Adjunkpresident meen partytjie vir Ace is sommer bog

David Mabuza. (Foto: ANA)

Adjunkpresident David Mabuza het hom uitgespreek teen die beplande afskeidsfunksie van R20 miljoen wat die Vrystaatse provinsiale regering wil hou vir Ace Magashule, voormalige provinsiale premier en huidige sekretaris-generaal van die ANC.

Die EFF het Mabuza Woensdagmiddag tydens ʼn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies gepeper met vrae oor hoe dit aanvaarbaar kan wees dat sulke bedrae uitgegee word op ʼn afskeidsfunksie, terwyl die land soveel arm mense het en soveel ekonomiese probleme in die gesig staar.

Hiermee het Mabuza saamgestem. “Dit is korrek om hierdie kwessie op te haal. Ons moet hulpbronne korrek gebruik.

“Ek sal dit opneem. Daar was geen afskeidspartytjie vir my in Mpumalanga nie en ek oorleef heel goed. Ons sal diegene wat by hierdie planne betrokke is maar moet oortuig om die geld korrek aan te wend,” het Mabuza gesê.

Die adjunkpresident het ook toegegee dat die staatsdiens nie optimaal funksioneer nie.

“Dit raak tyd dat ons mense in die staatsdiens aanstel wat geskik is vir hul taak. Alte dikwels kan hulle hul werk nie behoorlik doen nie. Ons moet ʼn beter staatsdiens oplei,” het Mabuza gesê.

Die vraesessie wou maar net nie klopdisselboom vir Mabuza verloop nie. Die DA-LP Jacques Julius het Mabuza ook uitgevra oor ʼn saak wat die gemeenskap van Badplaas in Mpumalanga teen hom gemaak het oor die beweerde onwettige oordrag van grond toe hy die provinsiale LUR vir landbou was.

Mabuza het gesê dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) alle klagtes teen hom laat vaar het. As enigeen ʼn klagte teen hom wil lê oor enigiets, kan hulle gerus so maak, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Selfbeskikking ·

Daardie bedrag is van ons belasting. Ons kan n hele skool bou met daardie geld wanneer ons suksesvol onderhandel het vir selfbeskikking. Ons moet ons eie eerstewereldland skep waar ons veilig is en nie selektief vervolg word nie, dis ons reg en die buiteland weet dit.

Bosveld ·

Pleks gebruik hulle die geld en betaal die agterstalige skuld aan Eskom.

Alida ·

Hoeveel mense moet R20m se kos opeet. Daar kon n paar gedienste huise daarmee gebou word maar nee eet wil hulle eet. Skande!

pietman ·

Hoe kan R20 miljoen net so “rondlê” om gebruik te word. Is daar begroot vir die funksie. Is die besteding opgeweeg teen ander prioriteite? Hoe sou daarvoor begroot kon gewees het in die vorige boekjaar? Wat is die moontlikheid dat dit ongemagtigde uitgawes is? Hoekom vrae media nie die vrae nie? Ek hoop die Adjunkpresident hou by sy woord om dit op te neem – ek hoop ook EFF hou dit dop – ek hoop seker te veel.

Paul ·

As dit is wat vir sy afskeid spandeer gaan word , wonder ek wat Cyril vir sy verwelkoming gaan uithaal.

Potlood ·

Die skole het nie toilette nie maar julle party… Weereens wys dit net weer julle ware kleure!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.