Adams ‘bedoel nie’ om Boucher uit te sonder

Paul Adams en Mark Boucher in hul speeldae. Foto: Anna Zieminski/AFP.

Paul Adams het op sosiale media bevestig dat hy nie in Mark Boucher se komende dissiplinêre verhoor sal getuig nie.

Vir Krieket Suid-Afrika (KSA) kan die nuus oor sy onbereidwilligheid amper met ’n onspeelbare goëlbal vergelyk word: Die 45-jarige oudspeler se getuienis tydens die transformasiesittings is immers een van die troefkaarte in die saak teen die beleërde Protea-afrigter.

Adams het toe aangevoer dat Boucher een van die spelers was wat hom in sy speeldae glo “brown sh*t” tydens spanvergaderings genoem het.

Maar in sy jongste verklaring het die voormalige Protea-draaier gesê dat dit geensins sy bedoeling was om Boucher uit te sonder nie.

“In my getuienis het ek aangevoer dat dit in die destydse spanomgewing oukei was om met neerhalende byname vorendag te kom. Ek het nadat ek die kwessie met my vrou – in daardie jare my meisie – bespreek het, aangedui dat ek vernederd deur die liedjie gevoel het. Ek het in geen stadium enige speler se naam genoem wat moontlik die liedjie geïnisieer het nie,” het Adams gesê.

Hy het bygevoeg dat hy slegs ’n naam genoem het toe die paneel hom uitgevra het of hy direk met Boucher oor die bynaam gepraat het.

Mark Boucher en Paul Adams vier Andrew Flintoff se paaltjie. Foto: Martyn Hayhow/AFP.

“Ek het geantwoord dat hy deel van ’n groter groep was wat die liedjie gesing het en dat ek nooit die kwessie destyds aangeraak het nie. Dit was glad nie my bedoeling om vir Mark Boucher uit te sonder nie.”

Volgens Adams was daar geensins sprake van kwaadwilligheid in sy getuienis nie; hy wou eerder toesien dat huidige en toekomstige spelers (ongeag hul ras) nie iets soortgelyks moet ervaar nie.

“Dit is nie my werk om Mark Boucher skuldig of onskuldig te bevind nie en onder kruisondervraging  in die kollig te wees nie,” het hy gesê.

“Daarom sal ek nie by die komende dissiplinêre verhoor getuig nie.”

In ’n vorige onderhoud ná die Proteas se reeksoorwinning teen Bangladesj het Boucher gesê dat hy die druk van die komende verhoor voel.

“Ek geniet dit baie om die ouens af te rig. Ons is ’n baie hegte eenheid en ek hou daarvan om die spelers se ontwikkeling te sien. Daarbenewens kan ek egter eerlikwaar sê dat dinge nie so aangenaam is nie. Ek dink niemand in my situasie sal daarvan hou nie.”

Twee arbiters het vroeër bevind dat die klagtes teen Graeme Smith – ’n oudspeler wat ook in die transformasieverslag uitgesonder is – geen gewig dra nie.

“Ek is dankbaar dat ek van alle blaam onthef is. In die afgelope 20 jaar het ek net my heel beste vir Suid-Afrikaanse krieket gegee – hetsy as speler, kaptein of administrateur. Om hierdie ongegronde bewerings van rassisme te hoor was uiters moeilik; nie net vir myself nie, maar ook vir my gesin,” het Smith in ’n verklaring gesê.

Terselfdertyd is KSA – wat maar sukkel om finansieel kop bo water te hou – vir al Smith se regskoste aanspreeklik.

Boucher se verhoor begin volgende Maandag.

  • Boucher het in ’n internasionale loopbaan van amper 15 jaar 147 toetse vir die Proteas gespeel. As paaltjiewagter het hy 555 kolwers  (’n wêreldrekord) uitgehaal en hy word as een van die beste spelers ooit agter die paaltjies bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Jean ·

Maar jy is bang om dit in ‘n hof te sê? Want as jy lieg kan jy tronk toe gaan.

piet ·

Dis nie ‘n leuen nie, Boucher en ander spelers het bevestig dat hulle hom spottenderwys so genoem het en so ‘n liedjie gesing het. Daar was geen kwade gevoelens met die ding nie.

