Die adjunkhoof van die skool van wie talle leerlinge met dié week se veerbootramp by Suid-Korea omgekom het, het selfmoord gepleeg na hy self van die sinkende skip gered is.
Die veerboot het Woensdag omgeslaan en gesink. Van die 475 mense aan boord van die veerboot, was 352 leerders van Hoërskool Danwon. Die leerders was met ‘n uitstappie op die boot toe die ramp plaasgevind het. Die bevestigde dodetal staan op 28 met 268 mense wat steeds vermis word en 179 wat gered is.
Die polisie sê hulle het Vrydag op die liggaam van Kang Min-Kyu, die adjunkhoof van die skool, afgekom. Hy was ook op die boot maar is gered. Volgens berigte het hy homself aan ʼn boom opgehang by ʼn gimnasium waar die vermiste persone se families bymekaar gekom het.
Soek- en reddingspogings gaan intussen voort.