Action Society ondersteun desentralisasie van SAPD

(Argieffoto: Maroela Media)

Die drukgroep Action Society ondersteun die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se voorstel vir die afwenteling van mag van die SAPD.

“Die federale polisie in Suid-Afrika, en spesifiek die Wes-Kaap, is die antwoord om aanspreeklikheid te herstel en dienslewering te verbeter deur die gebroke wetstoepassingsliggaam wat ons as die Suid-Afrikaanse Polisiediens ken,” sê Ian Cameron, woordvoerder van Action Society.

“Eenvoudig gestel is dit die afwenteling van mag van ʼn gebroke nasionale regering – sodat kiesers wat vir ʼn bekwame regering stem, die dienste kry waarvoor hulle gestem het. Dit sal die geval wees in die Wes-Kaap.”

Cameron sê dit sal baie beter wees vir die veiligheid van Suid-Afrikaanse burgers, waar hulle vir bekwame regeringsbeamptes kan stem wat gemeenskapsgebaseerde polisiëring ondersteun. “Dan sal hulle nie afhanklik wees van ʼn nasionale organisasie wat al jare lank geskend word deur politieke inmenging nie.”

Die Wes-Kaap het al jare lank die grootste hoeveelheid vakante poste in die polisie in vergelyking met ander provinsies. ʼn Verslag deur die Staatsdienskommissie wat in 2018 gepubliseer is, het bevind dat 85% van polisiestasies in die Wes-Kaap nie voldoende beman word nie. ʼn Jaar later, in 2019, het die Wes-Kaap nie voldoen aan die Verenigde Nasies se aanbeveling van 1:200 nie. Suid-Afrika se ratio is 1:383.

“As die afwenteling van mag nie in die SAPD gebeur nie, beteken dit eenvoudig dat polisiëring selfs verder sal agteruit gaan en ons sal al hoe meer moet staat maak nie net op gemeenskapsveiligheidstrukture nie, maar ook op provinsiale en plaaslike regeringstrukture wat nie altyd dieselfde breë mandaat het as die SAPD nie.”

Alhoewel Action Society sterk daaroor voel dat gemeenskapsgebaseerde polisiëringstrukture belangrik is, is statutêre wetstoepassingsagentskappe soos die SAPD noodsaaklik in ʼn land wat deur gewelddadige misdaad geteister word.

“Ons wil nie hê polisiëring en wetstoepassing moet deurlopend deur die ANC misbruik word nie. Action Society glo die ANC probeer doelbewus seker maak dat die polisie in die Wes-Kaap nie voldoende hulpbronne het nie, sodat Wes-Kaapse inwoners kwaad kan word vir die provinsiale regering. Meeste mense besef nie dat polisiëring onder die nasionale regering val nie. Ons weet dat die bestuur in die Wes-Kaap baie beter is as die res van die land. ʼn Federale stelsel sal ook help om seker te maak dat die geld vir polisiëring daarvoor aangewend word en nie op enige ander manier misbruik word nie,” het Cameron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Ek wens Wes-Kaap kan onafhanklik raak.

Samuel

Dink Action se mnr. Cameron dat die sentrale/nasionale regering sal die mag van hulle laat wegneem? O, nee. Die cANCer wil graag sien die Wes-Kaap moet ten gronde gaan. Die ANC moet alles sentraal beheer. Dit is tog hoe kommunisme werk, nie waar nie?

Paul

Gaan maak asb eers seker wat julle vra. Dit klink my baie asof dit n teen ANC VELDTOG is..daar is geen manier dat julle n Nationale polisie provincial kan maak

christo

Die ANC regering, en spesifiek Bheki Cele verminder polisiehulpbronne doelbewus sodat dit die Wes-Kaapse provinsiale regering self adisionele finansies moet voorsien sodat wetstoepassing kan plaasvind. Sy missie is om polisiëring in die Wes-Kaap te laat misluk en dan so probeer om Alan Winde in ‘n swak lig te stel. Sy bombastiese boeliegedrag maak van hom net nóg ‘n ANC ‘ loser ‘. Niemand kan met hom redeneer nie. Hoekom Ramaphosa so ‘n ‘ useless ‘ minister duld sal net hy weet. Dalk het Cele ‘n kat in die mou oor Ramaphosa en Marikana.Hoe sal ons ooit weet..

Jack

Die anc sal enige onderduimse taktiek volg om die swart inwoners in die wes kaap teen die da te draai. Dit is nog altyd sedert hul ontstaan hul manier van onetiese gedrag gewees en dit sal slegs verander as ons die wes kaap soewerein kan maak en ons eie polisiediens sonder korruptes kan aanstel. Ek bid vir daardie dag nog in my leeftyd.