Acsa sal brandstofprobleme by Kaapstad-lughawe oplos

Kaapstad- internasionale lughawe (Foto: @capetownint/Twitter)

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) is tans besig met gesprekke tussen brandstofverskaffers, lugdienste en ander belanghebbendes om seker te maak dat voldoende vlakke van brandstofvoorraad beskikbaar is sodat bedrywighede kan voortgaan.

Dit volg ná lae vlakke van reserwe A1-stralerbrandstof by Kaapstad- internasionale lughawe aangemeld is weens faktore wat een van die groot verskaffers van brandstof aan die lugdienste raak.

Acsa verskaf die brandstofdepot en bergingsfasiliteite wat die brandstofverskaffers gebruik om brandstof aan die lugdienste te verskaf. “Die brandstofverskaffers het bevestig dat hulle poog om bykomende brandstofvoorraad te bekom,” het Acsa in ʼn verklaring gesê. ʼn Amptelike kennisgewing is Vrydagaand uitgereik om die lugdienste in kennis te stel van die situasie en die lugdienste te versoek om met hul verskaffers in gesprek te tree en opligkrag so ver as moontlik te beperk waar dit vereis word.

“In hierdie stadium kan ons nie bepaal watter impak die huidige lae brandstofvlakke waarskynlik gaan hê op vlugte na en van Kaapstad-lughawe nie. Gesprekke is egter in ʼn gevorderde stadium en Acsa is vol hoop dat die brandstofverskaffers die nodige voorraad brandstof beskikbaar sal kan maak aan die lugdienste en bykomende voorraad sal kan bekom om voortgesette bedrywighede te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.