Adjunkminister ontvoer: Vier vas

Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste. Foto: Flickr/GovernmentZA

Vier verdagtes is in hegtenis geneem nadat Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, en twee veiligheidswagte Sondagaand ontvoer en later in ʼn veld naby Brits in Noordwes afgelaai is.

Die polisie het Vrydag in ʼn verklaring gesê ʼn taakspan bestaande uit lede van die SAPD se eenheid vir georganiseerde misdaad, speurdienste en misdaadintelligensiedienste, het vandeesweek onverpoos gewerk om die ontvoerders vas te trek.

Maroela Media het vroeër berig Makwetla het Sondag omstreeks 19:30 die Life Riverfield-hospitaal in Johannesburg besoek en met twee veiligheidswagte van die hospitaal staan en praat toe vier onbekende mans hulle genader het. Die verdagtes het vuurwapens op hulle gerig en in ʼn voertuig gedwing.

Hulle het eers na ʼn onbekende huis gery waar Makwetla van sy selfoon, beursie en ander persoonlike besittings beroof is, voordat hulle hom na ʼn kitsbank geneem en gedwing het om geld te onttrek. Die verdagtes het Makwetla en die veiligheidswagte daarna in die Madidi-gebied in Noordwes afgelaai en weggejaag.

Volgens die polisie het hulle betroubare inligting oor die verdagtes wat by die voorval betrokke was, bekom en die eerste verdagte, Brandon Mashigo (24), is Maandag omstreeks 18:00 in Ga-Rankuwa in hegtenis geneem. Hy het reeds in die Pretoria-landdroshof op aanklagte van motorkaping en ontvoering verskyn, waar die saak uitgestel is.

Mashigo was glo uit op borgtog in verband met ʼn soortgelyke voorval toe hy in hegtenis geneem is. Vanoggend tussen 02:00 en 06:00 is nog drie verdagtes onderskeidelik in Atteridgeville, Montana en Chantelle in Pretoria in hegtenis geneem. Daar is ook op ʼn vuurwapen en ʼn polshorlosie beslag gelê.

Die drie verdagtes sal Maandag saam met Mashigo in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Dit is goeie nuus dat kapers so vinnig vasgetrek word in SA. Indien die gekaapte ‘n belangrike persoon sou wees, sal dit seker nog vinniger gedoen word.

w ·

alle polisie in SA het seke na die skurminkels gesoek maar gewone burgers se aanvallers en moordenaars word vrygelaat indien hul gevang word?

marous ·

Was op borg uit vir soorgelyke klagtes ? Hy moet nou op waarskuwing vrygelaat word sodat die agbare die frustrasie van die gewone mense kan voel … as hy hom gou weer op straat gewaar.

SeMaarNet ·

Ek stem Marous – maar hierdie is weer ‘n SPIEEL HELDER VOORBEELD van diskriminasie en ‘n duidelike voorbeeld dat daar onderskei word onder slagoffers! Misdaad kan in kategoriee opgedeel word bv: Misdaad teen regeringslede – 24uur – almal op diens – hoogste prioriteit – en dan plaasmoorde – geen tyd – geen voertuie – los maar – moenie probeer om die skuldiges aan te keer – daars tog nie bewyse nie en dis heeltemal te harde werk vir die plaaslike hopelose polisiestasies …. Maar niemand sal dit erken nie!

CHRISTA ·

Hy moet ‘n bietjie met sy president praat wat so “breg” dat misdaad in ons land afgeneem het!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.