Ace gaan na verwag word, klou soos ʼn neet

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Alle oë is op die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, nadat die regerende party se integriteitskommissie bevind het hy moet opsy staan uit sy amp omdat hy in die streekhof in Bloemfontein teregstaan op korrupsieverwante aanklagte.

Die vraag nou is of hy dit gaan doen, en in politieke kringe is daar ʼn sterk mening aan’t ontwikkel dat dit nie gaan gebeur nie, veral omdat sy posisie as sekretaris-generaal van die ANC hom so sterk plaas binne die organisasie en sy bekleding van daardie magtige pos so sentraal staan in die planne van die Zuma-kamp in die ANC om pres. Cyril Ramaphosa as partyleier en staatshoof te ontsetel.

Hoewel Magashule dit hand en tand ontken, bly daar ʼn baie sterk oortuiging in politieke kringe en in die algemene samelewing dat hy een van die Zuma-kamp se grootste vaandeldraers is.

Sy posisie as sekretaris-generaal beteken die lidmaatskapgetalle en die funksionering van ANC-takke is sommige van die aspekte wat onder sy oorkoepelende beheer val, en dit is van sleutelbelang vir die Zuma-faksie dat hulle in beheer daarvan bly in die aanloop tot die ANC se nasionale algemene raad (NAR) wat na verwagting vroeg aanstaande jaar sal plaasvind.

Die verwagting is dat die Zuma-faksie – mits hul getalle en organisasievermoë dit toelaat – die NAR sal gebruik om Ramaphosa se mag te ondermyn deur byvoorbeeld ʼn mosie van wantroue in sy vermoë om ANC-beleid uit te voer te aanvaar.

Dit sal van Ramaphosa ʼn flou makou maak – ʼn leier slegs in naam, sonder mag of deurdringende krag, soos Mmusi Maimane in die laaste maande van sy leierskap van die DA was.

Indien die ANC-integriteitskommissie se aanbeveling dat Magashule sy pos ontruim totdat die hofsaak teen hom afgeloop is, uitgevoer word, kan dit ʼn langdurige invloed hê. Aangesien die klagte teen hom so ingewikkeld, wyd en ernstig is, kan dit hom tot einde aanstaande jaar buite aksie laat, wat ʼn nagmerrie vir die Zuma-kamp sal wees.

As mens boonop na Magashule se optrede sedert die hofsaak teen hom en die bevindings van die integriteitskommissie kyk, lyk dit na ʼn “laer oktaan”-weergawe so reg uit die Zuma-handboek van politieke oorlewing.

Met sy eerste hofverskyning het honderde van sy ondersteuners met T-hemde waarop sy gesig afgedruk is, verskyn by die hof in Bloemfontein, nes met Zuma se destydse hofverskyning in Pietermaritzburg.

Soos Zuma het Magashule voorgegee hy weet van niks, maar nietemin die skare buite die hof toegespreek danksy ʼn netjies voorbereide klankstelsel, en die geleentheid gebruik om te beweer hy is onskuldig, maar word polities geteiken.

Soos Zuma tevore het Magashule verklaar hy is heeltemal onderdanig aan die ANC-proses. En nadat die integriteitskommissie teen hom bevind het, het Magashule soos Zuma sy skrede gewend na sy hartland (in Zuma se geval KwaZulu-Natal, in Magashule se geval Parys in die Noord-Vrystaat) om daar sy mense te gaan opstook.

Wat Magashule se hand sterk, is twee aspekte. Eerstens is hy tans in die pos – hy is nog nie verwyder nie. Tweedens kon die integriteitskommissie nog nooit ʼn onwillige ANC-kader uit sy of haar posisie dwing nie.

Die mees onlangse voorbeeld is die adjunkminister van finansies, dr. David Masondo. Die integriteitskommissie het oor ʼn ingewikkelde kwessie bevind Masondo moet sy pos ontruim.

Die kommissie het bevind Masondo moet sy pos ontruim, en hy het nie. Pres. Ramaphosa het hom ook nie van sy pos onthef nie.

As die integriteitskommissie se bevindings tot so ʼn mate deur die Ramaphosa-kamp geïgnoreer word, gaan dit maar taai gaan om die bevindings skielik as bindend te ag noudat dit op Magashule van toepassing is.

Hoewel dit dus moontlik is dat Magashule mag terugstaan, is daar alle rede om te glo dit gaan nie sommer gebeur nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.