Adjunkhoof by landdroshof doodgesteek

Die ingang van die hof waar die voorval plaasgevind het. Foto: Verskaf

Die ingang van die hof waar die voorval plaasgevind het. Foto: Verskaf

ʼn 46-jarige beskuldigde is Vrydag vermoedelik uit weerwraak by ʼn landdroshof in Limpopo doodgesteek.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het by die Lenyenye-landdroshof buite Tzaneen plaasgevind.

“Die oorledene is ʼn adjunkskoolhoof en moes in die hof verskyn in verband met ʼn beweerde aanrandingsaak. Hy was in die hof en het gevra om verskoon te word sodat hy sy regsverteenwoordiger kan bel aangesien sy prokureur toe nie in die hof was nie,” het Mojapelo gesê.

Die oorledene is intussen geïdentifiseer as Shai Mapampole Hendrick. Hy was adjunkhoof van die Banareng Primary School.

“Die man is deur ʼn 36-jarige man by die ingang van die hofkamer met ʼn skerp voorwerp gesteek, net toe hy die oproep wou maak. Die blyk dat die voorval ʼn wraakaanval was.”

Die adjunkhoof het ná die aanval teruggeloop in die hof en deurgeloop na die landdros se kantoor, waar hy ineengestort en gesterf het.

Die 36-jarige man is dadelik in hegtenis geneem op aanklag van moord. Hy moet Maandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Foutjie ·

“Die man is deur ‘n 36-jarige man by die ingang van die hofkamer met ‘n skerp voorwerp doodgesteek… Die adjunkhoof het na die aanval teruggeloop in die hof en deurgeloop na die landdros se kantoor, waar hy ineengestort en gesterf het.”

Dan kon hy mos nie by die ingang doodgesteek gewees het nie? Dit insinueer dat hy dadelik net daar gesterf het.

Mariné Lourens ·

Dagsê Foutjie

Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

m ·

Feit van die saak is dat sekuriteit opgeskerp sal moet word want dit het n grap geword. Wat het geword van metaalverklikkers waardeer jy geloop het in die ou dae wat baie vining n mes sou opgestel het. Vandag se sekuriteit het nie eers n kettie om hulle te verdedig nie. Soos gewoonlik word daar eers gewag vir so iets om te gebeur dan is almal in rep in roer oor sekuriteit opskerp.

Speedguard ·

Hulle smokkel dan vuurwapens na die hof selle toe, die sekuriteit, metaal verklikkers is alles net vir die klug, die meeste korupsie en omkopery is by die howe aan die orde van die dag, dosiere raak net dood eenvoudig weg, tolke reel met die beskuldigdes en die ondersoek beamptes om die saak “uit te sorteer”, alles is ‘n klugspel, die arme ou wat nie aan die bedrywighede deel neem nie of nie wil saam werk nie word deur sy mede gevangenisse uit gesorteer!

Jaco ·

Ek wens karma wil meermale geregtigheid so goed toepas. Dié saak sou maand na maand, maklik vir 2 jaar of meer, gesloer het, en dan sou hy 6 maande opgeskort vir 2 jaar n miskien n R1000 boete vir aanranding gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.