ActionSA skort Khoza se lidmaatskap op

ActionSA het dr. Makhosi Khoza se lidmaatskap van die party opgeskort.

Die besluit is geneem op aanbeveling van die party se etiek‑ en dissiplinêre komitee, het Michael Beaumont, woordvoerder van ActionSA, gesê.

’n Ondersoek is na Khoza begin na ’n reeks openbare uitbarstings in Januarie vanjaar. Sy is onder meer daarvan beskuldig dat sy die party in oneer gebring het, doelbewus opgetree het op ’n manier wat die party negatief raak en op ’n wyse wat onenigheid in die party veroorsaak.

Die komitee was eenparig in sy besluit om Khoza op alle aanklagte skuldig te bevind en het die beëindiging van haar lidmaatskap aanbeveel.

Die getuienis wat teen Khoza gebring is, het talle openbare uitlatings en kommentaar aan die media ingesluit.

“Daar is geen redelike verduideliking vir haar voortgesette misbruik van die party nie. As ’n hooggeplaaste lid van die party verontagsaam sy die reputasieskade aan die party, vir oënskynlike publisiteit en eie gewin. Haar lojaliteit lê nie by ActionSA nie, maar eerder by die strewe om haar eie politieke aspirasies te laat groei,” is bevind.

In die verslag van 24 bladsye, dui die dissiplinêre paneel aan dat Khoza nie die getuienis wat voor die paneel geplaas is, betwis het nie. “In hierdie opsig het die paneel bevind dat Khoza geneig is tot samesweringsteorieë, aggressiewe gedrag en selfs voortgaan om die party te dreig om sy reputasie verder te skaad.”

ActionSA het gesê as ’n party kan hy nie die gedrag van sy lede waarborg nie, maar dat hy wel onaanvaarbare gedrag sal identifiseer en aanspreek.

“ActionSA koester geen kwade gevoelens teenoor Khoza nie aangesien sy ’n individu is wat ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse politiek gespeel het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Ou probleem vir vele partye al gewees selfs vir haar eie party

Vonkprop ·

ActionSA maak so ‘n groot storie van iemand van wie niemand nog ooit gehoor het nie en niemand gee basies om nie. ActionSA is net so deurmekaar soos enige ander party.

Pieter9 ·

Almal wat Politiek bietjie volg , weet van Dr Makhozi Khoza; en ons weet dat sy nog nooit ‘n ‘spanspeler’ was nie – maar dit blyk die probleem te wees van die meeste politici. As hulle nie die Pos kry wat hulle voel hulle verdien nie, is daar skielik ‘n probleem met hul party se beleid en is die party wat hul ‘n goeie posisie aanbied se beleid skielik die regte een.

piet ·

Omdat jy nog nie van haar gehoor het nie, beteken nie almal is ook so onkundig nie. Sy is welbekend.

Pietertjie ·

Hulle kan nie eens met mekáár oor die weg kom nie! Hoe gaan óns met hulle oor die weg kan kom? Politiek op sy beste.

Hennie J ·

n Werklik sprekende voorbeeld van niets wat dink sy is iets. Myle te groot vir haar skoene en n volslae mislukking toe sy SALGA se “chief chilli’ in KZN was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.