Ace moet teen dán om verskoning vra

Ace Magashule is verlede week as sekretaris-generaal van die ANC geskors. (Argieffoto: Itumeleng English/ANA)

Daar is voorgestel dat Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, binne 48 uur verskoning vra, maar die regerende party “hoop” dat hy dit voor die einde van die week nog sal doen.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), die party se hoogste besluitnemingsliggaam, het besluit daar is ʼn behoefte dat die beleërde en nou ook geskortste sekretaris-generaal van die ANC, “die ANC-gemeenskap en Suid-Afrikaners” om verskoning moet vra.

Die komitee het die afgelope naweek vergader.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Dinsdag gesê hoewel daar geen tydsaanduiding by die NUK-vergadering gestel is nie, daar ʼn voorstel was dat Ace Magashule binne 48 uur verskoning vra. Indien hy dit nie doen nie, kan die ANC verdere stappe teen hom doen.

Magashule is verlede week tydelik en met volle voordele geskors nadat hy nie, soos ANC-beleid bepaal, binne 30 dae vrywillig opsy gestaan het nie. Die beleid bepaal dat ANC-lede wat van ernstige misdade aangekla word, vrywillig moet terugstaan of in die belang van die party geskors kan word.

Magashule staan tereg op verskeie aanklagte van korrupsie en bedrog.

Hy het in reaksie op sy eie skorsing ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur waarin hy op sy beurt die president skors.

“Die brief wat ʼn dienende president skors in die manier waarop dit gedoen is, kon verskeie gevolge ingehou het,” het Duarte gesê.

“Mense het van ander lande begin bel om dit te bevestig.

“Daar is dus ʼn behoefte dat daardie verklaring deur die sekretaris-generaal teruggetrek word.”

Volgens Duarte is daar geen gronde in die Grondwet, en ook nie in die ANC se grondwet nie, waarop die skorsing kon berus nie.

“Daarom was die voorstel om die sekretaris-generaal te vra om dit binne 48 uur te doen – en die president het dit teen die einde van sy verklaring gemaak… hoewel daar in die NUK-liggaam geen tydsaanduiding gegee is nie. Ek wil duidelik wees daaroor.

“Ons hoop dat ons sal sien dat die sekretaris-generaal dit hierdie week doen. Hopelik. En ons sal hom regtig aanmoedig om dit te doen,” het Duarte gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Misky ·

Ha ha ha ha – lekker lag ek nou en my tone krul sommer van lekkerte!!!!

Jack ·

Soos kinders.Vra mooi om verskoning dan is al jou stout vir die dag vergewe.

Persheks Adri ·

Ek twyfel sterk of Ace dit gaan doen hy’s meer uitgeslape en baie slinks!

Gert K ·

Baie verwarrend voor wanneer die sogenaamde verskoning moet gebeur. Binne 48 uur of hopelik voor die einde van die week ? Hoewel daar in die NUK-liggaam geen tydsaanduiding gegee is nie. ?
Ek dink in elk geval nie hy gaan hom daaraan steur nie .

Karen ·

Sê ek ook, ons eis ook ñ verskoning dat die eens pragtige land tot niks geruin is.

Dup ·

Net in SA……die sekretaris generaal skors die president en die president skors die sekretaris generaal.Dan moet een binne 48 uur of teen einde van week verskoning vra waarna almal weer bloedbroers sal wees.Intussen gaan wanbestuur,korrupsie en misdaad net aan in SA.

KB ·

Afrika-horlosie: Geen aanvangstyd nie, dus geen spertyd nie. Wat beteken 48 uur dan werklik?

Wat ‘n verleentheid is hierdie regering nie. Die basiese beginsels van bestuur ken hulle (wat op die hoogste vlak dien) nie eers nie! Hulle uitsprake en besluite is absurd – Kyk maar na hul hantering van Covid-19 besluite, -data, -statistiek. Dan is hul wetstoepassing ook op laerskoolvlak…wat ‘n gevaarlike toestand is hulle nie net vir hulself en die land se inwoners nie.

koos10 ·

48 uur is 2 dae. Dit is gister gesê, daarom verstryk 48 uur Donderdag. Dit is mos voor die einde van die week? Of mis ek iets?
Het Zuma hulle gehelp met die som?

Spyker ·

Baie ontspannende en humoristiese leesstof. Doen so voort ANC!!!!

Werner ·

Ace is besig om n oorlog te begin hoekom moet hy om verskoning vra.Volgens hom is hy een van die dae president

Kokerboom ·

Die ANC sirkus “pandemie” hou SA totaal gevange!!Die meeste dood en verwoesting in wereld word deur politiek gepleeg!

Vettiemaragartos ·

Liewe oom Ace …… moet asseblief nie om verskoning vra nie! Dan kan hulle jou hopelik wegjaag sonder salaris en voordele!

Kobus ·

En nou is Me Duarte pure engeltjie. CR moet maar sy rug mooi beskerm

Thea ·

Ek wonder wat die rede sal wees dat die hele ANC kader so bang vir hierdie siel is.

Johanna ·

Hierdie “Zuma” maniertjies wat uitgehaal word deur te weier om te Bedank of opsy te staan, is eenvoudig n bewys dat die ANC se leierskap nie die leisels kan vashou nie. Wetteloosheid is in beheer. Waar het jy nou gesien mense weier om opsy te staan of om te Bedank.
Ons belasting betalers betaal hulle salaris, nie die ANC nie.
Ace Magashule het ons ekonomie erg benadeel deur sy sogenaamde afdanking van President Ramaphosa.
Hierdie roekelose leiers speel lekker politiek, en dit vat die kos uit massas se monde uit. Dis onverantwoordelik van hom en ek voel sterk daaroor dat hy afgedank moet word.

JM ·

Wat my verstand te bowe gaan: waarom word Magashule met handskoene gehanteer?! Waarom is hy steeds nog nie agter tralies nie?! Ek begryp nie die ANC se “logika” nie. Ek ruik ‘n rot: dat daar moontlik nog wurms uit die kas gaan peul.

Persheks Adri ·

Hy weet te veel en hulle weet dit JM hy gaan hulle sink hoor my woorde vandag. Hy’s nie so dom nie ongelukkig is hy uitgeslape en slinks

Riette ·

Ek het nog geen verskoning gesien nie – nou moet ons kyk of die ANC hul dreigement gaan uitvoer… hulle is nie bekend daarvoor dat hulle beloftes nakom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.