Adjunkminister in pekel oor R180 000-geskenk

Zizi Kodwa. (Argieffoto: ANA)

Een van die ANC se belowendste jonger leiers is kniediep in die pekel nadat dit aan die lig gekom het hy het R180 000 van ʼn hoogs omstrede sakeman ontvang.

Die betrokke politikus is die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa. Hy het destyds as lid van die ANC Jeugliga ʼn sterk bydrae gelewer en was daarna suksesvol as die ANC se nasionale woordvoerder, waarop sy adjunkministerskap gevolg het.

As adjunkminister van die departement wat die land se spioene beheer, is hy ook ʼn hegte vertroueling van pres. Cyril Ramaphosa. Toe Ramaphosa sowat twee weke gelede virtueel vergader het met joernaliste en die ontmoeting regstreeks op televisie uitgesaai is, was dit trouens Kodwa wat deur die president met die voorsittersrol toevertrou is.

Maar nou wil dit voorkom asof hy skeefgetrap het deur R180 000 in kontantbetalings te aanvaar van die maatskappy Blackhead Consulting, wat berugtheid verwerf het met sy hantering van ʼn projek ter waarde van R200 miljoen om die aantal huise met asbesdakke in die Vrystaat, sowel as die toestand van daardie dakke, vas te stel.

Blackhead se hantering daarvan het daarop neergekom dat hy geen werk gedoen het nie, maar op sy beurt die taak uitgekontrakteer het aan ʼn ander maatskappy vir R44 miljoen. Blackhead het dus R156 miljoen in sy sak gesteek vir presies geen werk nie en die kwessie dien tans voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping (die Vrystaatse asbes-sage het nog ʼn lang korrupte stert, maar dis nie nou hier ter sprake nie).

Blackhead is die einste mense wat die R180 000 tussen 2015 en 2017 aan Kodwa oorbetaal het in verskillende bedrae. Maar Kodwa beweer daar is niks vreemd of verkeerd daarmee nie – dit is ʼn geskenk want die hoofamptenaar van Blackhead, Edwin Sodi, is ʼn vriend van hom.

Trouens, Kodwa beweer hy word geteiken deur mense (spesifiek in die Vrystaat) wat wel korrup opgetree het en nou wil voorkom dat hulle, in Kodwa se woorde, “oranje oorpakke kry” deur ander mense met modder te gooi. Dit is dus volgens hom ʼn manier vir ander om uit die tronk te probeer bly deur die aandag van hulself te probeer aflei.

Dat Kodwa nog heelwat vrae oor hierdie gulhartige vriendskap van twyfelagtige formaat sal moet beantwoord is verseker, maar die kopseer is nie net syne nie.

Ramaphosa, wat die afgelope paar maande gereeld ministers wat veronderstel is om aan sy kant van die kabinetsverdeling te wees, moes dissiplineer (Tito Mboweni van finansies, Stella Ndabeni-Abrahams van kommunikasie en Nosiviwe Mapisa-Nqakula van verdediging) het nog nie aangedui wat hy met Kodwa gaan doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anne-Marie ·

…. 3 maande sonder salaris, en Blackhead Consulting sal daarvoor opmaak, maklik, probleem opgelos!!

Kerneels ·

Die vraag is: het hy toentertyd hierdie skenking(s) verklaar soos wat hy veronderstel was om te doen?

MakersMark ·

Maak nie saak hoe “slim”, flashy, upward mobile wanneer die bribes wink spring hulle.

Persheks Adri ·

Ek sien nog GEEN kader vir korrupsie in ‘n oranje pakkie nie! Cyril sê hy’s ernstig, maar nog leë beloftes soos altyd. Hy gaan ook niks oor kom nie nes die res van hulle

Nie Verbaas ·

Dis een van oom Cyril se maatjies. Wag vir die verduideliking oor die skenking. Ons gaan le soos ons lag.

Kokerboom ·

Adv Batoyi is die vlieg in die salf. Maak bietjie vuur onder haar…sy “perform” nie!!!!

Chris ·

Pragtig om te sien dat terwyl almal koek moet eet, die beloofde “radical economic power transformation” ‘n omvattende plan is, wat vir die uitverkorenes werk!

Adeline ·

Mos gesê as jy Black Matter is – ‘n kriminele rekord het van hier tot in Timba Too, en jy is kreatief in die uitvoer van korrupsie – dan staan jy in lyn vir ‘n ministers aanstelling in ‘n pos, want werwing van die tipe hoë kwalifikasies bepaal dit asook jou opleiding en uitvoering daarvan tel in jou guns.

Kokerboom ·

As warm geld by een deur inloer, haas die kaders se integriteit( meestal gebrek daaraan) en verantwoordelikheid uit by die ander deur!

MakersMark ·

Nou dat die haas uit die hoed is, is niemand skuldig nie. Alles is normaal was net ‘n geskenk. En daar is die wat EINTLIK korrup is wat hom die vlekkelose victim wil verontreg om die aandag van die WARE skelms af te trek. Wonder of die mense nooit moeg raak vir lieg nie want ek, en ek glo baie ander landsburgers is moeg om na verskonings en liegstories te luister. Daar is geen hoop vir die organisasie/politieke party nie alles is op leuens gebou hul lewe leuens elke dag. Ons weet wie die vader van die leuen is……

ES ·

Belowendste want hy begin sommer al vroeg met korrupsie. Kan maar net my kop skud.

koos10 ·

Maar my liewe Zizi, dis mos ANC beleid. As jy uit gevang word, gooi jy soveel modder in die hoop dat alles teen jou verdwyn. Apartheid en ou Jan het mos die skuld vir alles wat fout gaan gekry, maar nou is dit bietjie afgesaal, daarom kom jy en jou kaders nou aan die beurt. Zuma het dit goed vir almal geleer.

Pieter ·

Gelukkig is min mense deesdae verbaas as ek sê ek het absoluut zero respek vir regering / anc.

Genis ·

Korruptes gaan gewoonlik tronk toe…simier… veral in so posisie… O nee wag, hy gaan bevorder word in die ANC…

Pieter J ·

Vir die spul ANC kaders is hierdie ou bedraggie mos kleingeld so hulle verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie.

Johann ·

Ek dink rerig dis n nuwe klasifikasie van psigopatiese leunaars wat besig om in die ANC te manifesteer? Lieg so goed hulle glo hulle self EN verwag dat die res van die wêreld net so disfunksuoneel is om hulle te glo? En dan natuurlik die ander gunsteling….issi ekki…..is hulle en huule is stouter as ei so hulle moet raas kry? Se ALS van die “karakter” van prez Ramposa as sy naby comrades by herhaling so optree. Laat ny NIE vertel ons prez is die onskuld en eerlikheid van self nie. Soort soek soort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.