Adjunkminister van arbeid in hospitaal weens Covid-19

Adjunkminister Boitumelo Moloi (Foto: Twitter)

Boitumelo Moloi, adjunkminister van arbeid, is vandeesweek in die hospitaal opgeneem nadat sy positief getoets het vir Covid-19.

Phumla Williams, woordvoerder van die kabinet, sê in ’n verklaring Moloi is Dinsdag in die hospitaal opgeneem nadat sy begin sleg voel het. Sy het Woensdag haar toetsuitslae ontvang.

“Adjunkminister Moloi bly in die hospitaal, sy herstel goed en is vol vertroue dat sy die virus sal oorkom. Alle lede van die adjunkminister se kantoor wat met haar in aanraking gekom het, sal hulself afsonder,” het Williams gesê.

Obed Bapela, die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, het intussen ook positief getoets vir die koronavirus.

Adjunkminister Obed Bapela (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Volgens Williams het Bapelo hom vandeesweek vir die vierde keer sedert die uitbreking van Covid-19-pandemie laat toets nadat hy sommige simptome begin toon het.

Die adjunkminister het sy toetsuitslae Saterdag ontvang en is tans in selfisolasie.

Williams doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om hul hande gereeld te was, maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf om hulle en hul geliefdes sodoende teen die koronavirus te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.