‘Absurd om van ANC te verwag om Guptas te arresteer’

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Donderdag gesê dit word van wetstoepassingsagentskappe verwag om teen die Gupta-familie op te tree in die lig van omvattende bewerings van die plunder van staatshulpbronne deur onbehoorlike aktiwiteite met staatsbeheerde ondernemings en senior politici.

“Wanneer mens soms die status van ʼn familie vergroot, en mens laat alles rondom die Guptas draai, dan gee jy eintlik vir hulle onverdiende status. Ons praat hier van staatskaping, ons hanteer die rol van die familie in daardie staatskaping, maar dit is nie ʼn onderwerp vir elke nasionale uitvoerende komitee om daaroor te gesels nie,” het Mantashe aan verslaggewers gesê by ʼn vergadering van die party se topstruktuur in Pretoria.

“Die prosesse duur voort. Ons het ʼn besluit geneem in die saak. Ons gaan nie elke dag hierheen kom en sê ons benadruk ons siening oor die Guptas nie. Die feit dat provinsies daaroor begin praat beteken dat die ANC bewus is van die probleem en dat hulle daaroor praat. Die ANC sal dus sy immuniteit verbeter om nie deur die Guptas besmet te word nie.”

Mantashe het egter bygevoeg dit is die polisie se verantwoordelikheid om die wet toe te pas. Hy het vrae oor die oënskynlike versuim om lede van die Gupta-familie te ondersoek en te vervolg, van die hand gewys.

“Julle sê dus die ANC moet sy eie polisie-eenheid op die been bring en die Guptas in hegtenis neem? Is dit julle voorstel? Ek weet nie of julle wil hê die ANC moet ʼn polisie-eenheid en ʼn privaat weermag hê wat die Guptas kan omring en hulle in ʼn privaat tronk kan toesluit nie. Ek dink dit sal absurd wees.”

Mantashe het gesê dit is uiters onregverdig vir die Suid-Afrikaanse media om die ANC uit te beeld as ʼn regerende party wat hom blind hou vir korrupsie.

“Wanneer twee burgemeesters van Buffalo City uit hul amp verwyder word, en drie sekretarisse van die ANC uit hul posisies verwyder word, en ek kan vir julle ʼn lys gee… om ʼn beeld te skep dat niks gebeur nie, dat ons tot dusver net gepraat het, mislei die samelewing. Daar is baie wat al gebeur het. Wanneer ʼn LUR in ʼn provinsie in hegtenis geneem word, vervolg word en gevonnis word en ons vergeet later daarvan omdat ons kyk na iets anders waarin ons geïnteresseer is, is ʼn verkeerde benadering om die samelewing op te lei.”

Hy het gesê hy wil nie die kwessie van die Gupta-e-posse ligtelik bespreek nie. “Ons moet daardie kwessie holisties hanteer. Dit is baie kompleks. Dit berokken die ANC skade, al is ons as ʼn organisasie nie die kern daarvan nie. Dit is individuele lede wat beskuldig word, maar dit berokken die ANC skade.”

Senior ANC-lede insluitend pres. Jacob Zuma, voorsitter Baleka Mbete en tesourier-generaal Zweli Mkhize het ook die party se vergadering bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Siener van Melbourne ·

Mantashe die media doen goed om die ANC as ‘n regerende party uit te beeld wat hom blind hou vir korrupsie want dit is presies wat julle is en doen. Julle is só vrot jul kan julself nie eers meer ruik nie. Die nageslagte van Suid Afrika gaan niks oorhou om op te bou nie want die sakkeroller leiers gaan daarmee wegloop. Natuurlik sal julle nie optree teen die Guptas nie want jul hande is in hulle sakke.

De Villiers ·

Mantashe is indeels korrek dat daar nie verwag kan word dat die ANC die Guptas moet arresteer nie. Dat die Guptas met voorbedagte rade na Suid Afrika gekom het (op omstrede wyse) is altemit, en daarvoor moet hulle voor stok gekry word. Maar die eintlike persone wat aangekla en moontlik tronkstraf opgelê behoort te word, is dié ANC-lede in magsposisies wat toegelaat het dat hulle deur die Guptas beïnvloed en gemanipuleer kon word, en toe soos marionette in die Guptas se hande gespeel het. Die Guptas kon op hulle eie niks vermag het nie, maar die ANC het dit alles vir hulle moontlik gemaak omdat die ANC so beïnvloedbaar is as dit by selfverryking kom. Dieselfde het destyds gebeur tussen Zuma en Shabir Shaik. Die ander probleem is dat indien dit op die lappe kom, die ANC dit gewoonlik ontken, en dan die swendelaars altyd probeer beskerm.

Johann du Plessis ·

Hierdie is n ou taktiek van die ANC. Sodra hulle aanjaag skuif hulle die fokus na n ander probleme. Maar hulle is aan bewind. Hulle is aanspreeklik, en net die ANC moet pa staan vir die land wat brand.

Alida ·

Ek verstaan regtig nie mooi nie. As iemand in die privaatsektor R4m steel word hy vervolg en gaan tronk toe. Ons hoor daagliks van die stelery by Eskom en sommer al die ander plekke ook maar hoor nooit dat die persoon tronk toe gaan nie. Kan iemand my help hier asb.

Swannie ·

Die wetstoepassingsbeamptes en polisie is lankal deur Zuma gekaap dmv sy aanstellings in gesagsposisies.

Die DA kan soveel klagtes lê as wat hulle wil. As Shaun Abrahams, Hoof van Nasionale Vervolgingsgesag weier om te vervolg, sal daar niks gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.