n oorhaastige vonnis gevel word), maar sodra sekere moordenaars se “regte ontneem” word, sloer en sloer en sloer die saak.

Albatros ·

Wel as ek sy derde vrou was sou ek aandring dat ons trek.

Koos B ·

Jammer Jurie ek dink jou velkleur, die hof beamtes en die beskuldiges verskil net te veel.
Duidelik verstaan hulle nie jy het ‘n besigheid waar jy salarisse moet betaal nie.Die dae wat jy in die hof moet deurbring moet jy maar jou plek sluit en vir die werkers se hulle moet saamgaan hof toe en die dag se salaris by die hof eis.

Liberaal ·

Ons liberaliste vat alle blaam want ons het geveg vir moordenaars se regte en hulle ver bo onskuldiges geplaas, almal van ons wat liberale partye voor stem en liberale media ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.