Adam Barnard se familie vra vir gebed

Adam Barnard toe hy nog deel was van Romanz. (Foto: Facebook via Adam Barnard)

Die sanger Adam Barnard, voormalige lid van die gewilde mansgroep Romanz, het vandeesweek in ʼn koma verval nadat sy toestand versleg het.

“Bid net asseblief vir hom,” het Louis Barnard, Adam se pa, Saterdag gevra.

Hy het aan Maroela Media gesê dit het ʼn tyd lank goed gegaan met Adam, maar dat hy onlangs “baie swaar begin trek het”.

“Hy het weer ontsteking gekry, waarna hy onder verdowing geplaas is om te herstel,” sê Louis.

“Dinge het toe skielik net begin versleg.”

Adam (37) ontvang al geruime tyd dialise en ander mediese behandelings om hom aan die lewe te hou nadat hy nierskade opgedoen het.

Volgens Louis is Adam in ʼn kritieke toestand, maar dat dit moeilik is om te sê of daar enige verbetering of verslegting in sy toestand is.

“Die spesialiste by die hospitaal doen ʼn fantastiese werk en hulle doen alles in hul vermoë om te help.”

Adam se geliefdes het vir privaatheid gevra in hierdie moeilike tyd, maar hoop dat almal vir hom sal bly bid.

“Ons wil hê mense moet bid vir God se wil om te geskied,” sê Louis.

Adam wag reeds al vir ses jaar om ʼn nieroorplanting te kry en hoewel talle skenkers getoets is en deur voorbereidingstoetse gegaan het, het nog nie een van dié beplande skenkings gerealiseer nie.

Hy kry boonop gereeld ontsteking by die inlaat waardeur die dialise gedoen word, wat hoë infeksietellings tot gevolg het. Dit is glo algemeen by pasiënte wat dialise ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.