Action SA ‘fenomeen wat gaan aanhou groei’

Herman Mashaba, leier van Action SA, sê hy konsentreer reeds op 2024 en dat groot dinge nog vir die party voorlê. (Foto: Action SA)

Voor die verkiesing het Herman Mashaba, leier van Action SA, beloof dat dié party geskiedenis gaan maak. As daar só na die telbord by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum gekyk word, was dit ʼn akkurate voorspelling.

In Johannesburg, met 99% van stembriewe bevestig, het Action SA net meer as 16% van stemme op hom verenig. Steun vir die ANC in die metropool staan op 33,5% en dié vir die DA op 34,06%.

In Tshwane het Action SA 8,66% van stemme gelok, met die ANC op 34,5%, die DA ʼn kortkop agter op 32% en die EFF en VF Plus op 10,7% en 7,8% onderskeidelik.

Nie sleg vir ʼn party wat aan sy heel eerste verkiesing deelneem nie.

Mashaba was Donderdag tuis toe Maroela Media hom gevra het oor die party se groot welslae. “Die plaaslikeregeringsverkiesing is agter ons. Ek fokus reeds op 2024; dit is om die draai,” het hy gesê.

Daar was talle hekkies in die party se opmars na die 2021-verkiesing. Een daarvan was die party se onsuksesvolle aansoek in die Kieshof nadat die OVK nie die party se naam – in die ruimte waar party-afkortings gebruik word – gedruk het nie. Die OVK het volgehou die party het nie ʼn afkorting verskaf nie en dat hy dus korrek opgetree het.

Die Kieshof het saamgestem en Action SA is die verkiesing in met net sy logo en gʼn naam nie.

Steun uit alle oorde

Die amptelike verkiesingsuitslae sal na verwagting vandag om 18:00 bekend gemaak word. (Foto: OVK)

Nietemin het kiesers in hul duisende hul kruisies by Action SA getrek. “Ek is meer as tevrede,” sê Mashaba. “Sommige mense het miljoene rand bestee om mense te oortuig om nie vir ons te stem nie. Die kiesers het self besluit en die uitslae spreek vanself.”

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia en ʼn onafhanklike politieke interpreteerder, sê Action SA en Mashaba was een van die groot besprekingspunte tydens die verkiesing. “Ek het as politieke ontleder dit as ʼn fenomeen waargeneem.”

Mashaba, vantevore ʼn DA-man wat ook as burgemeester van Johannesburg gedien het voor hy die party die rug gekeer en bedank het, het met Action SA ʼn politieke tuiste vir ʼn breë kieserskorps geskep.

Duvenage sê Mashaba trek steun van ʼn uiteenlopende groep Suid-Afrikaners: Van middelklas wit en swart kiesers tot minderheidsgroepe. In plekke soos Soweto en Atteridgeville het sy verskyning op die politieke toneel ʼn party soos die ANC ʼn gevoelige knou toegedien.

“Mashaba boor ʼn aar van ʼn gemagtigde groep mense raak. Daar is ʼn nie-rassigheid wat nie gemanipuleer word nie, maar spontaan gebeur. Hy doen dit middelregs en is ʼn klein bietjie links van die DA met ondersteuning vir kwessies soos ʼn vryemark, entrepreneurskap en die skep van ʼn sakeklimaat.”

Mashaba sê self nie-rassigheid is een van die party se ononderhandelbare waardes.

“Action SA is ʼn goeie weerspieëling van Suid-Afrika. Die kiesers is in die steek gelaat deur die groot partye wat regeer en mense is op soek na iets nuuts.”

Dit beteken daar kan nie net oor nie-rassigheid gepraat word nie, dit moet geglo word. Waardes soos persoonlike vryheid. ʼn Vryemarkstelsel. Hierby het mense aanklank gevind.

Duvenage meen Action SA, wat in hierdie verkiesing grootliks op Gauteng en enkele dele daarbuite gefokus het, se groeipotensiaal is groot.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, stem saam dat Action SA ʼn noemenswaardige vertoning gelewer het. “Maar onthou, die maklikste verkiesing vir ʼn politieke party is die eerste verkiesing,” waarsku hy egter.

“Is dit ʼn standhoudende party, of ʼn persoongedrewe party? Gaan dit ʼn nuwe aanslag na die politiek bring? Ons sal moet sien,” sê Henwood.

