Adjunkminister bots met stadsrade oor munisipale geldbestuur

geld 4 kontant rand

(Argieffoto)

Die adjunkminister van finansies, dr. David Masondo, het Dinsdag in die parlement gestaan by sy oortuiging dat dit onverantwoordelik sou wees om nog meer geld te bewillig vir munisipaliteite wat reeds nie daartoe in staat is om hul huidige begrotings te bestee nie.

Die geleentheid was ʼn interaksie tussen die kabinet, stadsrade en die Nasionale Raad van Provinsies as deel van die parlement se fokusweek op plaaslike regering.

In sy inset het Masondo dit betreur dat soveel stadsrade nie daarin slaag om skuld in te vorder van inwoners nie. Hy het toegegee dat die nasionale en provinsiale regerings, sowel as staatsbeheerde ondernemings, stadsrade miljarde skuld, maar het gesê die onvermoë om skuld oor die algemeen in te vorder, is ʼn groot terughoudende faktor vir stadsrade oor die algemeen.

Verskeie verteenwoordigers van ANC-beheerde stadsrade, insluitend Polokwane, het Masondo behoorlik ingevlieg. Sommige beweer stadsrade kry nie genoeg erkenning vir die werk wat hulle onder moeilike omstandighede doen nie, en meen die regering moet selfs meer geld vir hulle gee om dienste mee te lewer.

“Die munisipale inkomstetoelae (MIG) is byvoorbeeld onvoldoende. Dit word bestee op nuwe projekte, met die gevolg dat instandhouding van infrastruktuur agterweë bly,” het een afgevaardigde aangevoer.

Masondo het egter vasgeskop en gesê die omvang van munisipale skuld wys op tekortkominge in die betrokke munisipaliteite se besture en strukture.

“Dit verskaf maar dun ys vir die toestaan van verdere geld aan sulke munisipaliteite,”  het die adjunkminister gesê.

Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het in haar terugvoer indirek by Masondo aangesluit deur te sê as instandhouding binne die MIG so ʼn uitdaging is, moet instandhoudingsgeld dalk vooraf daarvan afgetrek en afsonderlik toegewys word.

Dlamini-Zuma het in haar toespraak gesê skuld aan munisipaliteite beloop R181,3 miljard, waarvan R28,9 miljard geskuld word deur sake-ondernemings, en R18,1 miljard deur die staat.

Munisipaliteite skuld op hul beurt R11,3 miljard aan Eskom en R6,4 miljard aan waterrade.

Onderbesteding is, ironies genoeg, die ergste in gebiede waar die grootste armoede heers.

Volgens Dlamini-Zuma is 46 van die land se 257 munisipaliteite tans onder administrasie, en moet die huidige finansieringsmodel vir munisipaliteite heroorweeg word met die vraag of dit werklik beantwoord aan die doel.

Sowat 91% van munisipaliteite het die afgelope finansiële jaar die tersaaklike regulasies oortree, soos om tot vyf keer meer as die gangbare markprys te betaal vir beskermende mediese drag tydens die grendelstaat.

As oplossing doen die regering die distriksgebaseerde bestuursmodel aan die hand, met die distriksrade OR Tambo (die sentrale en suidelike dele van die Transkei) en Waterberg, sowel as die Ethekwini-metro in Durban wat as proefkonyne gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Doe probleme het begin toe die ANC, om steun vir sy de-stabiliserende veldtog teen die vorige regering via “rates and tax boycots”, hulle ondersteuners belieg het deur te verkondig dat die blankes alles verniet kry maar dat die NP swartes laat betaal. Die ANC het belowe as hulle aan bewind kom dat swartes ook dienste gartis sal kry. Wat jy saai sal jy maai. Die ANC het onbestendigheid en geweld gesaai, nou maai hulle en die hele bevolking die nagevolge. Daar is absoluut geen manier hoe die ANC die gemors kan beredder nie. Hulle ploeter nog gedurig op die ingeslane pad voort en wil ook nie na goei raad luister nie. Daar is net een oplossing: Die ANC moet weer verban word.

Albert Willem ·

Dis baie waar want jy as witte betaal nou meer vir krag en water

Persheks Adri ·

Geen instandhouding hier by ons nie. Jy ry asof jy dronk is om verby die pot holes te kom…

#Tsek kopdoek tsek

Jakes ·

Ons munisipaliteit is lankal bankrot. Slaggate is diep genoeg om bungy spronge in uit te voer.

Dirk Mostert ·

Die minister het sy prioriteite verkeerd. Wees dankbaar dat sommige munisipaliteite nie hul volle begroting spandeer nie. Spaarsaamheid is ‘n deug! Ek probeer ook om binne my begroting te lewe. Tree liewers op teen munisipaliteite wat oorbestee, al dieper in die skuld raak en o.a. voorafbetaalde Escomgeld verduister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.