ActionSA se ‘Fix it’ Mashaba wil misdaad pak

Herman Mashaba (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

Herman Mashaba, ’n voormalige Johannesburgse burgemeester wat homself “trots xenofobies” noem, is gereed om in die komende nasionale en provinsiale verkiesings te staan as ’n kandidaat wat wet en orde in ’n misdaadgeteisterde Suid-Afrika kan handhaaf.

Die president van ActionSA – en suksesvolle sakeman – sê die land is sedert die “magiese” jare van oudpres. Nelson Mandela aan die agteruitgaan, met verwysing na wydverspreide armoede, verkrummelende infrastruktuur en skrikwekkende moordsyfer.

“Ons stuur af op ʼn afgrond indien ons nie Suid-Afrikaanse kiesers mobiliseer om te keer dat hierdie land nóg ʼn mislukte Afrika-staat is nie,” sê Mashaba tydens ’n onderhoud met AFP by sy huis in Johannesburg.

Mashaba is een van ʼn groep leiers van nuwer, kleiner politieke partye wat ’n alternatief tot die ANC wil bied wanneer Suid-Afrikaners hul kruisies op 29 Mei in die nasionale en provinsiale verkiesings trek.

Mashaba, wie se party vir die eerste keer op die nasionale stembrief sal verskyn, het ʼn beeld as konserwatiewe Suid-Afrikaner wat gekant is teen ANC-“kommuniste” wat “nie in God glo nie”.

Hy beoog ook om weg te doen met regstellendeaksiebeleide wat swart indiensneming bevoordeel.

Die pak van misdaad en onwettige immigrasie is ook hoog op ActionSA se lys van prioriteite.

Mashaba bepleit ook strenger strawwe, waaronder dwangarbeid, asook veel strenger grensbeheer.

Herman Mashaba (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

Oor beskuldigings van xenofobie gedurende sy termyn as burgemeester van die Goudstad tussen 2016 en 2019, sê Mashaba: “Enigiemand wat hierheen kom met misdadige voornemens … jy is nie welkom in Suid-Afrika nie.

“As iemand my xenofobies noem, dan is ek ʼn trotse xenofoob.

Mashaba is destyds as lid van die DA tot burgemeester verkies. Hy het egter later as lid van die voorste opposisieparty bedank nadat hy en die leierskap koppe gestamp het oor die hantering van raskwessies.

Toe stig hy ActionSA in 2020.

Mashaba se nuwe party en sy voormalige politieke tuiste, na wie hy met min liefde as “beter duiwels” verwys, het hul albei verbind tot die Veelpartyhandves in die hoop om in samewerking met ander opposisiepartye ʼn nuwe koalisieregering ná die komende verkiesing tot stand te bring.

ActionSA het sowat 16% van stemme in 2021 in die munisipale verkiesing in Johannesburg op hom verenig. Ontleders voorspel egter dat die party gaan sukkel om dieselfde sukses in die nasionale verkiesing te behaal.

ʼn Ipsos-peiling wat verlede maand bekend gemaak is, plaas ActionSA se landwye steun op sowat 4%.

Mashaba is egter min gepla.

“Ons het hulle al baie verkeerd bewys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Luxrider ·

As hy in dwangarbeid glo vir misdadigers stem ek sommer vir hom. Tyd dat kriminele ophou om in 5 ster hotelle te bly

Veldskoen ·

Wel, Mnr. Mashaba se span is regtig besig om ‘n verskil in ons geneenskap te maak. Padtekens word herstel, sypaadjies word sommer uit hulle eie sak skoongemaak. Hulle het selfs die huidige administrasie begin kry om basiese dienste soos straatligte te herstel. Hy het definitief my stem.

Papsak ·

Wel Mashaba ons gemeenskap is ook besig om n vwrandring in te bring ons kan sonder julle verrig meer want meer verstand dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.