Die party het nietemin in ʼn kort tyd ʼn relatief groot impak gehad en Henwood sê dit kan ook wees dat die teëspoed wat die party beleef het, die party eindelik gehelp eerder as gehinder het.

SA’ners kan inset lewer oor koalisies

Mashaba vroeër by ‘n mediakonferensie by die OVK se nasionale uitslagsentrum. (Foto: Action SA)

Mashaba het Maandag al gesê die party is positief oor sy vermoëns, veral in Johannesburg, en sal gemaklik wees om koalisies aan te gaan.

Maar nie met die ANC nie, het hy toe gesê, en die ANC terselfdertyd as ʼn “misdadige organisasie” bestempel. Die party sal nietemin luister na die “stem van inwoners”.

Action SA het vroeër vandag ʼn aanlyn platform van stapel gestuur waarop mense hul insette kan lewer oor koalisieonderhandelings. Die party het die onderneming gegee dat hy tydens onderhandelings, en wanneer ʼn koalisie gevestig is, sal verseker die proses vind plaas op ʼn manier wat inwoners eerste stel. Die insette sal oorweeg word en ná Sondagaand, wanneer die tydperk vir kommentaar sluit, bekend gemaak word.

Deursigtigheid, ʼn verbintenis tot die stryd teen korrupsie, dienslewering en ʼn pro-arm-agenda, is sommige van die elemente wat Action SA sal oorweeg wanneer ʼn koalisie aangegaan word. “Met die uitsondering van die ANC, sal Action SA ontvanklik wees vir koalisiebesprekings met politieke partye gegrond op hulle verbintenis tot dié beginsels en die wense van inwoners van munisipaliteite,” sê Mashaba.

Enigiemand kan hul inset op die platform lewer. “Dit is belangrik, want as Action SA regeer, sal ons alle mense dien, ongeag of hulle vir ons gestem het.”

Action SA het in altesame ses wyke meegeding. In al ses dié munisipaliteite het die ANC se steun tot onder 50% gedaal en in drie van die munisipaliteite het dit tot onder 40% gedaal.

Dit laat die deur vir koalisies dus wyd oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Dries ·

Julle maak n groot ophef van Mashaba.Hy was nie so wonderlik as Joburg burgemeester nie.Ek reken hierdie is net die oorvloei HYPE na sy skouspelagtige uitloop uit DA.Laat hy produce,dan praat ons verder

KB ·

ActionSA het geen/zero/nul “track record” nie. Dit het eintlik dieselfde waarde as ‘n bedorwe stembriefie…jy weet nie WAT jy gaan kry nie. Ek dink dis ‘n dom keuse.

Harley Davidson ·

Hy het die gekaapte geboue teruggevat,misdaad inisiatiewe geneem om die middestad skoon te maak,gekaapte geboue omskep in luukse eenhede deur goeie besigheid inisiatiewe.

Lindi ·

Hy vat die krediet vir dit maar dit was Indier sakemanne wat dit eitlik gedoen het

Dries ·

Dries ek is beindruk met die man. Hy het n bydrae gemaak dat die misdadige ANC tot n val gekom het. As hy met die EFF koalisies sluit dan gaan hy homself ontbloot as maar net nog n kader. KOM ONS GEE HOM KANS

Harley Davidson ·

Mense stem volgens ras of hulle dit ontken of nie dit is hoe dit is.

Pablo ·

Laat ons hoop hy kan n verskil maak. Ons land is in diep moeilikheid.

Francois ·

Hy is n suksesvolle sakeman. Hy weet hoe om die dinge te doen, en sal net sterker word

annie ·

Mashaba is in sy burgermeestersdae swak ondersteun deur die DA. Hul pluk nou die wrang vrugte. Die DA sal hul sokkies moet optrek tov die noorde van die land. Die landsgrense eindig nie by die Oranjerivier nie.

JohanNL ·

Hierdie man het in sy burgemeester dae sy eie koukus negeer om met die EFF saam te werk, ten spyte van die wil van sy party en sy raadslede. Nie-rassigheid? Mashaba? Moenie my laat lag nie. Ek was by meer as een geleentheid waar hy direk gesê het dat gegoede woonbuurte se infrastructuur instandhouding a laer prio het as die opbou van die in townships – maw kom ons trek alles af dan is almal gelyk

Aanhouer ·

Action SA sal die volgende party wees waarvoor ek stem. DA kan met hulle ň koalisie vorm. Die ANC se dae is getel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.