Marius ·

Hy is besig om bog te praat. Dit is die uitkoms as jy leuns as die waarheid voorhou.

Althes ·

KSA, jul is werklikwaar pateties. Jul heksejag het jul aan die hakskeen gebyt. Kry vir julle.

Leon ·

Hoekom nou kop uit trek ? Skade klaar gedoen. Sal nou vir altyd as ongeloofwaardig beskou word. Self in die voet geskiet. Hoekom bang vir kruis ondervraging. Van die begin af gejok

SjN ·

Toe hulle hom vra hoe weet hy daar is van hom gepraat? Hy se toe hy was die enigste black wat daar was!!!

domheks ·

KSA – ek skaam my vir julle. Elke jan rap en sy maat trek die “RAS KAART” en julle val soos vrot velle daarvoor.

piet ·

Kyk, daar is geen twyfel dat hulle hom dit genoem het nie maar hy het self gese dat hy dink dit in spanverband as ‘n grap bedoel was maar dit het hom steeds seergemaak. Hy moes die storie by sy kaptein in sy speeldae uitgesorteer het dan sou niemand meer dit gese het nie. Die bedoeling was definitief nie rassisties gemotiveerd of bedoel om hom enigsins te na te kom nie.

Sobymykoolkop ·

Vertel ons dan asb Piet wat was Adams se bedoeling?

melaney ·

Adams sou beslis aanhou lieg maar het vinnig van besluit verander toe hy hoor die storie ge-openbaar gaan word.

casper ·

Ja nee — Baie praat en lieg en wanneer dit rerig tel is hulle onwillig om iets te doen behalwe weghol !!!!

Renier johannes ·

Hoe kom altyd ras kaart speel vir aandag pateties

Louise ·

Aandag soek op sy beste, jare later pla dit jou nou kamstig klaar mense om jou gebruik as stappies nou gooi jy hulle weg! ja nee kyk, steek jou vriend in die rug as hy nie kyk nie. Daai tyd het AL die spelers met MEKAAR spekgeskiet soos hulle dit noem, Maar ai dan word sekere mense uitgesonder oor hulle ras!

Sobymykoolkop ·

En dan probeer hy nog die skuld op sy vrou pak, hoe pateties is dit?

Mauritz ·

Nog ‘n “Ashwin Willemse” wat begin besef dat dit nie so maklik is om in ‘n hof of verhoor weg te kom met liegstories nie.

Samuel ·

Ek glo nogal vir Paul Adams dat hy nie kwaadwillig was nie. Weereens bewys van die media se rol om waninligting te versprei.

Boeretroos ·

Dagvaar die wit waks uit hom uit, vir naamskending en emosionele teistering , en dan kan boucher sommer vir KSA ook dagvaar vir viktimisering

Daleen ·

Na die saak teen Graeme Smith seker besef dat leuens word nie net geglo nie daar is onpartydige ondersoek. NOU SKIELIK, na maande van stilswye, verander sy storie of moet ek se liegstorie.

Dup ·

Hierdie aksies word vooraf fyn beplan om ontslae te raak van mense wie nie inpas by die regering/KSA se transformasie proses nie.

De Villiers ·

Dit is maar wat jong seuns en mans doen, ons gee mekaar neerhalende byname.

Manie ·

En daar trek KSA toe vanoggend alle klagtes teen Boucher onvoorwaardelik terug. Adams was seker te bang om te herhaal wat hy vir Boucher genoem het.

Sobymykoolkop ·

Dink hy was vreesbevange oor die regspan wat Rupert vir Mark aangebied het.

Jannie van Niekerk ·

Nou moet die borge net sorg dat die geld vir die hofsaak nie uit borggeld kom nie, maar direk van die KSA Bestuur se salarisse verhaal moet word.

Dries ·

Stem saam. Ek sal juig as dit van hulle salarise verhaal word.

Kobus ·

Waarom so lank wag meneer Adams? KSA skarrel nou seker lekker rond om “nuwe” getuies te kry. Terwyl spanlede mekaar “uithaal” en skerts , lag almal lekker saam. Anderkleuriges gee ook aan blanke spanmaats byname en almal geniet die “gees” Maar jare daarna,Wie is daai knaap wat kamtig verkies het om na die veld te hardloop as om in die bus te ry? Shame man. Kry ‘n “grip”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.