ActionSA skop teen Tshwane-begroting

Herman Mashaba, leier van ActionSA. (Argieffoto: Itumeleng English/ANA)

ActionSA gaan teen die Tshwane-metroraad se aansuiweringsbegroting stem, ondanks die feit dat dié party ’n ondertekenaar van die veelpartykoalisie is.

Die aansuiweringsbegroting sal Maandag deur Tshwane se munisipale raad vir goedkeuring voorgelê word nadat die stemming vir die begroting verlede week weens ActionSA se besware uitgestel is.

Die DA het intussen ʼn beroep op ActionSA gedoen om sy besluit “in die belang van dienslewering” te heroorweeg.

ActionSA meen dat hy deur die loop van die begrotingsproses belangrike vertoë aangaande sy diensleweringsprioriteite gerig het, wat bloot geïgnoreer is.

“Die aansuiweringsbegroting wat vandag [Maandag] in Tshwane ter tafel gelê word, het nie net versuim om bykomende fondse toe te ken om die oplossing van die Hammanskraal-waterkrisis te bespoedig nie, maar die begrotingstoewysing is met R65 miljoen verminder.

“Terwyl Tshwane daartoe verbind was om fase 2 van die projek voor 1 Julie 2022 te begin, beteken die impak van die vermindering van R65 miljoen vir fase 1 dat dit [fase 2] eers in Oktober vanjaar voltooi sal wees.”

ActionSA is ook vies dat ʼn voorstel van R98 miljoen vir watertenkwaens om informele nedersettings te bedien tot R20 miljoen verminder is.

Daar is verder ook ’n voorgestelde begrotingstoewysing dat R44 miljoen om informele nedersettings te hervestig, tot R6 miljoen verminder, terwyl die toewysing van R278 miljoen om die Mamelodi-vloedslagoffers te hervestig, uitgestel is.

Die party meen dít is maar net ʼn paar van sy voorstelle en projekte wat verminder of geweier is.

“Die gesamentlike uitwerking van die besluite wat in die aansuiweringsbegroting geneem is, was ’n sistematiese weiering van ActionSA se begrotingsversoeke wat met ons pro-arm- en pro-sake-diensleweringsagenda verband hou.

“As die party met ondersteuning in alle gemeenskappe, neem ons ons rol ernstig op om te verseker dat alle inwoners van hierdie munisipaliteite deur die regeringsprogramme gedien word.” ActionSA meen Tshwane kan nie pro-arm óf pro-sake wees as hy ʼn begroting verminder wat ten doel het om ʼn waterkrisis op te los waarmee inwoners van Hammanskraal en Rooiwal al 14 jaar lank sukkel nie.

“Die besluit word nie ligtelik geneem nie. Die impak daarvan om nie hierdie projekte te finansier nie, is werklik en ernstig vir die mense van hierdie gemeenskappe wat daagliks ly.” ActionSA sê onlangse verkiesingsbeloftes is boonop nog vars in dié inwoners se geheue.

“ActionSA se doel in veelpartykoalisies is nie om tot die diens van politieke partye of burgemeesters te wees nie, maar die inwoners wat in die munisipaliteite woon. Dit is hoekom ons vandag [Maandag] teen die aansuiweringsbegroting stem.”

Die DA het ActionSA Maandag gevra om sy besluit in die belang van dienslewering te heroorweeg en gesê dat die party verskeie geleenthede gehad het om insae te lewer.

“Dit is ’n begroting wat ActionSA elke geleentheid gehad het om te beïnvloed en met alternatiewe voorstelle na vore te kom. Ongelukkig het hul lede van die burgemeesterskomitee en raadslede versuim om dit te doen.”

Die DA sê die burgemeester Randall William het uitstel verleen sodat die koalisie die party se griewe en eise kon probeer verstaan en akkommodeer.

“Al die eise wat ter elfder uur gestel is, kon egter nie geakkommodeer word sonder om Tshwane se begroting te kelder en die stad se hele diensleweringsprogram in gevaar te stel nie.

“Die DA sal ’n laaste poging aanwend om ActionSA te oortuig om nie die koalisieregering te saboteer deur teen die aansuiweringsbegroting te stem nie. Ons hoop dat gesonde verstand, en ’n sin vir diens aan die mense van Tshwane, sal seëvier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stofdonkie

Raadslede moet wanneer hulle verkies is tot ‘n raad afstand doen van hulle politieke partye en as individue die gemeenskap dien. Die dag as dit kan gebeur behoort dienslewering te verbeter en bedrog te daal.

Jack

Nee wat.Koalissies is altyd ‘n probleem as dit by dienslewering kom.As gevolg van vertraging en tweespalk in die koalissie word diens in elk geval nie gelewer nie.Ja dit is beter as die ANC maar alles gaan maar oor geld en dienslewering kom ver ondertoe eers op die agenda.In die reenboognasie stem almal vir verskillende partye en die resultaat is juis dit wat ons nou hier sien gebeur.

Vonkprop

Klink my ActionSA het sy EFF broek aangetrek, want hulle maak dieselfde geluide op die oomblik.

Kokerboom

Is hierdie aksies moedswillig? Dis net “our people” wat hier ter sprake is wie in elk geval die minimum bydra! ASA behoort motivering agter veranderinge uit te vind en ophou punte “score”
Politiek bly ‘n euwel!!!

Jacobus

Die dae toe raadslede nog self moes werk, vir hul salaris en hul vrye tyd vir raadsvergaderings afgestaan het, het stadsrade nog gewerk.
Wie moet ons bedank vir die inbring van politiek in plaaslike rade, die NP!