Adjunkminister van polisie gaan gevalle polisieman se familie besoek

Burger Holz. Foto: Facebook

Burger Holz. Foto: Facebook

Maggie Sotyu, adjunkminister van polisie, gaan Vrydag die gesin van ao. Burger Holz (49), wat Woensdag op die N2-snelweg in Kaapstad vermoor is toe sy motor glo ʼn versperring in die pad getref het, besoek.

Die minister sal ná die besoek die media by die Somerset-Wes-polisiestasie toespreek en na verwagting meer lig werp oor ʼn vlaag van soortgelyke aanvalle op dié snelweg, wat intussen die N2 Hell Run gedoop is.

Vele voorvalle is die afgelope tyd op die snelweg aangemeld waar mensgemaakte versperrings in die pad geplaas word. Motoriste word dan aangeval en beroof wanneer hulle stilhou as die voertuig die versperrings tref en die bande beskadig word.

Holz, wat betrokke was by die Valke se eenheid vir kommersiële misdaad, is vermoedelik die jongste slagoffer van dié tendens.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Holz was die oggend op pad werk toe, toe sy motor versperrings in die pad getref het. “Hy het noodgedwonge stilgehou om ondersoek in te stel, waarna hy deur twee mans aangeval is,” het Mulaudzi gesê.

Kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het kort ná die voorval gesê dat die beampte nie in sy motor was toe hy verskeie kere met ʼn mes gesteek is nie. Volgens berigte het hy sy motor se band omgeruil.

Holz is op die toneel dood verklaar.

Genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende polisiehoof in die Wes-Kaap, het sy medelye met die beampte se familie, vriende en kollegas uitgespreek.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, kapt. Kenneth Speed, by 082 411 2127 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Winston ·

Besoek sy familie ja, maar met die belofte dat die skuldiges aangekeer gaan word. Bring die doodstraf terug want lewe van wetsgehoorsame burgers is niks werd nie. Waarom het n krimineel mense regte? Hang moordenaars in die openbaar anders gaan dit net erger word.

pop ·

Kriminele regeer die land. Daars nie brieke aan hulle nie want daars geen afskrikmiddel nie. Maar die hooggeplaastes voel dit nie want hulle het elkeen klomp wagte om hulle. Al hoe die wette sal verander is as hulle self die dinge kon beleef. Laat n minister se vrou of man nou so langs die pad doodgemaak word dan het die poppe gedans. Of laat daar huisbrekers hulle oumas en oupas in hulle huise aanrand en vermoor. Nee dan was die doodstraf al heringestel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.