ActionSA soek duidelikheid oor Thabo Bester se bankrekeninge

Thabo Bester. (Foto: AFP)

Vrae word nou gevra oor hoe die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester daarin kon slaag om sonder ʼn geldige identiteitsdokument ʼn bankrekening vanuit die Mangaung-gevangenis te open.

Dit volg ná berigte dat Bester se bankrekening bevries is sedert die aanvang van die ondersoek na sy ontsnapping.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het vroeër vandeesweek bevestig dat Bester eers op 17 Mei vanjaar ʼn geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument ontvang het.

Dit is onduidelik of dit die eerste keer is dat ʼn geldige identiteitsdokument aan Bester uitgereik is, maar nietemin wil ActionSA hê daar moet duidelikheid oor die saak gegee word.

Patricia Kopane, ActionSA se provinsiale voorsitter van die Vrystaat, sê sy het ʼn skrywe aan die finansiëlesektorreguleerder (FSCA) gerig oor die “teenstrydige stories” rakende Bester se bankrekeninge en duidelikheid oor die situasie versoek.

“FSCA moet duidelikheid gee oor die stand van Bester se finansies en of daar ʼn skending van wettige finansiële praktyke was wat hom toegelaat het om sy ontsnapping te finansier,” sê sy.

Kopane voer aan dat die aankondiging wat deur die minister gemaak is, vrae laat ontstaan oor hoe Bester dit kon regkry om ʼn bankrekening te open. Daar is na bewering ʼn saldo van R872 miljoen in die betrokke rekening.

Ingevolge die Wet op Finansiële Intelligensiesentrums word daar van instellings vereis om alle verdagte finansiële aktiwiteite aan te meld.

“ActionSA wil weet of die betrokke bank nagelaat het om die wet na te kom toe ʼn bankrekening vir Bester geopen is,” sê sy.

“ActionSA verdra nie korrupsie of onetiese gedrag in die openbare én private sektor nie, daarom sal ons die kwessie opvolg en enige verdagte transaksies steeds bevraagteken.”

Die hofsake van Bester se beweerde medepligtiges in sy ontsnapping duur intussen voort.

Dr. Nandipha Magudumana, Bester se vriendin, het Vrydag gehoor dat sy nog ʼn naweek in die tronk moet deurbring nadat haar dringende aansoek om uit aanhouding vrygelaat te word tot volgende week uitgestel is.

Bester se saak is tot 20 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Is al die finansiele wetgewing nagekom met die opening van die rekening, seker ook amptenare omgekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.